Wanneer ’n mens in die hoësorgeenheid beland

deur: Wessel Visser*

Die Julievakansie van 2019 het aangename vooruitsigte vir die Vissers ingehou.  My vrou, Irmgard,  en dogter, Karen, het goeie afslagvlugte en -verblyf op die  internet opgespoor en met dié is die Vissers vort na die Zimbalilandgoed in Ballito, KwaZulu-Natal.  Ons baai in die heerlike warm winterweer en besoek ook die Hluhluwe-wildtuin noord van Durban.  Op die laaste oggend van die kort vakansie besluit ons om bergfietse by die hotel te huur sodat ons die Ballitolandgoed kan verken, voordat ons later die Saterdagmiddag sou terugvlieg Kaap toe.

Dis maar op-en-af-paadjies in die Natalse duineveld en ek en my seun, Tiaan, ry voor.   ’n Steilerige afdraand lê voor my met ’n ewe steilerige opdraand en ek laat die fiets begaan – foutjie!  Toe die fiets begin wankel, trek ek instinktief die rem – in my bergfietsonkunde waarskynlik die verkeerde voorste rem – en lanseer myself vorentoe, soos ’n missiel. Al wat ek onthou, is ’n hengse slag op die linkerkant van my rug wat my ’n paar keer van pyn na my asem laat snak het.  Hulp d.m.v. die landgoed se golfkarretjies het vinnig opgedaag en te danke aan die adrenalien in my are, kon ek nog stort en skoon aantrek, terwyl my dogter reëlings met die nabygeleë Ballito Netcare Hospitaal tref.

Aanvanklik het ons gedink dis moontlik net ’n skouerontwrigting en ek sou met ’n opgebinde skouer die vlug die aand huis toe kon haal.  Die ontsettende pyn met die neem van x-strale en na die traumadokter se ondersoek, het egter gou die ontnugterende werklikheid na vore gebring:  ’n ontwrigte linkerskouerblad, gebreekte linkersleuterbeen, gebreekte ribbes en ook ’n gebreekte regterpinkie. Hospitalisering en operasies was my onvermydelike voorland. Daar was geen nut daarin dat my gesin teen groot koste moes agterbly nie en hulle is toe die middag volgens skedule terug Kaap toe.

Die eerste gewaarwording van lewe wat ek agt dae later ervaar, was ’n gasmasker so styf teen my gesig geplak dat dit my neusvel ’n bietjie seergemaak het.  Agt dae lank was ek in ’n toestand tussen bewustheid en bewusteloosheid – iets wat ’n mens nie jou grootste vyand sou wou toewens nie.   Later verneem ek van die dokters dat my niere ook gedreig het om probleme te gee en dat hulle dit ook moes stabiliseer.  Van my verjaardag op 16 Julie weet ek nie veel nie, al het my gesin presentjies per koerier laat aflewer.

Na agt dae begin ek uiteindelik  my bewussyn volledig herwin en kon ek my situasie begin ontleed. Die intensiewe-afdeling van ’n hospitaal, ten spyte van die uitstekende sorg, is geen aangename plek nie.  Monitors raas en êrens lê iemand altyd en roggel, of hoes.  Jy leer maar later om geduldig aan te pas by die intensiewe afdeling se roetine, maar die tyd gaan ontsettend stadig verby. Die enigste tyd vir  slaap is vanaf elfuur in die aand nadat die skoonmakers klaar gewerk het en die skerpste ligte afgeskakel word.  Dan waak net die monitors en ’n mens se persoonlike suster, wat op groot omblaaivelle gedurig inligting aangaande jou bloeddruk, asemhaling, ens. neerskryf, oor jou.  Dit word weer die volgende oggend deur die dokters bestudeer. Om vyf uur word jy wakker gemaak om gewas te word, met ’n laaste insluimering tot seweuur voordat die dag- en nagskofte ruil.

So begin die dae rek. Plaaslike pasiënte ontvang gereeld besoekers, maar ek voel asof ek op my eie eiland in die Indiese Oseaan lê.  In die tweede week kry ek wel ’n verrassende opkikkering toe my vrou se niggie en haar vriend uit die bloute een aand tydens besoektyd opdaag, nadat hulle vir ’n paar dae om werkverwante redes uit Pretoria ’n draai in Durban kom maak het. Dit was ’n positiewe inspuiting vir my gemoedstoestand, maar daarna duur my isolasie van die buitewêreld voort.  Die nuwe vriendelike matrone van die hospitaal, nogal ’n Afrikaanse Hoffman uit die Vrystaat, kom doen elke oggend saalrondtes en een of twee keer kry ek darem ’n plaaslike koerant te lees om my weer ’n slag met die buitewêreld in kontak te bring. Ek was ook baie dankbaar vir selfoontegnologie. Selfone word nie in die intensiewe eenheid toegelaat nie, maar ek word darem toegelaat om soggens my vrou te bel om die nuutste inligting oor my prognose aan haar oor te dra.

In die geharwar om my by die hospitaal te kry, is my Bybel nie saam met my soontoe nie en Bybels word klaarblyklik ook nie meer aan hospitale voorsien nie. Ek het ’n behoefte aan die Woord van die Here en bel later selfs my niggie in Middelburg, Mpumalanga.  Sy is ’n lid van die Gideons-Bybelverspreiders, maar hulle het toe blykbaar ook geen kontakte in Ballito nie.  Gelukkig kom Brenda, my suster, tot my redding en stuur via die selfoon daagliks vir my dagstukkies wat geestelik vir my geweldig baie beteken het.

Na ongeveer tien dae in intensief word ek na ’n ander saal uitgeskuif en begin my reeks fisioterapie-sessies.  Daar kom my uiters bekwame fisioterapeut agter ek is meer kortasem en duiselig tydens die oefeninge as wat ek veronderstel was om te wees.  Die uiteindelike diagnose: ’n bloedklont in my linkerlong en hematose op my linkerdy.  En wat beteken dit – terug na die intensiewe-eenheid met suurstofpypies onder die neus.  Ver weg van jou geliefdes wil-wil ’n mens wanhopig en vertwyfeld raak oor die erns van jou beserings en die tydsduur van hospitalisering. Vele kere is ek in gesprek met my Hemelse Vader, maar my suster stel my gerus dat sy in haar geestesoog gesien het hoe die Here self langs my siekbed staan en waak.

Deurentyd, gedurende die lang en nimmereindigende periode in die intensiewe-afdeling, begin ek  groot respek en dankbaarheid teenoor die verpleegpersoneel ontwikkel.  Hulle is almal Zoeloe- of Indiërsusters.  Dis mense wat met die grootste toewyding en sorg hulle werk doen.  Altyd vriendelik en bedagsaam, ten spyte daarvan dat sommige pasiënte onbeskof en ongeduldig is.  Hulle werk lang ure en hul salarisse is ook nie waffers nie.  Tussendeur probeer hulle ook kinders grootmaak en families bymekaar hou. Hulle kom van plekke soos Stanger en Tongaat, wat beteken dat hulle baie vroeg op die been moet kom om betyds by die werk uit te kom en dan saans weer laat en moeg die huis instrompel.  Voortaan kyk ek met nuwe oë na verpleegpersoneel en dra hulle gereeld in my gebede op.

Teen 29 Julie kom daar uiteindelik goeie nuus. Ek is uit die intensiewe-afdeling onstlaan, maar weens gebreekte ribbes en ’n ingeduikte linkerlong sou ek nie die atmosferiese druk in die vliegtuig kon hanteer nie en huis toe  vlieg is uit vir die volgende drie maande. Daar was net een uitweg – per motor terug Kaap toe. Irmgard en my swaer het my kom haal. Die eerste skof was deur die Transkei, wat tans maar vaal en droog daar uitsien, tot in Gonubie, naby Oos-Londen.  Vandaar tot by my skoonsuster in Knysna en op Sondag 4 Augustus het ek uiteindelik na byna ’n maand tuisgekom. Genade onbeskryflik groot!

Huis bly maar die beste hospitaal. Tans ondergaan ek intensiewe fisioterapie en behoort teen September weer “salarisverdienend” en operasioneel te wees. Uiteraard laat so ’n ervaring op 62-jarige ouderdom ’n mens met baie stof tot nadenke. Dit laat jou besef jy is liggaamlik baie meer broos as wat jy gedink het, maar in die besonder het ek, en ervaar ek steeds daagliks, die helende en genesende krag van my Hemelse Vader.  In Psalm 50:15 en 23 het ek veral baie inspirasie gevind: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal my eer . . . Die mens wat My eer, is die een wat lof as ’n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red”.

Baie dankie ook aan almal, benewens die vriendelike mediese personeel, my familie wat my in hulle gebede opgedra en sommige mense wat ek nie eens persoonlik ken nie. Dit was ’n ware riem onder die hart om te besef hoeveel ondersteuning ’n mens in sulke tye van nood geniet. Dit is baie meer werd as al die klatergoud van die wêreld.  Ek kan ook getuig dat Stellenberg ’n ware omgee-gemeente is. Maar ten slotte alle eer aan my Hemelse Vader wat my deur ’n tyd van beproewing in sy hande gedra het en dit daagliks nog steeds getrou doen.

*Wessel Visser is ’n lidmaat van Stellenberg.  Hy en sy gesin woon in Kendalweg 104, Eversdal.