Vroue breek weg van die stadsgewoel

Deur: Karen Visagie

Ek het met gemengde gevoelens na die naweek-wegbreek uitgesien.  Ek het daarna uitgesien om met God se Woord en ook saam met vriendinne tyd deur te bring, maar terselfdertyd was ek bekommerd oor die moontlikheid van koue weer en veral die buitestort het my nogal gepla.

Groot was ons verligting en dankbaarheid toe die weer saamspeel en ons die heerlikste naweek ooit beleef het.  Die weer was warm en sonnig en so ook die stort en die vriendinne!

Die naweek se tema – Hoe belangrik vroue vir God is – is uitgebeeld in die kunsprojekte wat ons elkeen gemaak het en dit het ook die kern van ons gesprekke gevorm.  Elke kunsprojek is geskuur en geskaaf totdat dit aan ons vereistes en verwagtinge voldoen het.  Groot was die oomblik toe ons hierdie perfekte-onperfekte kunswerke met ’n lagie vernis kon verseël.

Seker een van die hoogtepunte van die naweek was die stappery.  Ons het ver gestap, ’n hele 3.5 km op die sand, elkeen met ’n ballon in die hand.  Op die ballon moes jy al jou laste neerskryf.  Die staptog met  ’n swaar, lasbelaaide ballon was nie ’n ligte takie nie.  Aan die einde van die roete het ons ons ballonne verbrand om simbolies uit te beeld hoe God ook ons laste by ons oorneem.

Ons het voldoende alleentyd gehad om in die natuur saam met God te kon spandeer.  Na die alleentyd het ons bymekaargekom en met mekaar ons begrip en vertolking van God se Woord gedeel.

By geleenthede soos hierdie besef ’n mens weer wat die waarde van jou kerk, nuwe en ou vriende, kuns, saameet en lekker kuier is.  Baie dankie aan ds. René Potgieter vir ’n belewenis wat ek en die vroue vir niks ter wêreld volgende jaar sal misloop nie!