GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Maandag 28 Desember 2020

Efesiërs 5:15 en 16.Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”

Met die jaar 2020 wat nou vinnig tot sy einde kom, is elkeen van ons seker besig met die vraag: “Het ons die beste gebruik gemaak van elke geleentheid wat  hierdie jaar oor ons pad gebring het? Het ons voluit gelewe deur geleenthede aan te gryp, of het ons in ’n hoekie gaan sit met selfbejammering en gekyk hoe die lewe voor ons afspeel?”

Ek het al met ’n vorige dagstukkie gemeld, dat my beste vriend onlangs oorlede is. Jare terug het hy ’n baie slegte tyding van die dokter ontvang rakende sy gesondheid. (Hy is later aan ’n heeltemal ander oorsaak oorlede). Die dokter het aangedui dat my vriend ongeveer twee jaar oor het om te lewe. Terwyl hy terugry huis toe om die nuus met sy vrou en kinders te deel, het hy besluit hy gaan voluit lewe tot die dag wat hy doodgaan. Die dokter het vir hom gesê hy is terminaal siek, maar hy het besluit hy is terminaal gesond. (Dit is sy eie woorde en omskrywing). Dit het so ’n obsessie by hom geword dat hy later ’n boek daaroor geskryf het: “Terminaal gesond!” Omdat ek baie saam met hom gereis het, weet ek hoe hy die lewe en elke geleentheid aangegryp het om voluit te leef en tot die uiterste te geniet.

Orwille Kelly, het ook so die slegte nuus gekry dat hy besig is om te sterf aan ’n aggressiewe kanker en dat hy volgens die dokter twee jaar oor het om te lewe. Nadat hy die nuus met sy vrou en kinders gedeel het, en baie daaroor gehuil het, het hulle besluit om ’n groot partytjie te hou. Hulle het toe al die mense uitgenooi vir wie hulle die meeste omgegee het en dit was ’n groot feesviering!  Die gaste het nie geweet wat die rede vir die partytjie is nie, totdat Orwille opgestaan het en in ’n toespraak vir hulle gesê het: “Julle wonder seker waaroor ek julle hier bymekaar geroep het vir hierdie partytjie. Wel, dit is ’n kanker-partytjie! Die dokter het vir my gesê ek het terminale kanker. Ek en my vrou het besluit om ’n nuwe organisasie te begin, dit word genoem: M.T.C (Make Today Count) en julle is almal genooi om lede van die organisasie te word.”

M.T.C het drasties gegroei en Orwille het ’n nuwe waardering vir die res van sy lewe ontwikkel en het ook oral oor sy land vir mense vertel om die meeste te maak van die beperkte tyd wat hulle gehad het.

Hoe maak ons vandag die beste gebruik van elke geleentheid? Is daar dalk onafgehandelde besigheid in jou lewe, of die noodsaak om iets vir iemand te sê, of om iemand te gaan vergewe, of gewoon net juigend te wees oor die dag van vandag. Maak jy soos Paulus sê, die beste gebruik van elke geleentheid?

Gebed

Here, ek kies om vandag aan te gryp en die beste daarvan te maak. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 27 Desember 2020

Prediker 3:13: “Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.”

Wat maak regtig saak in die lewe? Sal ons ooit genoeg hê, en sal die goed wat ons met moeite en verdriet bymekaar maak, regtig vir ons vreugde en ’n vol lewe gee?

’n Boot het eenmaal aangedoen by ’n klein Thaise dorpie. ’n Amerikaanse toeris het die Thaise visserman gekomplimenteer oor die kwaliteit van sy vis, en vir hom gevra hoe lank dit hom geneem het om die vis te vang? “Nie baie lank nie” het die man geantwoord. “Maar hoekom het jy dan nie nog langer op die boot gebly en nog meer visse gevang nie?” het die Amerikaner gevra. Die visserman het toe verduidelik dat sy klein vangs genoeg was om aan sy behoeftes te voldoen en ook aan dié van sy familie.

Die Amerikaner het hom toe gevra: “Maar wat doen jy met die res van jou tyd?” “Ek slaap laat in die oggende, vang ’n bietjie vis, speel met my kinders, vat ’n siesta saam met my vrou, saans kuier ek saam met my vriende en speel kitaar. Ek het ‘n vol lewe!”

Die Amerikaner onderbreek hom toe, “Ek het ’n MBA aan die Harvard Universiteit behaal, en ek sal jou help! Jy moet begin deur elke dag langer vis te vang.  Dan kan jy die ekstra vis verkoop en met die ekstra inkomste sal jy vir jou ’n groter boot kan koop”. “En na dit?” vra die Thaise visserman. “Met die ekstra geld, en die groter boot kan jy dan jou vloot van bote uitbrei en in plaas daarvan dat jy jou vis aan ’n middelman verkoop kan jy direk met die fabriek onderhandel om dit aan hulle te verkoop. Jy kan dan hierdie klein dorpie verlaat en in die hoofstad gaan bly. Van daar kan jy ’n groot onderneming ontwikkel en bestuur.”

“Hoe lank sal dit neem?” het die visserman gevra. “20, miskien tot 25 jaar” het die Amerikaner geantwoord. “En na dit? As ek dit alles het, wat dan?” “Wel, dan kan jy begin om aandele te koop en te verkoop en miljoene dollars te maak.” “Miljoene? Regtig? En dan na dit?” vra die visserman weer. “Na dit, sal jy in staat wees om te kan aftree en in ’n mooi, klein dorpie naby die see te kan bly, laat te slaap, met jou kinders te speel, ‘n paar visse te vang, ’n siesta saam met jou vrou te neem en jou aande saam met jou vriende deur te bring.”

Hierdie is nie ’n aanmoediging om lui te wees en nie te werk nie, maar verseker ’n les in waardes en prioriteite. Om ons te laat dink oor wat werklik saak maak, en om te doen wat ons elke dag doen. Tevredenheid moet ’n oorheersende woord in ons woordeskat word.

Gebed:

Here, leer my om elke dag te waardeer wat ek het, en om nie altyd na die groter dinge te streef nie. Help  my om my geluk te vind in wat ek het, ’n tevredenheid met dit wat U vir my gegee het. Amen.

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 26 Desember 2020

Jesaja 53:2. “Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie”.

Dit is ’n dag na Kersfees, en ek vertrou dat julle ook ’n wonderlike dag en feestyd saam met geliefdes en vriende beleef het.

Tydens ’n Oukersdag, lank gelede, het ’n ou skoenmaker gedroom dat Jesus hom die volgende dag sou besoek. Die droom was so duidelik, dat hy oortuig daarvan was dat dit waar sou word. Die volgende oggend het hy vroeg en opgewonde opgestaan om te wag vir Jesus se koms.

’n Ou man was sy eerste besoeker, wat skuiling kom soek het teen die winterkoue. Die skoenmaker het na sy winkelrak toe gegaan en vir die ou man ’n paar nuwe skoene gegee en hom vriendelik gegroet. Toe kom daar ’n honger ou vrou in, en hy het gou ontdek dat sy vir dae lank geen kos gehad het om te eet nie. Hy gee toe vir haar ’n heerlike maaltyd voordat hy haar groet en wegstuur. Maar steeds het Jesus nie gekom nie.

Toe hoor hy iemand buite in die straat voor sy winkel huil. Toe hy uitgaan, sien hy dat dit ‘n klein seuntjie is wat verlore geraak het. Die skoenmaker het sy jas aangetrek en die seuntjie na sy ouers geneem. Teen die einde van die dag, toe dit tyd was om sy winkel te sluit, het hy uitgeroep: “O Here Jesus, hoekom het U toe nie gekom nie?” En toe in ’n oomblik van stilte, hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “O skoenmaker, wees gerus!  Ek het by My woord gehou.  Drie keer het ek aan jou winkel se deur geklop, drie keer het jy my vriendelik verwelkom en My gehelp.  Ek was die man met die stukkende skoene.  Ek was die vrou wat honger was, en jy het vir My iets gegee om te eet. Ek was die verlore seun in die straat voor jou winkel”.

Jesus het inderdaad gekom.  Die skoenmaker het Hom net nie herken nie.  Ons weet ook dat Jesus as ’n byna vreemde, arm, hulpelose figuur na hierdie wêreld gekom het.  Hy was nie ’n prins of ’n heerser wat in prag en praal geheers het nie.  Hy was eenvoudig met ’n voorkoms wat niemand twee keer na Hom sou laat kyk het nie.

Moeder Teresa het haar eie gawe beskryf as die gawe om Jesus te midde van die haglikste omstandighede raak te sien. Mag God ons ook help om Hom ter alle tye te herken. Veral oor hoe ons teenoor noodbehoewendes optree.  Hyself het ons immers  in Matteus 25 gewaarsku: “Wat jy ookal aan die geringste van hierdie doen, doen jy ook aan My.

Gebed: Here, help my om U werklik in alles om my te herken, en dat ek dan in geloof en met aksie daarop sal reageer. Amen.

Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Desember 2020

Lukas 1:47: “Ek juig oor God, my Verlosser!

Dit is Kerfees 2020!  Baie, baie geseënde Kersfees vir elkeen van julle. Dit is ook my gebed dat vandag vir julle ’n vreugdevolle fees sal wees in die teenwoordigheid van geliefdes naby julle, maar veral in die teenwoordigheid van die drie-enige God.

As ons vandag die vreugde van Kersfees ervaar, is dit so belangrik om weer terug te kom na die ware vreugde van ons verlossing in Jesus Christus. Nie almal is vandag baie opgewonde oor Kersfees nie. Vir party is dit ’n droewige tyd omdat daar in die afgelope jaar baie verliese was. Vir diegene is dit dan eintlik ’n donker dag, en ’n donker Kersfees, en ons harte gaan regtig uit na sulkes.  Ander is weer pessimisties oor hoe die wêreld lyk en bekommerd oor waarheen die wêreld gaan!  “Waarby het die wêreld aangekom?”

Stanley Jones, het ’n baie positiewe stelling gemaak in 1842 in ’n dagstukkie in sy boek, Abandoned Living. “The early Christians did not say in dismay: ‘look what the world has come to!’ But in the light: ‘Look what has come to the world!’ They did not see merely the ruin, but the Resource for the reconstruction of that ruin. They have seen not merely that sin did not abound, but that grace did much more abound. On that assurance, the pivot of history, swung from blank dispair, loss of moral nerve, and fatalism to faith and confidence that at least sin has met its match.”

Mag ons vandag seëvier in ons verlossing in Christus. En as ons vandag die geskenke oopmaak en uiteindelik die geskenkpapier weggooi, kom ons dink daaraan dat indien ons grootste behoefte informasie was, dan sou God vir ons ’n opvoeder  gestuur het. As ons grootste behoefte tegnologie was, dan sou God vir ons ’n wetenskaplike gestuur het. As ons grootste behoefte geld was, sou God vir ons ’n ekonoom gestuur het. As ons grootste nood en behoefte plesier was, sou God vir ons ’n vermaaklikheidskunstenaar gestuur het. Ons grootste behoefte en nood was egter vergifnis, en daarom het God vir ons ’n Verlosser gestuur.

Gebed: O Here, op Kersdag 2020 dank ons U vir die Verlosser wat vir ons gebore is. Dankie dat ons ook kan uitroep: “Ek juig oor God, my verlosser!”. Dankie dat U gekom het om elkeen van ons se sonde te vergewe. Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Desember 2020

Johannes 8:12: “Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

24 Desember 2020 – Oukersdag in ’n jaar geteister met ’n pandemie! Hoe baie verskillende emosies mag ons dalk vandag en vanaand hê oor hierdie jaar. Maar vandag en môre kan ons feesvier.   Die fees van lig – lig vir die wêreld waarvan ons ook hier in Johannes lees.

Toe Pous Julius 1, in 353 n.C. die datum 25 Desember gemagtig het om as die geboortedag van Jesus gevier te word, kon niemand weet hoe groot hierdie dag in die geskiedenis van die wêreld sou word nie. Toe Charles Follen die eerste keer kersies aan die eerste Kersboom in Amerika aangesteek het in 1832, kon niemand hulself voorstel watter groot rol Kersversieringe en Kersbome in die geskiedenis sal speel nie.

Dit is baie jare na 1832 en nog verder weg van die jaar 353 n.C. Maar steeds dink ons aan daardie donker nag toe ’n ster die ligruim verlig het om wyse manne na Koning Jesus se nederige geboorteplek te lei. En vandag, op die voorraand van 25 Desember, ook midde in al die opwinding van versierings en die kommersialisering van die kersgety,  moet ons gefokus bly om vir Jesus in die kern van ons feesvieringe te hou. Kom ons stop ’n oomblik om oor sy geboorte te dink, en ons prys God wanneer ons Sy wonderlike reddingsplan vir die mensdom oordink en dit met mekaar deel.

Dit kan so maklik verbygaan, sonder dat ons die boodskap met mekaar en ander deel. Daar word vertel dat in Desember 1903, na verskeie pogings, die Bright broers die eerste keer hul vliegmasjien van die grond af kon kry om te kan vlieg. Baie opgewonde het hulle ’n telegraaf aan hulle suster gestuur om haar in te lig dat hulle uiteindelik daarin geslaag het om 120 voet hoog te vlieg. Deel van die boodskap was, “en ons sal terug wees vir Kersfees”. Hulle suster het die redakteur van die plaaslike koerant genader en vir hom die boodskap gewys. Hy het dit in sy hand gehou, en gesê: “How nice! The boys will be home for Christmas!” Hy het eintlik die groot nuus misgekyk, en dit is dat daar vir die eerste keer mense was wat gevlieg het.

Hoe maklik kan  ons ook die groot nuus mis en dit midde ons vieringe vergeet? Hoe maklik kan ons verdwaal raak tussen al die glinster en mensgemaakte vreugdes en vergeet dat die eintlike boodskap van verlossing nou vir ons ’n realiteit geword het deur die kind van God wat vir ons gebore is.

Gebed: Here gee vir ons in hierdie Kerstyd, die waagmoed om werklik die betekenis van Kersfees, die boodskap van verlossing in u Seun, Jesus Christus, met ander te deel. Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Desember 2020

Lukas 2:11: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Vriende, dis ’n paar dae voor Kersfees en ons sien reeds die groot verwarring wat ontstaan rondom hierdie groot fees wat wêreldwyd gevier word. Daaroor kan die vraag tereg gevra word, wat is Kersfees regtig? En wat is dit nie?

Daar word vertel dat ’n klein seuntjie en dogtertjie besig was om hulle gunsteling Kerslied in ’n kerk te sing, ’n dag voor Kersfees. Hulle het in Engels gesing, en die seun het “Silent Night”, afgesluit met die woorde: “sleep in heavenly beans.” Nee! Het sy suster hom gekorrigeer, “not beans, peas.”

By ’n ander geleentheid het Brenda Robberts die storie van Jesus se geboorte vir haar dagskoolkindertjies voorgelees. Soos gewoonlik het sy gestop om seker te maak dat hulle verstaan. “What do we call the three wise men?” het sy gevra. “The three maggots!” het ’n vyfjarige outjie geantwoord. “What gift did Maggie bring baby Jesus?” het sy weer gevra: “gold, Frankensteins and Smurfs!” het dieselfde vyfjarige geantwoord.

Ja, by kinders, maar ook by volwassenes is daar somtyds groot verwarring oor waaroor Kersfees eintlik gaan. So waaroor gaan dit eintlik? Moeder Theresa het gesê: “Dis Kersfees elke keer wanneer jy vir God toelaat om deur sy liefde uit te reik na ander mense. Ja, dit is Kersfees, elke keer wat jy glimlag vir jou broer en jou hand vir hom uitsteek om te help. Mag ons dit ook vandag doen.

Maar wat is Kersfees dan nie? Calvin Coolidge het geskryf: “Christmas is not a time nor a season, but a state of mind. To cherish peace and goodwill, to be plenteous in mercy, is to have the real spirit of Christmas”. William Parks het daarby gevoeg: “Christmas is not just a day, an event to observe and speedily forgotten. It is a spirit which should permeate every part of our lives.”

Die meeste van ons is baie lief vir ons familie, en doen baie moeite om Kersfees by hulle te wees. Daarom het Kersfees tereg ’n familiefees geword. Maar so baie mense getuig daarvan dat indien hulle in Kerstyd bereid is om ander te help of om ander in nood by te staan, skep dit soveel meer vreugde. So bied Stellenberg-gemeente ook jaarliks ’n liefdesete op Kersdag aan inwoners van die informele nedersetting in Klipheuwel aan.

Wat is Kersfees vir jou? Mag dit inderdaad ’n Christus-fees wees, waarin diens ’n groot rol speel.

Gebed:

Here, gee vir ons die ware Gees van Kersfees. Dat dit in die eerste plek nie oor ons sal gaan nie, maar oor ons Verlosser wat in ons lewe heers en ons aanspoor tot liefde en diens, veral in hierdie Kerstyd. Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Desember 2020

Genesis 45:1.  “Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die Farao se paleis dit gehoor het.” Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Ek dink aan baie tonele in hierdie Kerstyd en die trane wat in baie families vloei. Nie noodwendig van dié wat in Suid-Afrika is nie, maar daar is so baie wat oorsee woon en waar Kersfees dalk ’n hartseer tyd vir sommiges kan wees, maar ook die vreugdetrane wat loop wanneer familie mekaar weer sien.

Wanneer ouers in die besonder hul kinders sien wat in die verte bly. Dis nogals ’n snaakse verskynsel, kan nie sê ’n vreemde verskynsel nie, maar dis nie gewoon vir ’n man om te huilnie.  En tog het ek die afgelope tyd na die dokumentêre reeks op televisie gekyk oor die wêreldbeker rugbytoernooi en daarin het mans  trane van blydskap gehuil en mekaar omhels terwyl hul trane geloop het. Een van die aangrypende tonele in die reeks was van die Springbok agtste man, Duane Vermeulen en Proudfoot wat mekaar omhels het en Proudfoot wat toe vir Duane sê hoe sy Pa, wat oorlede is toe Duane ag jaar oud was, hierdie oomblik sou waardeer het.  Dit was intense emosie. Ons het al baie tonele gesien waar mense moedeloos is in oorlog getuisterde gebiede en waar mans hul trane uit moedeloosheid af vee.

Ek onthou in besonder die storie van ’n man wat van oorsee af teruggekom het en sy vrou verras het. Hy het in die buiteland gewerk, maar kon per geleentheid terug kom Suid-Afrika toe.  Hy het nie sy vrou oor die besoek ingelig nie.  Hy het haar nege maande laas gesien.  Dit was ’n moeilie tyd terwyl hy oorsee gewerk het en hulle het gesukkel om ordentlik met mekaar te kommunikeer. Hy het vertel dat vandat hy sy vrou laas gesien het, is hulle eerste baba gebore. Sy vrou bly naby aan haar ouers maar hy het beplan om die huis saggies binne te gaan,  met sy eie sleutel,  sonder dat sy vrou weet hy is terug.  En dan het hy beplan om  haar naam in die huis te roep.  In sy geestesoog kon hy sien hoe sy met die babaseuntjie in haar arms by die trap afkom. Toe sê hy: “Then sir, I’m going to cry. It takes a man to cry”.

Die gedeelte wat ons gelees het beklemtoon ook die aangrypende ontmoeting tussen Josef en sy broers, die emosies wat by hom opgekom het oor sy pa en al die negatiewe goed wat hy in Egipte beleef het.  Om net weer sy mense te kon sien. Ook dat hy uiteindelik uitvind dat sy pa steeds leef.   Die trauma en hartseer, maar ook die blydskap en vreugde –  en Josef bars in trane uit. Ek dink aan Dawid in die tyd wat hy die nuus oor sy seun se dood ontvang.

Jesus was ook nie skaam om by die graf van sy vriend Lasarus te huil nie. In Hebreërs word gesê: gedurende sy aardse lewe het Hy gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. God sien ook ons trane. Trane van blydskap, hartseer, moedeloosheid, en magteloosheid. Psalm 39:9: “moet tog nie koud staan teenoor my trane nie”.

Die belofte in Openbaring 21:4 is ook waar vir elkeen van sy kinders. “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Solank dit net trane van opregte blydskap, hartseer of berou is.”  Die Here ken ons trane, want Hy het ons gemaak.

Mag jy trane van blyskap in hierdie tyd hê. As jy trane van hartseer en pyn het oor ’n geliefde wat nie meer by jou is nie, mag jy genade kry dat die Here jou trane kan afdroog.

Gebed

Here wil U ons trane afdroog, maar dankie ook vir die trane van blydskap, ten spyte van seer en pyn wat soveel gesinne en families beleef het. Sodat ons trane van genesing ook kan hê, omdat Christus Jesus vir ons gebore is. Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 21 Desember 2020

Handelinge 4:20: “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Jare gelede is Robert Ingersol oortuigend verslaan as kandidaat vir die goewerneurskap van die staat, Illinois, in Amerika.  Ek het baie aan hom gedink tydens die hele debakel tydens die afgelope presidentsverkiesing in Amerika. Ingersol was ’n bombastiese man wat geen geheim daarvan gemaak het dat hy nie ’n Christen is nie.  Kort na sy nederlaag, het hy in ’n kompartement van ’n trein wat vanaf Chicago vertrek het, aan een van sy mede-reisigers gesê: “Noem my een suksesvolle ding wat die Christendom al bereik het?”  Die ander reisiger was nie lus vir ’n woordewisseling nie, en het gehuiwer om te antwoord.  ’n Bejaarde dame wat agter die ongelowige Ingersol gesit het het toe met ’n bewerige hand aan sy skouer geraak en gesê: “Meneer, ek weet nie wie jy is nie, maar ek kan aan jou een groot prysenswaardige ding noem wat die Christendom reggekry het. Hulle het verhinder dat Robert Ingersol goeweneur van Illinois geword het.”  Dit was ’n doodskoot vir Ingersol, en hy het verder nie weer ’n woord gesê nie. Die dame het hom mooi op sy plek gesit.

Daar was ’n tyd wat die statistiek rondom Christene in Suid-Afrika aangedui het dat ons ’n Christelike volk is. Hoeveel Christene vier Kersfees in hierdie tyd? Maar het ons ’n swygende Christendom geword? Dink aan Petrus en Johannes se woorde toe hulle van alle kante af teëstand gekry het – “wat ons betref, dit is onmoontlik om te praat van dit wat ons gesien en gehoor het.” Die briljante Franse wiskundige Blaise Pascal het eeue gelede onbeskaamd die Christendom  voor almal wat gedink het dat hulle sonder God kan lewe, verdedig. Tog was hy nie tevrede toe sy suster Jacqueline voltyds tot die Here se diens wou toetree nie. Sy suster het hom so geantwoord: “As jy nie die krag het om my te volg nie, moet jy my minstens nie terughou nie. Wees eerder dankbaar teenoor God vir die genade wat hy betoon het aan iemand wat hy liefhet.”  Dié woorde het Pascal se hele lewe verander, en ook van hom ’n kampvegter vir die geloof gemaak. Sien ek en jy kans daarvoor? Is dit wat ons in hierdie Kerstyd met ons sal saamneem?

Gebed

Here, gee vir ons die genade om in hierdie Kerstyd iets te beleef van die gestalte van Christus in hierdie wêreld. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 20 Desember 2020

Psalm 3:6-7: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie

Ons is amper klaar met die jaar en is geneig om dié tyd van die jaar saam terug te kyk oor die jaar en dit te evalueer. Dit het my aan die bekende gedig, “Voetspore”, laat dink waar iemand ’n vreemde droom gehad het waar hy en die Here langs die see loop.

Baie van julle sal die gedig goed ken. Agter hulle, kon hy duidelik twee stelle voetspore sien, syne en dié van die Here, maar tog was daar ook ‘n ontstellende verskynsel in sy droom. Op die pad agter hom, was daar soms net een ry voetspore en dit was juis tydens die tye wat dit met hom sleg gegaan het. Daarom het hy vir die Here gesê: Meester, U het my verseker dat indien ek besluit om U te volg, U altyd by my sal bly, maar nou sien ek dat in die tyd toe ek U bitter nodig gehad het, ek alleen moes loop. Daar was net een ry spore, waarom het U my dan toe in die steek gelaat?”  Die Here het hom geantwoord: “My kind, ek het jou lief en jy behoort te weet dat Ek jou nooit alleen sal laat nie, dis waarom jy net een ry spore sien.   In jou tye van swaarkry en beproewing het Ek jou gedra.”

Miskien as jy terugkyk oor die jaar, het jy ook iewers ’n ervaring gehad dat jy alleen geloop het.  Maar as jy mooi kyk, dan sal jy besef dat die Here jou gedra het. Ek dink veral aan Jesus se woorde tydens die bergrede.  Dit het seker teen die meeste van sy dissipels se gryn ingegaan. Matteus 5:41: “As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.” ’n Mens kan vir Petrus in sy baard hoor brom toe hy aan die soldate van die Romeinse owerheid gedink het. Dit was mos algemeen bekend dat ’n Romeinse soldaat enige inwoner van ’n besette land kon verplig om sy militêre bagasie vir ’n duisend tree te dra terwyl hy deur die land reis.  Vir elke Jood was dit ‘n vernederende opdrag.

Wat het dan van Moses se wet van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand geword? Maar eintlik wou Jesus vir hulle sê: “Moenie soos ’n slaaf gevul met wrede gedagtes die verpligte afstand loop nie. Doen dit blymoedig en loop selfs verder as wat van jou gevra word.” Later het Jesus die hele lydensweg geloop tot die laaste tree na Golgota, en dit alles net om ons las ligter te maak. Jesus het selfs verder gegaan as om die  twee kilometer te loop. Hy het my en jou bagasie op sy skouers geneem. Mag jy dit in hierdie Kerstyd op ‘n besondere manier ondervind, ook wanneer jy oor die jaar terugkyk.

Gebed

Here, soms struikel ons deur die sand of die modder, of die moeilike terrein. Dankie dat U al ons laste, of bagasie wil help dra. Dankie dat U ons in, en deur moeilike tye nie net aan die hand vashou nie, maar ook dra. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Desember 2020

Johannes 13:35.  “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Een van die dinge waaraan almal van ons moeilik gewoond geraak het, is dit die saam saamleef met ’n virus totdat ’n inenting, of teenmiddel ontdek word. Ons weet nie hoe lank dit nog sal voortduur nie, en so het maskers nou deel van ons daaglikse roetine geraak.  Ek self het ’n “buff” wat ek om my nek dra, en oor my neus optrek wanneer dit nodig is.  My grootste moeilikheid is, die kere wanneer ek iemand in die kafee raakloop wat ek ken, of by die kerk –  ’n  mens herken nie die mense nie!  En dan lyk ’n mens onvriendelik indien jy mense nie groet nie, maar ek sukkel,om mense te herken.  Dis amper ’n bevestiging dat ons blind t vir mekaar geword het en mekaar nie meer as mense raak sien nie.  Dit gebeur so maklik. Iemand het tereg gesê, dat ons as Christene se grootste taak is om mense van hul naamloosheid te bevry en dat maskers eintlik ’n simbool daarvan is.

Die Beatles se John Lennon en Paul McCarthy, het baie jare gelede ’n populêre lied geskryf waarna baie mense met blink oë geluister het, en dikwels aan hulself gedink het wanneer hulle die woorde gehoor het: “Look at all the lonely people, where do they all come from?”   Hoe gelukkig is die mens wat geleer het om ander mense raak te sien? Die Bybel sê in Hebreërs: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.”  Hoe word gelowiges, of Jesus se volgelinge in die wêreld uitgeken? Op ’n uitkenningsparade soek ’n mens na ’n gesig wat jy herken. Net so sê Jesus ’n mens word uitgeken aan een besondere kenmerk: As julle mekaar lief het, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Maar wat is liefde in die praktyk. Liefde is om te sê: Ek is jammer, dit is my fout, ek vergewe jou. Of kom ons vergeet daarvan, ek respekteer jou opinie. Stel gerus jou saak, ek luister, praat jy. Ek soek ook saam met jou na ’n oplossing, nie na ’n oorwinning vir my nie. Ek stel die persoon bo die saak.

Paul Tournier skryf oor ’n pasiënt wat hy in die siekeboeg moes besoek en na ’n rukkie het hy moedeloos gesê: “Skakel asb die televisie af, sodat ek na die pasiënt se hartklop kan luister. ’n Gelukkige mens is een wat in ons gejaag en raserige tyd die hartklop van sy medemens kan hoor.

’n Hartklop wat praat van eensaamheid, pyn en kommer. Maar ook van blydskap. Ons deel al die kante van die lewe met mekaar. Voorspoed en teëspoed. Maar om dan ook iets daaraan te doen. Ware liefde wil nie net ontvang nie, maar ook gee, opoffer, dien en dis wat Christus ook kom doen het. Dit was Christus se liefde, ook onselfsugtige liefde wat eerste na ’n verlore wêreld se belange gekyk het.

Gebed

Here, dankie dat U mens geword het vir ons. Dat U onder ons kom woon het, en dat U, u Heilige Gees gestuur het, dat ons nie alleen hoef te wees nie. Amen.

1 11 12 13 22