Gedagte vir die dag | Donderdag 29 April 2021

Matteus 20:25-28: “Jesus roep hulle toe nader en sê: ‘Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.’”

Ek was onlangs by iemand wat ’n diep teleurstelling beleef het. Miskien was dit meer ’n frustasie oor iets wat nie lekker uitgewerk het nie. Ek het tydens die voorbereiding vir die stuk nagedink oor hoe mense hul teleurstellings, mislukkings, of frustasies verwerk?

Dis dalk nie so algemeen bekend dat die meeste Nazi-leiers voor die laaste wêreldoorlog, groot persoonlike ideale gekoester het en wat nie gerealiseer het nie. (Dis maar wat ek lees, nie seker hoeveel daarvan waar is nie.) Hitler het probeer skilder, Goebbles wou graag dramas en poësie geskryf het, Rosenberg het ideale as argitek en filosoof gehad. Von Shirach as digter, Funk as musikus, en Steicher wou graag as skilder naam maak. En hulle sê ook dat op daardie terreine was hul almal maar eintlik mislukkings. Hulle het toe by die politiek betrokke geraak met katastrofiese gevolge. Dit lyk amper asof hulle in ’n stroom beland het, wat tot gevolg gehad het dat hulle lewens in ’n rigting ingeneem het.

Dit het al baie meer kere in die geskiedenis en in ander kontekste gebeur. Baie talentvolle mense het betyds tot bekering gekom, daar is so baie verhale soos byvoorbeeld die van  Milton wat in 1640 ’n belowende digter was, maar hy het hom besig gehou met die skryf van nuttelose pamflette tydens die revolusie.  Eers lank daarna het hy sy voete gevind, en sy bekende werke “Paradise Lost” en “Paradise Regained” geskryf en daardeur ’n ongelooflike invloed op mense se denke gehad.

Die gedeelte wat ons gelees het, was ’n bekende deel rakende die twis wat onder die dissipels geheers het oor die amper onselfsugtige ambisies van Jakobus en Johannes. Hulle twee was swaar gewigte in Jesus se kring. Senior ministers in Jesus se Kabinet.  Gelukkig het Jesus hulle geken en geluister wat in hul harte aangaan.  Hy het hulle tot hul sinne gebring.  Soos in ons teksgedeelte: “elkeen van julle wat in julle kring is moet ’n dienaar wees, die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar gekom om Sy lewe as losprys vir baie mense te gee.”

Ek het gister verwys na persoonneellede van wie ons afskeid geneem het.  Ds. Why Duvenhage,  my kollega het oor Bernie van Wyk gesê: “Die een ding wat van Bernie uitstaan, is sy diensbaarheid, hoe hy mense gehelp het.” Ek kan nou nie presies onthou hoe lank Bernie by ons gewerk het nie, maar ek kan nie onthou dat Bernie ooit gesê het iets is te veel moeite nie, en hy het alles met ’n vriendelike gesig aangepak.  Dis so mooi om met mense te doen te kry wat iets van diensbaarheid verstaan.

Dis wonderlik om iets daarvan te verstaan – hoe kan ek mense help, vir mense diensbaar wees? Hoe kan ek sommer net sit en luister? Ek sukkel op die oomblik met my stem, en ek moet minder praat, want hoe meer ek praat hoe seerder raak my keel.  Ek het nou agtergekom dat wanneer ek mense besoek ek min luister en hoe ek sukkel om net te luister.  Om by mense te sit en hulle net te hoor.  Mag elkeen van ons die genade hê om meer na mense te luister, om net vir hulle diensbaar te wees. Mag dit in my lewe en in jou lewe waar wees.

Gebed:

Here gee vir ons die genade om nie gefrustreerd te raak wanneer dinge nie vir ons uitwerk soos ons dit wou hê nie, maar help ons om diensbaar te wees en om meer te luister.

Amen