Voorwaardes vir ’n toekoms in ’n nuwe land

Deur: Dr. Braam Hanekom*

Ekonomiese data wat die afgelope maande bekend gemaak is, laat die meeste Suid-Afrikaners moedeloos.

As ontwikkelende land is ons tans vasgevang tussen drie werklikhede:  internasionale dinamika; ekologiese werklikhede, wat ons laat besef dat ons ou modelle vir ekonomiese groei nie volhoubaar is nie, en plaaslike sosio-politieke onsekerhede. Dit skep ’n “perfekte storm”.

Te midde van dít alles woed daar ’n intense gesprek oor ekonomiese sisteme en armoede. Hierdie kan nooit net kliniese gesprekke wees nie, maar gesprekke wat diep etiese vrae aan gelowiges rig.

As gelowige lyk dit vir my of daar twee beginsels is waarby ons nie gaan verbykom nie. Die eerste is dat geen sisteem wat ongelykheid in die hand werk op die skaal soos wat dit tans gebeur, aanvaarbaar kan wees nie. Die tweede is dat geen sisteem wat die aarde (ekologies) vernietig, aanvaarbaar kan wees nie.  Hierdie is basiese Bybelse beginsels.

Maar so is daar ook ander Bybelse lense waardeur ’n mens kan kyk. Al verskil die kontekste hemelsbreed en is dit onmoontlik en onverantwoordelik om reglynige opdragte tussen Bybelse tye en vandag te trek, is daar tog beginsels wat ons kan help.

Neem ’n teks soos Deuteronomium 10. Die volk het met hul dans om die goue kalf hul verbondsverhouding met God verbreek en so ook oënskynlik die belofte van ’n nuwe land verloor. Dan kom God ’n tweede keer by monde van Moses na hulle en bied hulle weer “die land” aan. Ek lees dit as ’n metafoor vir ’n tweede kans, wat ook op ons van toepassing is.

Daar is egter drie voorwaardes: Onthou alles behoort aan die Here, selfs al ontvang julle die land;  God gaan absolute gehoorsaamheid vra;  God dring aan op die sensitiewe versorging van weduwees, kinders én vreemdelinge. Die opdrag oor vreemdelinge is veral vir ons moeilik.

Hierdie beginsels kan dalk vir vandag soos volg vertaal word:  Daar is niks verkeerd met privaatbesit en eiendomsreg nie. Meer mense moet dit kry, maar hou jou besittings liggies vas – jy is nie die finale besitter nie; soek met alles wat jy het na ’n nuwe moraliteit en gehoorsaamheid; en leef met ’n nuwe sensitiwiteit teenoor die armes en die vreemdelinge.

Laasgenoemde is ’n komplekse uitdaging, maar nie so moeilik nie. Daar is byvoorbeeld situasies wat ons aandag verdien. Die verslegtende ekonomiese situasie en voortgaande menseregtevergrype in Zimbabwe, het nóú ons aandag én die van ons regering dringend nodig. Ons is onlosmaaklik deel van Afrika en ons welsyn kan nooit losgemaak word van ons bure se welsyn nie.

Ons smag na ’n tweede kans om ons land te maak werk . Ons hoef egter nie net te sit en wag nie. Daar is heel konkrete handelinge wat ons gebede moet vergesel.

*Dr Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, Wes-Kaap Sinode.  Hy is ook ’n lidmaat van die gemeente en neem soms preekbeurte hier waar.