Winteruitreike saai hoop

Deur: ds. Why Duvenhage

Ons is die Vader dankbaar dat al die uitreike van die afgelope Junie/Julieskoolvakansie weer met groot seën afgehandel is.  Ons kan dit nie net as ’n gegewe aanvaar dat ons jaarliks veilig met verskillende voertuie duisende kilometers aflê en met liefde deur gemeenskappe ontvang moet word nie – maar die afgelope vakansie was dit deur die genade weer so.

Ons het vyf georganiseerde uitreike gehad, waaraan meer as 100 jongmense deelgeneem het.  In die Karoo en Klein-Karoo het ons onder andere na Zoar, Calitzdorp, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes uitgereik en dan is Bambisana in die Transkei en Mavusa in Limpopo ook besoek.

Dis verstommend om jongmense se ywer om van hul kosbare vakansietyd vir dié dienswerk op te offer, te aanskou. Hierdie jaar was dit veral ook spesiaal omdat meer volwassenes by die uitreike betrokke geraak het en groot insette gelewer het. Hieroor is ons baie dankbaar en glo dat ons in die toekoms meer op volwassenes se hulp kan staatmaak.

Die belangrikste aspek van ons uitreike is die standhoudende prosesse wat op verskillende dorpe begin posvat.  By ons basis in Mavusa gaan ’n landbouprojek van krag tot krag en ek kon tydens die uitreik  leierskapkursusse vir geestelike leiers, asook vir ’n groep jong leiers, aanbied. Die opleiding vir jong leiers in Mavusa het tot die ontwikkeling van ’n nuwe, opwindende entrepreneursprojek aanleiding gegee.  Drie jong, werklose manne het hulle visie om klein besighede te vestig met my gedeel en ons vertrou die Here se seën op dié projek.  Soortgelyk is die bakkery in Vosburg, waar ons plaaslike mense oplei en ondersteun om brood te bak.

Ons is opgewonde oor die beweging in veral Beaufort-Wes, waarnatoe ons drie jaar gelede vir die eerste keer begin uitreik het.  Ons het soggens 500 kinders met die kinderbedieningprogram bereik en smiddae meer as 150 tieners by die tienerprogramme betrek. In die Transkei was veral die besoeke aan Mamma Christina in Magwambu een van die hoogtepunte.  Dit was ook besonders dat ons nuwe jeugleraar, Hanno,  ons uitreik na Leeu-Gamka gelei het.

Ons is met dank vervul teenoor die Here vir die voorreg om in al hierdie gemeenskappe te mag werk, om te sien hoe God te werk gaan en om by Hom aan te sluit in wat Hy reeds besig is om te vermag.  Ons vertrou dat die Here ons na die plekke neem waar Hy weet ons bediening nodig is en dat Hy ook die werk wat daar gedoen word, deur sy Gees in stand hou.

Tydens die opleiding van ons uitreikspanne, het ek herhaaldelik vir uitreikers gesê dat hulle wel gaan uitreik, maar dat hulle moet onthou dit is ook ’n inreik.   ’n Inreik beteken dat ons onsself ook geestelik verryk deur ons blootstelling aan die verskillende werklikhede en omstandighede in ons uitreikgebiede. Om nuwe mense te ontmoet en  nuwe ervarings saam met God te beleef, vorm alles deel van die inreik.

Baie dankie aan al ons lidmate wat betrokke was by die uitreike, deur te gaan, deur te gee, deur te bid. In besonder ook aan ons ywerige breigroep wat honderde musse, serpe en truie vir die uitreike gebrei het.  Dit is oral met groot dankbaarheid ontvang en ons is met groot glimlagte beloon.