GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Sondag 28 Maart 2021

Mat 26:26. En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

GEDAGTE

Woensdag het ons gehoor dat daar regdeur die Nuwe Testament ’n viervoudige ritme is by die instel van die Nagmaal: Jesus neem die brood en seën dit (of dank God daarvoor). Daarna breek Jesus die brood en gee dit aan: Neem, seën, breek en gee. Elkeen van hierdie woorde is gelaai met betekenis.

 Neem

Jesus neem dit wat ons na Hom toe bring. Ons offer wat ons kan bring: Ons vis, ons duiwe, ons skape.  Maar hierdie offer is altyd volledig persoonlik.  Dit is ons. Ons sondes en ons deugde, alles wat ons is, selfs as dit nie veel is nie.  Augustinus het vir sy nuwe belydende lidmate, kort na belydenisaflegging gesê:  “Daar is julle op die tafel – julle is die brood.  Daar is julle in die beker – julle is die wyn.”  Ons offer onsself en Jesus neem dit aan. Hy weier niks van wie ons is, of wat ons gedoen het nie.

Seën of dank                                                                                     

Wat ons aan Jesus offer, offer Jesus tot God met danksegging. Euchariste, die Engelse woord vir Nagmaal beteken danksegging. God ondersoek ons nie vir foute en swakhede om ons dan te kritiseer of te verwerp nie.  Terwyl Jesus die Laaste Maaltyd saam met sy dissipels gevier het, het Hy aan hulle verduidelik dat die brood en die wyn terselfdertyd sy lewe, sy vlees en bloed was en dat hulle deur hulle gebruik daarvan besig was om Hom te ontvang.  Tydens die viering van die Nagmaal word ook ons offers, ons sélf, as lewende en heilige offers daarby ingesluit.

Breek

Die geskenke wat ons na die Nagmaalstafel en na God toe bring, bly nie dieselfde nie.  Dikwels kom ons vol van onsself by die Here aan.  Maar die Jesus wat ons red, ontmasker al ons valshede.  By die Nagmaalstafel word ons nie toegelaat om toegesluit, selftevrede en selfgenoegsaam te wees nie.  God breek ons trots en valsheid oop en hy open ons vir sy genesings- en verlossingswerk.  Wanneer God ons soos brood breek, ontdek ons dat God diep binne ons aan die werk is.  Aan die kruis is Jesus se liggaam as ’n offer gebreek sodat sy lewe die verlossing van die wêreld kon word.  Hierdie “breek” van die Nagmaal maak dit vir ons onmoontlik om te dink dat ons onsself kan red. Enige selfhelp-programme van verlossing is vanuit die staanspoor verdoem!

Gee

Jesus gee dit wat ons na Hom toe bring terug.  Hy gee wie ons is aan ons terug.  En ons ontvang wat Hy ons gee.  Maar dis nie meer dieselfde “ek” wat ek in die eerste plek na Hom toe gebring het nie.  Dit is nou verander in iets wat God gee, waarvan ons sing as “genade, onbeskryflik groot.”  Alles wat ons na Jesus toe bring, word teruggegee, maar net oorvloedig en veelvoudig. En só word die lewe van Christus in ons gevorm – die opstandingslewe.

Jesus NEEM

Jesus SEëN

Jesus BREEK

Jesus GEE

GEBED

“Dankie Here Jesus dat U my neem nes ek is. Dat u my seën, my oopbreek en my dan aan myself en aan die wêreld as lewende en heilige offer teruggee.” Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 27 Maart 2021

Lukas 22:70-71.  70 Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!” 71 Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

GEDAGTE

In die heel eerste sin van sy wêreldbekende boek, “Instusie of onderwysing in die Christelike godsdiens” sê Johannes Calvyn dat ware wysheid uit twee dele bestaan. Die eerste is dat ons God moet ken en die tweede dat ons onsself moet ken.  En dan skryf Calvyn dat die kennis van God en die kennis van onsself tot só ’n mate met mekaar verbind is, dat dit moeilik is om te bepaal watter een die oorsprong is van die ander.

Hoe kan ons sê dat ons vir God ken as ons nie onsself ken nie?  En hoe kan ons onsself ken, sonder om dit deur die liefdevolle en genadige oë van die Skepper te doen? Om trou te bly aan God vra van my om trou te bly aan myself.  En om trou te bly aan myself, vra van my om trou te bly aan God.

Jesus bly trou aan Homself én aan God wanneer Hy uitgedaag word om te verklaar wie Hy is – al plaas Hy daarmee sy lewe op die spel. Deur aan Homself trou te bly, bly Jesus ook trou aan God.  Op ’n indirekte manier erken Hy dat Hy die Messias is en ook die Seun van God wanneer Hy  ondervra word. Maar ongevraagd en uit sy eie verklaar Jesus dat Hy die Seun van die mens is wat van nou af aan die regterhand van die almagtige God sit.  Jesus vereenselwig Hom met God én mens.  Met God én met ons. Waarom? Want Jesus ken Homself én Hy ken vir God.  Regdeur die Lukasevangelie hou Jesus se verwysings na Homself as die Seun van die mens verband met sy lyding sowél as sy verheerliking.  Dit alles kon gebeur slegs omdat die een die ander moontlik maak: Kennis van Homself en kennis van God.

Mag dit waar wees van elkeen van ons. Mag ons onsself werklik ken. En mag ons God werklik ken.

GEBED

“Here, om deur U geken te word, maak dit vir ons moontlik om U te ken en om onsself dieper te leer ken. Help ons om na onsself te kyk deur u liefdevolle en genadige oë.” Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Maart 2021

Markus 14:35-36.  35. Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36 Hy het gesê: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.’

Ons het in gister se boodskap gehoor dat om te bid beteken dat ons onsself doelbewus onder die wil van God stel. Ons het gehoor dat dit menslik is om te wil lewe volgens óns bepalings en voorwaardes, en nie volgens God s’n nie.  Egte gebed is om bereid te wees om te verander tydens gebed. Ons word verander van ’n ingesteldheid op ons eie behoeftes en verwagtings na ’n ingesteldheid op die wil van God. Dit beteken dat egte gebed ons dikwels laat eindig op ’n ander plek as waarby ons begin het.

Waarom? Die rede hiervoor is God self. Want in gebed het ons met die lewende God te make. En God spesialiseer in verandering. God verander chaos in sy pragtige skepping. God verander verbittering en vyandskap deur vergifnis in versoening. God verander die kettings van skuld en sonde deur vergifnis in vrygemaakte lewens. God verander die ou, selfgerigte lewe in ’n nuwe, selflose en liefdevolle lewe.

En dít doen God deur gebed. Gebed verstel ons lewens. Gebed stel ons in op die wil van God. In gebed buig ons die knie voor God. Jesus het op die grond gaan kniel en gebid. Hy het die gebed op ’n ander plek ingegaan as wat Hy daaruit gegaan het. Hy het gegaan met die vrees wat Hy na sy menslike aard gehad het. Hy het die vrymoedigheid geneem om só na sy Vader te gaan, want daar was tussen hulle ’n verhouding van liefde en vertroue. “Abba,” noem Hy sy Vader wanneer Hy Hom in gebed aanroep: Pappie. Eg menslik het Hy gevra dat die lydensbeker hom asseblief verby sal gaan. Maar onmiddellik voeg Hy by: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

Jesus buig die knie voor sy Vader. Deur gebed het Jesus die krag ontvang om die wil van God te doen deur die verskrikking van sy lydensweg te gaan trotseer. Mag die Here ook vir jou die geloofsmoed gee om jouself werklik te onderwerp aan die wil van God elke keer wanneer jy bid.

GEBED

Doen slegs U wil, Heer. U wil met my. U Pottebakker, met my die klei. Vorm my en maak my net soos U wil. Op U bly wag ek, nederig en stil.”

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Maart 2021

Matteus 26:6-7.  6. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7 ‘Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.’

GEDAGTE

“Moenie te maklik, of te vinnig bid nie,” sê die Presbiteriaanse dominee en skrywer, Eugene Peterson. “Gebed is gevaarlik,” sê hy dan verder. Ons wil die lewe volgens óns bepalings en voorwaardes leef, nie volgens God s’n nie. Gebed laat ons die risiko loop om betrokke te raak by God se bepalings en voorwaardes. Moenie te maklik bid nie.

Eugene Peterson skryf dat sóveel gebede kragteloos en selfs uiter banaal is. Die rede hiervoor is dat soveel gebede eintlik net openbare vertoon is. Ons bid by wyse van spreke vir die pawiljoen. Wanneer gebede losgemaak word van die vrugbare grond van die Woord van God, word hierdie gebede niks meer nie as blommerangskikkings wat netjies en selfs kreatief in ’n blombot as tafelversiering gebruik word.

Die geheim van gebed, skryf Eugene Peterson, is om in gedagte te hou dat gebed nooit die eerste woord is nie, maar altyd die tweede woord. Gebed is nie in die eerste plek om God aan te spreek nie. Nee, gebed, as die tweede woord, is altyd om te antwoord op God wat eerste, al lankal en deurlopend met ons praat.

Gebed is om na die Woord van die Here te luister en om dan daarop te antwoord. In die proses onthul die Here die diepste bedoelings wat in ons harte verborge is. Wanneer ons bid is ons op heilige grond. Gebed vra altyd ontsag vir die lewende God. En wanneer ons aanmeld vir gebed, meld ons aan vir God se wil, vir God se plan met ons lewens, vir God se agenda. Gebed verander ons omdat God ons verander. Moet daarom nie bid as jy nie bereid is om te verander nie.

GEBED

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

AMEN”

Gedagte vir die dag | Woensdag 24 Maart 2021

Jesaja 53:4. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.

GEDAGTE

In Jesaja 53:4 het ons pas gelees dat Jesus ons lyding op Homself geneem het en dat Hy ons siektes gedra het. Daar was niks makliks hieraan nie. In die volgende vers lees ons dat Jesus deur óns oortredings deurboor is en dat Hy oor óns sondes verbrysel is. ’n Mens sou kon sê dat Jesus ter wille van ons gebreek was.

Indien ’n mens in die Nuwe Testament lees hoedat die Nagmaal ingestel word (Mark 6:41-44; 14:23, 24; Joh 6:11; Luk 24: 30; 1 Kor 11:24-26), vind jy altyd ’n viervoudige ritme wat deur vier werkwoorde verwoord word. Eerstens neem Jesus die brood. Dan dank Hy God daarvoor. Of Hy seën dit. Derdens breek Jesus die brood en laastens gee Hy dit aan sy dissipels: Neem, seën, breek en gee.

Jesaja 53:4 en 5 bring ons by die derde deel van die viervoudige ritme: Breek: Soos wat ons die brood breek by die gebruik van die Nagmaal, is Jesus vir óns gebreek.  Maar ook óns word gebreek. Ons word gebreek vanweë ons sterflikheid en uiteindelik vanweë die feit dat ons in ’n onvolkome, sondige wêreld leef. By die nagmaal word ons gebreek en óópgebreek vir die Here. Hier kan ons nie na binne gekeer leef nie.  Ons diepste bedoelings en menswees word onthul. En hier, in ons diepste binneste, werk die Here met ons. Bring die Here vergifnis, bevryding en genesing.

Dis swaar om te breek en oopgebreek te word. Pynlik. Maar wanneer dit gebeur, is die Here Jesus saam met ons. Hy neem ons lyding en ons siekte op homself. Hy is gebreek sodat ons nooit sónder Hom of finaal stukkend sal breek nie.

GEBED

Here, U weet waarvan ons gemaak is, U hou dit in gedagte dat ons stof is. Maar onverganklik is U liefde vir ons Here. U is getrou en U neem ons sonde, siekte en dood op Uself… sodat ons kan lewe!

AMEN

Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Maart 2021

Filippense 1:12 & 13: “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”

Halfvol of halfleeg?

Ek sluit graag hierdie afgelope paar dae se dagstukkies af met nog ’n laaste belangrike keuse. Ons het nou al gesels oor die keuses tussen reg en verkeerd? “Fans”,  of  “followers” en tussen toeskouers en spelers.

Vandag dink ons kortliks oor ons persepsies, of hoe ons na situasies kyk.  Hoe ons ’n saak, of gebeurtenis sien en dan uiteindelik daaroor voel. Die keuse van persepsies – positief of negatief? Pessimisme of optimisme?

Ons almal ken die voorbeeld wat in die verband gebruik word, oor hoe ons die halfvol glas water sien – halfvol, of halfleeg. In baie kinderpreke, maar ook selfs in groot leierskap- en motiveringseminare is hierdie voorbeeld, of vergelyking al gebruik. Hoe kyk ek na ’n situasie en wat is my persepsie van ’n bepaalde situasie?

Hoe neem ek dit waar? Het ek ’n vuil, of donder bril aan wat alles donker en negatief kleur en dan ook bepalend word van hoe ek daaroor voel en dink. Sien ek pessimisties ’n halfleë glas?

Of dalk anders? Kyk ek na situasie op so ’n manier dat ek dit positief beoordeel.  Sien ek die glas as halfvol!  Hierdie positiewe uitkyk vul my nie net alleen met optimisme nie, dit skep ook vir my die moontlikheid om nuwe potensiaal en moontlikhede in die betrokke situasie te sien!  Dit maak my ook sommer ’n blymoedige mens, want my positiewe uitkyk beïnvloed my ingesteldheid op die lewe en maak dit vir my ’n lekker ervaring.

Paulus het sy bril skoongemaak sodat hy die glas as halfvol kon sien. Sy omstandighede en situasie in die tronk was uiters sleg en negatief.  Maar hy kyk op ’n bepaalde manier daarna om ongelooflike potensiaal in dit raak te sien en te erken. “Wat met my gebeur het,” sê Paulus, het die verkondiging van die Evangelie  bevorder en uitgeloop daarop dat die Evangelie van Christus verkondig kon word. Hoe nodig in ons tyd is dit nie om die negatiewe gees rondom ons te vervang met positiewe denke en persepsies nie.

Gebed

Here, help my om my bril skoon te maak sodat ek die mooi en die positiewe in elke situasie kan raaksien. Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 22 Maart 2021

Lukas 9:61: “En ’n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Gister het ons by die belangrike keuse: “fan” of “follower” stil gestaan.  Vandag wil ons dit opvolg met die vraag: toeskouer, of speler?

Gister het dit duidelik geraak dat ons moet kies op watter wyse ons met Jesus geassosieer wil wees.  Wil ’n mens iemand wees wat van ver af kyk en Hom op ’n afstand volg en hande klap, of wil jy iemand wees wat sy kruis opneem en agter Jesus in die stofpad van die lewe stap.

Net so belangrik is die keuse oor hoe ek betrokke wil wees in die koninkryk van God. Wil ek ’n toeskouer van God se werk wees, of wil ek my hand aan die ploeg slaan soos Jesus in hierdie teksgedeelte sê, en werklik diens verrig?

Almal van ons ken ’n sportwedstryd met toeskouers op die paviljoen en spelers op die veld. Ons ken ook die verskil tussen die twee groepe. Die spelers op die veld wy hulself aan die spel. Hulle werk hard aan die spel, druk in die skrum, gooi doele, of slaan die bal oor die net. Met sweet en inspanning verrig hulle hul taak om uiteindelik as oorwinnaars uit die wedstryd te tree.

Die Engelssprekendes het ’n baie mooi spreekwoord wat sê: “They put their body on the line.” Toeskouers is anders, hulle het ’n belang by die spel en bewonder die talent van die spelers. Die wedstryd is vir hulle mooi, daarom woon hulle dit by, maar hulle plaas nie hulle eie lywe op die spel nie. Hulle neem dit slegs van die kantlyn af waar, sonder om self te sweet en betrokke te raak.

Dit is ook waar van ons Christelike gemeenskap en selfs die kerk.  Daar is diegene wat hulle hande vuilmaak met die harde werk in die koninkryk van God. Mense wat praktiese diens lewer om ’n verskil in die wêreld te maak en om aan God se koninkryk gestalte te gee. Dit verg baie keer sweet, geld, harde arbeid, tyd en inspanning. Is dit nie wat Jesus ook verwag van die mense wat Hom volg nie? Om ons kapasiteit en bronne so te bestuur dat die werk in die Koninkryk nie afgeskeep word nie.

Jesus verwag dat sy volgelinge ook toegewyde spelers op die veld sal wees. In ons veranderende tye is dit so nodig dat die liggaam van Jesus sigbaar moet wees, dat die sout en lig aktief ’n verskil in die wêreld moet maak. Dit kan nie net eensydig van die kantlyn af gedoen word nie.  Dit vra mense om die stewels  aan te trek, die raket op te neem en hul aan die taak toe te wy. Doen dit deur ander te dien, om uit te gaan om die Evangelie aan ander te verkondig, of diensbaar te wees deur klein dingetjies binne die gemeente, of gemeenskap te doen.

Weereens die vraag, met die keuse wat daarmee saamgaan: Speler, of toeskouer?

Gebed:

Here, help my om my hand aan die ploeg te slaan en diensbaar te wees in u koninkryk. Vergewe my as ek so maklik net van die pawiljoen af na die spel, kyk. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 21 Maart 2021

Johannes 6:66: “Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?”

Gedagte: Fan or follower? Wat ’n  belangrike keuse!

Miskien een van die belangrikste keuses wat ons ooit in ons lewens moet maak, is of ‘n mens ’n “fan” van Jesus, of ’n “follower” wil wees? Hierdie vraag het al so baie mense geïnspireer en gekonfronteer dat daar al verskeie TV-programme en boeke oor hierdie tema/keuse die lig gesien het. Is daar ’n verskil om ’n bewonderaar teenoor ’n volgeling te wees.

Ons almal ken “fans” as dit kom by sport- of supersterre. ’n Mens bewonder dikwels ’n beroemde rugbyspeler, of akteur.  ’n Mens se bewondering vir hom of haar is dikwels gerig op al die goeie dinge wat die persoon kan doen, of talente wat hy of sy tentoonstel.  Wanneer die persoon dan êrens optree of speel, dan klap ek in verwondering hande, sonder dat ek noodwendig die persoon ken. Ek sluit soms uit vrye keuse by sy/haar “fan-club” aan.

’n “Follower” is iets anders. Dit beteken dat ek die pad tree vir tree loop met die persoon wie ek wil volg.  Dit is wanneer ’n mens bereid is om jou lyf op die spel te plaas, om bepaalde opofferinge te maak en bereid is om die lewenstyl en karaktereienskappe van die een wat ek volg, aan te neem.

Jesus het verseker ook ’n klomp “fans en followers” gehad. Dit was alreeds so toe Jesus nog op aarde was en baie mense hom begin volg het. Baie mense het hom begin volg en hande geklap oor dinge wat hy gedoen het. Hulle het begin om “fans” te word van die wonderwerker, of die geneesheer, die goeie Rabbi wat uitstekende preke gelewer het. Hulle het op die  kantlyn gesit en luister, of gestaan en kyk en hande geklap vir die goeie goed wat Hy gedoen het. In verskeie teksgedeeltes in die Nuwe Testament sien ons dat daar baie dissipels van Jesus was, baie leerlinge en baie bewonderaars van die Wonderwerker!

Op ’n stadium het hulle besluit, sê ons teksvers, om weg te draai van Jesus af.  Waarskynlik het hulle begin belangstelling verloor, of hulle het iemand anders raakgesien wat meer opwindend was en vir wie hulle eerder wou gaan hande klap. Miskien was hulle afgeskrik deur die geweldige eise wat Jesus aan die mense wat Hom wou volg, gestel het. Daar het egter ’n paar oorgebly wat volgelinge geword het en wat besluit het om Jesus in sy spore te volg, om sy eise vir dissipelskap en volgelingskap op hulle te neem. Om die kruis saam met Hom te dra en opofferings te doen.

Dit is vandag steeds die geval. In die Christen-gemeenskap is daar ook duidelike “fans en followers.” Daar is derduisende mense wat hul name opgee as Christene, bewonderaars van die goeie werke en dade wat Jesus gedoen het. Selfs in die kerk is hulle daar om Jesus te bewonder en om te kyk wat hulle dalk uit die transaksie kan kry.  Maar wat Jesus soek is mense wat agter Hom sal aanloop, wat in sy ritme sal kom en die skaafmerke van sy kruis op hul skouers sal voel omdat hulle die opofferings maak wat Jesus van hulle vra.

As jy vandag na jouself kyk, na jou eie toewyding aan Christus, die praktyk van jou Christelike geloof, is jy ’n “fan” of “follower”?

Gebed

Here, help ons om vandag ook hierdie belangrike keuse te maak. Help ons om nie net hande te klap vir die goeie dinge wat gedoen is, of die wonderwerke wat U verrig het nie, maar dat ons werklik in die stofpad agter U  sal aanloop, omdat ons volgelinge van ons Meester wil wees.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Maart 2021

Matteus 26:33: “Daarop het Petrus vir Hom gesê: ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.’ ”

As daar ooit iemand is wat voor baie keuses te staan gekom het, dan was dit Jesus se sterk dissipel, Simon Petrus. Van sy eerste ontmoeting met Jesus langs die visserswaters, moes hy al keuses gemaak het. Waarskynlik een van sy grootste keuses wat hy ooit moes gemaak het, was die keuse om die man van Nasaret, Jesus Christus, te volg. Die implikasie van hierdie besluit was dat hy alles moes los om Jesus te volg. Dit is lofwaardig!

Maar Petrus het ook ’n paar ander keuses en besluite gemaak wat nie so positief en lofwaardig was nie. Ons ken sy effense arrogansie en voor-op-die-wa- houding. Hy was die een wat dadelik uitbasuin het dat, al sou almal vir Jesus verlaat en in die steek laat, hy dit beslis nie sal doen nie. Miskien was hierdie keuse, of besluit, of aankondiging daarop gerig dat hy aandag op homself wou vestig, moontlik ’n stukkie propaganda vir ’n potensiële leiersposisie.

Verder sien ons dat Petrus in die drif van sy persoonlikheid, die verkeerde keuse gemaak het toe hy in Getsémané die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap het. Hy het dit nie goed deurdink nie! Hy het die besluit  om te veg, blindelings gemaak. Ons weet ook wat was Jesus se reaksie hierop gewees.

Die grootste hartseer was egter met die tragiese insident van Petrus se verloëning van Jesus. Hierdie ywerige, sterk, amper arrogante dissipel van Jesus vou onder die druk!  Ons onthou hoe hy dramaties aangekondig het dat hy nooit vir Jesus in die steek sou laat nie, maar toe die druk toeneem en hy self in die gevaar kom van vervolging, toe vergeet hy daardie keuse wat hy gemaak het en hy trap in die strik waarin so baie van ons ook trap deur besluite onder druk te neem wat vorige besluite, of keuses kanselleer.

Ons leer so baie uit die verhaal van Petrus, ook later toe hy op die see uit die boot geklim het, om in voortvarendheid na Jesus te loop, om uiteindelik te sink, omdat sy geloof hom verlaat het.

Ek was self ook al baie keer in situasies waar ek keuses gemaak het met slegte uitkomstes. Die gevolge was gewoonlik baie tragies. ’n Keuse wat ons maak, moet te alle tye deurgevoer kan word. Die Engelssprekendes het ’n mooi gesegde wat sê: “You must walk the talk.” Jy moet ’n keuse maak, ’n besluit neem en ten alle koste daarby kan bly.

Hoe lyk die keuses wat ons elke dag maak oor ons volgelingskap van Jesus? Is daar nie by ons ook  maar baie trekke van Petrus, wat vinnig onberekende besluite neem en dan later vou onder die druk nie? Jesus vra deurdagte keuses, keuses wat my lewe raak, keuses waarop sy koninkryk gebou kan word.

Gebed

Here, help my om reg te kies en daarby te bly.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 19 Maart 2021

Openbaring 3:15-16: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie.  As julle tog maar koud of warm was!  Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”

Vandag hanteer ons ’n baie interessante keuse. Dit is ’n keuse met drie moontlikhede: koud, lou, of warm. Dit klink amper soos die verstelling van lugversorging na die temperatuur van jou keuse. Ek het die vermoë om die knoppie te draai, deur die keuse wat ek maak.

By die gemeente se mannegebedsgroep het ons die afgelope tyd baie hieroor gepraat. (Ek wil sommer ook van die geleentheid gebruik maak om al die manne uit te nooi om in hierdie besondere belewenis, elke Donderdagoggend 18:00, te kom deel). Ons tema die afgelope paar weke was: “Wat is jou geestelike temperatuur?” Ons het ’n prentjie op ons notas van die Covid-19-protokol se termometer wat oral gebruik word.  Ons gebruik ook hierdie teks om te sê daar is verskillende moontlikhede rakende ’n mens se geestelike temperatuur en toewyding aan God.  Die aanduiders hiervan is my liefde vir God, my geloof in God, my gehoorsaamheid, gebed en diens.

Wat tog interessant is, is dat ’n mens self ’n keuse hierin het.  ’n Mens draai self die knoppie om die temperatuur te bepaal en kan eintlik kies wat die uitkoms van die lesing gaan wees – warm, lou of koud? Dit is soos geestelike dissiplines, waar ek moet besluit hoe ek daaraan aandag gaan gee. Besluite oor my stilwordtye, my kwaliteittyd in God se woord, my diensbaarheid aan ander, ens.

Ons weet tog: Elke besluit of keuse, het ’n gevolg – ook in my geestelike lewe!  As ek kies om baie min, of geen tyd aan my toewyding aan God te spandeer, my gebedslewe af te skeep, ens. sal dit op my geestelike termometer reflekteer en andersom ook.

Ook in hierdie teks, soos in vorige tekste waarna ons al gedurende hierdie week gekyk het, wil die skrywer ons aanmoedig om die regte keuse te maak. Om daaglikse keuses te maak oor hoe die kwaliteit van my geestelike oefenprogram moet lyk. Jesus verlang  uiteraard dat ons “warm” moet wees,  geestelik fiks moet wees, werklik toegewy aan Hom moet wees en naby aan  Hom moet wees.  Hoe ons met Hom praat, na Hom luister en hoe ons Hom dien?

’n Goeie vragie vandag: Hoe lyk jou lesing?

Gebed

Here die druk om ons raak so groot om gemiddelde mense te wees, met gemiddelde toewyding, lou geestelike temperatuur, omdat ons daagliks ’n klomp kompromieë met wêreldse standaarde maak. Help my om fiks te wees en warm te wees in my  verhouding met U.

Amen

1 2 3 4 22