Gedagte vir die dag | Vrydag 30 April 2021

1 Kor. 15:57: “Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Die gedeelte, of die skildery waarna ek verwys is op die foto wat die stemboodskap vergesel.

Die skilder se naam is Moritz August Retzsch.  Hy het ’n skildery geskilder en die naam is “Checkmate”.  Dit gaan oor ’n skaakspel tussen ’n jong man en die duiwel. Sy onsterflikheid was op die spel, en dan demonstreer die toneel hoe die duiwel, met ’n uitdrukking van genot op sy gesig, die jong man in skaakmat plaas.  Hy wil eintlik sê: Ek het jou!  ’n Mens kan dit op die duiwel se gesig sien.  Die jongman se gesigsuitdrukking is een van wanhoop – hy weet hy is vas en daar is skynbaar geen ander skuif wat hy kan maak nie.  Hulle vertel dat ’n beroemde skaakspeler die skildery noukeuring ondersoek het, en ’n skaakbord opgestel met die skaakstukke presies soos dit in die skildery voorgestel is.  Hy het die saak bekyk en dit lyk my hy was ’n beter skaakspeler as die skilder, want hy het besef daar is ’n skuiwergat, en dat die nederlaag in ’n oorwinning omskep kan word. Deur net een skuif, kon die jongman die duiwel totaal uitoorlê.

Ek het weer nuut gedink in my voorbereiding oor wat beteken Jesus se oorwinning oor die dood en die feit dat Hy opgestaan het? Ek vra myself dikwels die vraag:  “Watter verskil dit in my lewe maak? Maak dit regtig ’n verskil?

Ons weet die Christelike geloof staan en val by die kruis, maar eintlik by die opstanding en die oop graf.  En dan in 1 Kor. 15 praat ons daaroor dat ons die dank aan Jesus Christus gee, want hy het die dood oorwin.  Die oorwinning is behaal in vers 55. “Dood, waar is jou oorwinning,  dood waar is jou angel?”  Die hele gedeelte handel oor die oorwinning wat Christus oor die dood behaal het, en dis amper wat in die skildery gebeur as ’n mens dit nou so wil interpreteer dat die einde daar was en dat daar nie uitkoms was nie.  Situasies waarin ons onsself bevind of die lewe laat ons dikwels voel dat daar nie uitkoms is nie.

Dit vir my so ’n mooi beeld waar die skaakspeler sê: Nee daar is ’n uitkoms!  Dis wat aan die kruis gebeur het.  Ons kan amper verwys na die skaakspel van die lewe.  Maar ons kan sê op Golgota is die skuif gemaak wat vir ons die hoop gee dat Christus oorwin het.  Daarom kan ons saam met 1 Kor 15:57 bely en dankie sê dat Jesus ons die oorwinning gegee het.  Liewe broers en susters wees standvastig en  onwankelbaar, wees altyd oorvloedig in dit wat jy doen, want daar is ’n oorwinning behaal. Jesus gee ons dit, al voel ons negatief, al kan ons nie sien dat daar ’n uitkoms is nie, kan ons sien dat die Here se opstandingskrag in ons lewens sal wees.

Gebed

Here dankie vir U oorwinning aan die Kruis met die graf wat oop was. Help ons om daardie perspektief voortdurend voor oë te hou. Amen.