Woensdag 23 Oktober is feesmarktyd!

Op Woensdag 23 Oktober om 10:00 word die feesmarkdeure wawyd oopgegooi en besoekers ingenooi.  Maak asseblief seker dat jy nie die feesgeleentheid misloop nie en nooi jou vriende en familie om ook te kom saamkuier.

Hier is alles wat jy omtrent die 2019-feesmark moet weet:

  • Inkopietye en restauranture: Maandag tot Vrydag 10:00 tot 20:00 en Saterdag 09:00 tot 18:00. Sondae is die mark gesluit.
  • Krediet-, debiet- en Kaapse Verbruikerskaarte word aanvaar.
  • Rolstoele is beskikbaar – vra asseblief daarvoor by ontvangs.
  • Parkering is gratis.
  • Die feesmark is vanaf die ingang tot eindpunt ’n hele kilometer lank. Indien jy ’n treëteller-armband of -horlosie besit, kan jy dit gerus dra wanneer jy die mark besoek en sommer so tussen die inkopies deur ’n bietjie oefening ook kry.
  • Feesmarkuitleg: Kliek gerus op die kaart en laai dit af sodat jy vooraf jou roete kan beplan.
  • Die restaurant bedien daagliks die volgende etes: afval en gekookte etes, vars gebakte pasteie, quiche, burgers, roosterkoeke, schnitzels, wraps, vis-en-skyfies en vetkoek. Vir diegene met ’n soettand sal daar pannekoek, melktert, koek en suurlemoenmeringuetert te koop wees.
  • Vars mengeldrankies wat uit groente gemaak word, is ook te koop. Jy kan self besluit of jy jou mengeldrankie met vodka of gin, of daarsonder, wil geniet.
  • Skin Clay Products bedryf ’n skoonheidsalon op die feesmarkperseel. Verskeie behandelings is beskikbaar. Bespreek gerus vir die behandeling van jou keuse by hulle stalletjie in die gang voor die kleinsaal.
  • Daar sal tydens die feesmark daagliks geleentheid wees om bloed te skenk by die bloedskenkambulans. Skenkers ontvang daarna ’n gratis koppie koffie of tee by die feesmarkrestaurant.
  • MJ Brooks, een van ons talentvolle lidmate, sal al om die ander aand by die restaurant optree en die gehoor met sy bekende treffers op klawerbord en trekklavier trakteer.
  • Die tuinafdeling het heelwat vergroot en is ’n besoek werd.

Ons vertrou dat die feesmark vir ons besoekers, maar ook vir ons uitstallers ’n baie positiewe belewenis sal wees en dat al die gewoel en gewerskaf daagliks tot eer van sy koninkryk sal plaasvind.