GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 17 April 2021

Lukas 24:1-6.   1Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 

Lukas die briefskrywer herinner ons dat daar tussen optimisme en hoop  ’n hele wêreld lê – al verwar ons dikwels die twee met mekaar.   Optimisme het  baie met ons geaardhede te doen.  Sommige mense sien makliker die ligkant, of die silwer rant van ’n saak in plaas van die donker wolk.  Maar te veel optimisme kan ons verblind en ons ligsinnig en oppervlakkig maak.  Ons kan draers van goedkoop troos word.   Optimisme het weinig min met hoop in gemeen.  Hoop is nie iets wat ons in ons het nie, dit kom van buite.  Dit lê nie in ons geaardhede nie en dit vloei ook nie uit ons vermoë om anders na sake te kyk nie.  Hoop word aan ons gegee.  Ons ontvang dit.  Dit kom oor ons.  Dit word aan ons geskenk.  Ons word deur hoop verras, oorbluf en opgewek.

Daar is keerpunte, of oomblikke van finaleit wanneer positiewe denke eenvoudig nie verder help nie.  Wanneer ons voor toe deure, klipmure en geslote grafte te staan kom.  Dan moet iets gebeur – iets nuuts.  Dan het ‘n mens iemand nodig wat die klip voor die graf wegrol.  Boodskappers wat ons troos en sê ons hoef nie te vrees nie.  Bevreesde vroue wat bevestig dit is waar.   Dit kos soms in die gedaante van ’n vreemde tyding, wat nog nooit in die  die hart van ’n mens opgekom het nie en wat alle verstand te bowe gaan.  ’n Nuwe begin, soos lewe uit die dood.

Gedagte vir die dag | Vrydag 16 April 2021

Matteus 28:16-20.  16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ek lees graag die volgende gedig van Padraig O’Tuama, ’n Ierse teoloog wat oor hierdie teksgedeelte geskryf het:

Surprising Son of God

You revealed the truth to woman

Who were not believed by men.

You are in the voices of the unbelieved

And the ignored.

So bring us towards each other

Bring us towards

The truest truth

Because here, if anywhere,

We will find you.

 

Seëngebed

Die Here is voor jou om die weg vir jou gelyk te maak

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou

Die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val

Die Here is rondom jou om jou te beskerm

Die Here is bokant jou om jou te seën

Die Here is binne jou om jou met sy Gees te lei

So seën die Drie-enige God jou van nou af en vir altyd

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 15 April 2021

Johannes 21:8-19.  8Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 9Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 10Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” 11Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. 14Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. 15Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” 17Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. 18Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” 19Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

Jesus se verskyning aan Petrus, net soos Jesus se ander opstanding verskynings, vertel vir ons presies wat God se prioriteite is.  In die dae na sy opstanding hou Jesus hom nie besig met wraak en vergelding nie.  Hy wreek homself nie op Pilatus of straf die soldate wat hom gekruisig het nie.  Jesus spandeer sy tyd om sy vriende te voed, te versterk en te herstel.  Hy noem Maria op die naam terwyl sy huil.  Hy offer dat Thomas aan sy wonde vat.  Hy braai vis en brood vir sy honger dissipels en herstel die verhouding tussen hom en Petrus.

Jesus fokus op verhoudings.  Op rekonsiliasie.  Op liefde.  Voor sy Hemelvaart spandeer Hy die meeste van sy tyd om sy vriende se vrees, verlamming en hartseer aan te spreek en weg te neem. Jesus is glad nie besig met ’n triomfanklike oorwinning nie, maar kies nederigheid.  Hy kies om ’n eerlike en weerlose vraag vir Petrus te vra, selfs as die antwoord Hom dalk kan seermaak.  Hy kies om sy skape te versorg en lief te hê.   Petrus se skaamte ontmoet Jesus se genade, en Jesus se genade wen.   Dit in ’n neutedop – is die Evangelie.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 14 April 2021

Johannes 20: 24-29.  Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”  26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” 28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29 Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

As die Evangelieskrywer Johannes, oor die opstanding van Jesus skryf, is die eerste storie wat hy kies om daarna te vertel, ’n storie oor wonde en twyfel.  Thomas se storie herinner ons dat opstanding is moeilik en dat ons nie altyd weet hoe om dit te ontvang nie. Hy herinner ons dat geloof nie altyd so eenvoudig hoef te wees nie.  Dat dit okay is om  te twyfel.  Dis okay om onseker te wees en dis okay om ook jou tyd te neem.  Want Johannes kies ’n storie oor twyfel en wonde om ons te help glo.  So indien dit vir jou moeilik is om die vreugde van Paasfees te ontvang,  rus in die wete dat Thomas ook sy tyd geneem het.  Vind troos in die wete dat Jesus vir hom die ruimte geskep het waarbinne hy dit kon doen.  Hou vas aan die gedagte dat deur wonde, Jesus se wonde, Thomas, op sy tyd, ook sy weg gevind het na heelheid.

Gebed

Dankie Here dat die opstanding ook ’n storie is oor wonde en twyfel, sodat ons kan glo. Mag ons dit as ’n geskenk ontvang.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 April 2021

Johannes 20:11-18. 11. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” 16. Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. 17. Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” 18. Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Johannes se oorvertelling van hierdie gebeure is anders as die ander sinoptiese evangelies. Hy skryf dat Jesus by Maria is na sy opstanding en dat sy direk met Hom in kontak kom na Hy opgestaan het.  As ’n tiener het ek my pa aan pankreaskanker verloor. Ek het ook as ’n tiener ongelooflik baie foute gemaak, maar ek sal nooit spyt wees oor my foute nie, want dit het my ook baie geleer.

Elke keer as my susters van my foute te hore gekom het, het hulle vir my gesê: “Hanno, wat sou Pa nou hiervan gesê het?” of “Wat sou jou pa nou aan jou gedoen het?”   Dit het nooit vir my waarde gehad nie tot die dag wat ’n professor in die Teologiese fakulteit van Pretoria vir my gesê het: “Die evangelie is soos bladmusiek, as jy dit nie speel nie, is dit niks meer as leë note op ’n stuk papier nie”. Hierdie woorde het my laat dink aan my pa en wat hy vir my geleer het. As ek nie my pa se waardes en karakter in my lewe uitspeel nie, dan is hy nog steeds dood . . . maar as ek dit speel en deel maak van my bestaan dan lewe my pa in en deur my.

Ek dink dit is ook die wyse waarop Maria aan Christus vasgeklou het.  Ons soek die woorde op die papier sodat ons van tyd tot tyd daarna kan verwys of dit kan lees. Christus wat vir Maria sê: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie.” Dit is juis hierdie realiteit: Dat ons op staan wanneer ons dit leef en dit nie noodwendig tasbaar hoef te voel nie.

Maria en die dissipels moes leer om die bladmusiek van Jesus te speel sonder om Hom by hulle te hê, dit was sekerlik ’n moeilike uitdaging, maar hulle het reeds die note ontvang en daarom vra Jesus dat Maria nie fisies aan Hom moet vashou nie.

Gebed:

Here, dankie dat ons tydens die onsekerheid van die pandemie weet dat U hier is deur hoe ons leef en hoe ons die musiek van u koninkryk in ons alledaagse lewens laat deurbreek.  Dankie dat U nie vir ons ’n goedkoop fisiese antwoord kom gee het wat net werk in ’n sekere konteks, of tyd nie, maar dat ons U nou hier by ons het in die wyse hoe ons u Koninkryk se waardes uitleef.

Mag jy opstaan sonder fisiese goedkoop antwoorde, maar met note wat jou lei om musiek te kan maak in elke konteks en die evangelie te beleef in die hier en nou.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 12 April 2021

Lukas 24:7-26.  Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”Met somber gesigte gaan hulle staan, 18 en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”19. Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”25 Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

Die manier hoe ons die lewe tydens die pandemie benader, maak saak.  Dit is so maklik om baie negatief te raak omdat die wêreld om jou besig is om te verander,  of omdat dinge net nie meer is, soos jy daaraan gewoond is nie.  Die Emmaus-gangers het ’n sekere perspektief oor Jesus se dood gehad.  Hulle het verwag dat Christus vir Israel sou verlos, maar die idee dat Christus se liggaam nie meer in die graf was nie het hulle toe laat dink dat dit nie meer gaan gebeur nie.  Daarom sê Christus vir hulle “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!”.

Shaun Achor ’n  Amerikaanse sielkundige vertel die verhaal van hoe die lens waardeur ons die wêreld benader ons geluk en lewe kan beïnvloed. Hy vertel van hoe hy as kind sy sussie oortuig het sy soos ’n perd geland het toe sy van die bed af geval het en haar arm gebreek het.  Die verandering in haar perspektief het haar dadelik laat ophou huil. Hoe waar is hierdie konsep nie vir ons in ons eie lewens vandag nie?  As ons die lens van ons verwagtings verander kan ons lewe sien te midde van die dood. Christus se opstanding gee vir ons die vermoë om nuwe lewe te sien.

Gebed

Here, dankie dat U ons weer nuwe lewe kom gee deur die Kruis en u opstanding. Dankie dat ons weer opnuut kan besef dat hoe ons na die lewe kyk tydens hierdie pandemie –  saak maak. Here, mag ons in hierdie tyd weer ons verwagtings en ons lense waardeur ons die wêreld benader skoon maak om lewe in ’n tyd van onsekerheid en seer te ontdek.

Mag jy in hierdie tyd deur ’n nuwe lens die wêreld benader omdat Christus opgestaan het uit die dood om nuwe lewe te bring. Mag jy anders kyk, om lewe te sien.

 

Gedagte vir die dag | Sondag 11 April 2021

Lukas:24:1.  Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.” 8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie. 12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Dit is moeilik om in tye van krisisse die groter prentjie rakende gebeure raak te sien. Dit is juis omdat ons in tye van onsekerheid soveel goed het om aan te dink. In sulke tye trek die lewe ’n mens in verkillende rigtings en dan weet ons nie waar om vas te hou, of waar ons moet laat los nie. Die vraag is dan waaraan hou ons vas wanneer dinge moeilik gaan?

Dit is interessant hoe Lukas die opstanding beskryf as iets wat van selfsprekend moes gebeur. Dit is asof die twee manne met die blink klere aan die vroue weer bewus wil maak van die groter prentjie. Hulle vra die vroue: “Waarom soek julle die lewende by die dooies . . . onthou julle dan nie”.  Dit is interessant hoe die mees ondenkbare persone, naamlik die vroue, die groep is wat die groter prentjie eerste raak sien. Iemand soos Petrus kon dit nie eens glo nie en moes terug hardloop na die graf toe om self te sien dat die vroue die waarheid vertel.

Peter Scazzero die skrywer van die boek “Emotionally Healthy Spirituality” skryf dat emosionele volwassenheid ook die vermoë inhou om te midde van die onsekerheid van die lewe nie na strooihalms te gryp nie, maar om gefokus te bly op dit wat werklik saak maak.

Binne die gang van die lewe gryp ons na goedkoop en maklike oplossings.  Fopnuus het dit ook maklik gemaak om in vandag se wêreld na valse inligting te gryp. In tye van krisis leer God ons dat ons die groter prent moet soek en om vorentoe na dit te beweeg. Die beste voorbeeld hiervan in ons onmiddellike konteks is die teenstand wat oor die wêreld heen rakende inenting ontstaan het.  Ons kan so maklik opgesweep raak oor geestelike idees dat die inenting byvoorbeel die “merk van die dier” is.   Sulke idee saai verdeeldheid en laat ’n mens dikwels vergeet dat God se hart (die groter prentjie) die vereniging en herstel van die seer van die Covid-19-pandemie sal wees. Dít is die groter prentjie waaraan ons kan vashou.

Gebed:

Here, ons besef soms dat ons gryp na leë antwoorde binne ’n onsekere wêreld, maar ons dank U dat U vir ons die vermoë gee om te midde van die onsekerheid met ’n groter prent op te staan. Die prent van herstel, eenheid en geregtigheid, omdat U seun dit vir ons aan ’n kruis kom wys het. Mag ons aan U hart vashou te midde van die onsekerheid van die pandemie.

Mag jy in hierdie tyd die hart van God sien en daaraan vashou eerder as die leë beloftes wat ons so angstig oor die toekoms maak.  God help ons om met ’n groter prent op te staan.

Gedagte vir die dag | Saterdag 10 April 2021

Markus 16:1.  Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. 2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” 4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. 6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” 8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Die pandemie raak nou baie lank en uitgerek en jy voel dalk of dit nooit gaan einde kry nie. Die afgelope jaar het almal van ons iets verloor, dalk was dit ’n persoon, ’n geleentheid, ’n verhouding of ’n werk. Ons verlang nog terug na sekere oomblikke en gebeure van die verlede en soms verhoed hierdie geleenthede ons om vorentoe te beweeg. Dit is interessant hoe die vroue by die graf deur die engel gelei word om nie vas te hou aan “waar Jesus gelê” het nie. Die engel neem hulle na die plek toe waar Jesus was om hulle te lei na waar Jesus voortaan gaan wees.

Die oopgestane Jesus is waarheen die engel die vroue wil lei.  Ons besef dikwels nie hoe ons begeertes van die verlede ons soms terug hou nie. Dit beteken egter nie dat ons nie moet ophou werk deur die seer van die verlede nie.  Amy Morin, ’n sielkundige skryf in haar boek “13 things mentally strong people don’t do” dat om deur seer van die verlede te werk is gesond, maar om jouself jammer te kry en in die verlede te bly sit is ongesond.”  Al hoe ons na opstanding beweeg is deur die gebeure van die verlede wat ons laat sink, te laat gaan.

Gebed:

Here mag ons in hierdie onsekere konteks opstaan omdat U reeds opgestaan het. Mag ons deur die pyn en seer van die verlede werk om deur die leë graf te kom, maar gee dat ons nooit vashaak in die seer van die verlede nie. Here dankie dat U ons help om vorentoe te beweeg in tye van onsekerheid.

God help ons om die sinkers van die lewe te laat gaan om nuwe lewe te ontdek.

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 9 April 2021

Matteus 28:1-7.  Na die Sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.  Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.  Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

Hoe om op te staan na die pandemie?

Vrees het ’n groot invloed op ons lewens.  Ons biologiese samestelling is juis daarop gemik om ons veilig te hou.  Dink maar aan die amigdala in die brein, een van die grootste funksies van die amigdala is om ons liggaam se respons op die buitewêreld te aktiveer. Die bekende spreker Trevor Ragan sê dat ’n mens se brein jou liggaam op tye van ongemak, dit wil sê onsekerheid, verandering en uitdaging voorberei. Die enigste probleem is dat ons liggame nie kan onderskei tussen goeie en slegte ongemak nie en ongemak is somtyds juis wat ons nodig het om te groei.

Die vroue by Jesus se graf was reeds gekonfronteer met die ongemak van Jesus se kruisiging.  Hulle het terug verlang na ’n stuk bekendheid en het daarom Jesus se graf gaan besoek. Die engel konfronteer hulle binne die ongemak van die leë graf en spreek die woorde: “ Julle moet nie bang wees nie.” By die graf en te midde van die ongemak kom sê die engel vir die vroue dat dit juis binne hierdie ruimte van ongemak is, waar ons weer nuwe lewe en groei beleef.

Tydens die pandemie beleef ons baie ongemak en onsekerheid, somtyds moet ons in die graf staan en deur die ongemak swoeg, want daar is dalk juis nuwe lewe om te ontdek.

God help ons om op te staan in die tye van ongemak en vrees.

Gebed:

Dankie Here dat ons weer vandag bewus kan word van die feit dat die graf leeg is. Dat ons kan weet dat U by ons is in die ongemak en onsekerheid van die lewe. Here ons kom word vandag stil om weer opnuut te besef dat U ons laat groei deur die ongemak, onsekerheid, angs en uitdagings van die pandemie. Ons kan opstaan omdat U opgestaan het.  Amen.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 8 April 2021

Johannes 17:1-3. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

In ons teksgedeelte is Jesus besig om net voor die traumatiese gebeure van sy lyding en sterwe, vir sy dissipels te bid. Hy besef dat dit vir hulle baie moeilik gaan wees om sin van die komende gebeure te maak en dat dit hulle met baie onbeantwoorde vrae gaan agterlaat.  Die Here het begrip dat hedendaagse gebeure ons dikwels ontnugter en verward kan laat. Daarom is hierdie gebed van die Here ook vandag vir ons so kragtig. Dit laat ons verstaan dat ons kennis van God se aard en karakter ons nou reeds ’n uitsig op die ewige lewe bied. Dit gee perspektief aan alles in die tydelike lewe en help ons om daagliks God se ewige genade en sorg te beleef.

Gebed

Here ons God, wees Uself nou hier by my, sodat hierdie gebed vandag ’n tyd van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n stukkie van U lig in my donker situasie skyn. Ek vra dit in die naam van u Seun, Jesus Christus.

 

1 2 22