Van Tafelberg tot die Alpe

Stellenberg en Fürstenfeldbruck, in Duitsland, waar Stellenberg ’n groeiende vennootskap het met die Evangelies-Lutherse Kerk, het een ding in gemeen – beide die dorpe het ’n uitsig op wêreldbekende berge.  Vanaf Stellenberg het ons ’n pragtige uitsig op Tafelberg en vanaf Fürstenfeldbruck is die Alpe-bergreeks weer sigbaar.

Die voorbereiding vir ’n besoek van ’n Stellenbergspan wat Beiere vanaf 20 Maart tot 6 April besoek, is volstoom aan die gang en ons vriende in Fürstenfeldbruck doen baie moeite om met tipies Beierse gasvryheid als vir ons besoek agtermekaar te kry.  Die besoek word hoofsaaklik deur Weltwärts, ’n Duitse organisasie wat Noord-Suid-dialoog en samewerking bevorder, befonds.  In Maart 2018 was ’n groep jongmense van Fürstenfeldbruck ons gaste en hulle het toe onder andere ’n eerstehandse blik gekry op armoede en die behoefte aan goeie opvoeding in sommige van ons gemeenskappe.

Onder die tema armoede en opvoeding, wat ook aansluit by die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, poog ons om saam met ons Beierse vriende verskillende geleenthede vir samewerking te ontsluit.  Ons gaan tydens ons besoek ook leer hoe die Beiers hierdie temas in hul omgewing hanteer. Alhoewel ons ’n groep jongmense na München stuur, is die vennootskap tussen Stellenberg en Fürstenfeldbruck meer as net ’n jeuginisiatief.  Die res van die gemeente moet ook deel word van hierdie vennootskap.  Ons wil graag baie meer mense betrokke kry by inisiatiewe wat fokus op armoedeverligting deur middel van opvoeding.    Die doel van die besoek is:

  • Om die tema armoede en opvoeding in Duitsland in diepte te verken, met die doel om saam te werk aan ’n holistiese benadering deur beide lande om armoede te verlig;
  • Om die idees in praktiese projekte om te skakel en as vennote daaraan te werk.

So hoop ons om beslis ’n verskil in die wêreld te maak. Die vennootskap bied ook meer geleenthede vir skakeling.  Gasvryheid, wat vir ons sowel as vir die Beiers belangrik is, kan bv. prakties gestalte kry deur ’n spesiale Stellenberg-Airbnb-diens vir Beierse besoekers aan te bied en omgekeerd.  Dis tog lekker om ’n eiesoortige, gasvrye ontvangs in ’n nuwe omgewing te kry. Soos Tafelberg en die Alpe belangrike natuurlike bakens in ons onderskeie streke is, wil ons ook bakens van hoop vestig deur hierdie besoek en die versterking van ons vennootskap.

 

*Dirk Brand is leierouderling van die gemeente.