Vyftigste verjaarsdagviering bring vreugde

Dirmü Gouws, ’n jarelange lidmaat van die gemeente, het in Augustus haar vyftigste verjaarsdag saam met die lede van Ruyterwacht Senior Sentrum gevier.

Dirmü vertel dat sy ’n ruk voor haar verjaarsdag op Facebook gesien het hoe ’n ou skoolvriendin haar verjaarsdagpartytjie in ’n liefdadigheidsgeleentheid ten bate van ’n plaasskooltjie op die Bottelarypad aangebied het en dit het vir haar na ’n briljante plan geklink.

“Ek het verlede jaar eerstehands met Ruyterwacht Senior Sentrum kennis gemaak toe my skoonma verhuis het en ons van haar oortollige meubels en klere moes ontslae raak,” sê Dirmü.  “Margaret Olivier, sentrumbestuurder, het my so beïndruk met haar vriendelike en flinke persoonlikheid dat die Ruyterwacht Senior Sentrum eerste my gedagtes te binne geskiet het, toe ek begin dink het aan ’n instansie waarby ek betrokke wil raak.

“Ek het my verjaarsdagviering in oorleg met die organiseerders van die sentrum se oggendprogram aangebied.  Vier van my vriendinne het my vergesel en ons het na die oggend se geestelike program, tee saam met die seniors geniet.  Almal is met ’n spesiale verjaarsdagkolwyntjie bederf.  Die oggendprogram word altyd met ’n middagete afgesluit en daarna het ek vir malvapoeding en vla gesorg.

“My vriendinne het in plaas daarvan om vir my geskenke te koop, ’n finansiële bydrae tot die sentrum gemaak.  Margaret het ook vir ons vertel dat die sentrum aan lede van die gemeenskap die geleentheid bied om ’n senior burger se ledegeld van R150 per maand te borg.  Lidmaatskap van die sentrum bied aan seniors die geleentheid om twee keer per week by die sentrum in te skakel.  Hulle ontvang dan gratis verpleegdienste, ’n gebalanseerde middagete en skakel ook by die sentrum se sosiale program in.”

 Ons wens jou ’n wonderlike nuwe lewensjaar toe, Dirmü.  Jou mooi gebaar het die wyse woorde van St. Franciscus van Assisi by ons laat opkom: “For it is in giving that we receive.”  Mag ons almal die genade ontvang om ons lewens so te lei. Red.