Rus en stilte in Wellington

deur: Philipp Dietmann

By die meditatiewe diens probeer ons vir mense ’n ruimte skep waar almal by God kan kom stil word en rus vind.  In hierdie ruimte herinner ons mekaar daaraan dat God elke dag saam met ons op reis is, en dat ons ook medereisigers is wat na mekaar se stories luister.   Ons dink, droom en oordink ook oor hoe God ons uitnooi om saam die wêreld ’n beter en meer betroubare plek te maak.

Ek vermoed dat baie mense die behoefte het om stil te word en die geraas van hulle lewens en die wêreld om hulle vir so ’n rukkie af te skakel.  In Wellington is ’n sentrum vir spiritualiteit spesifiek vir dié doel  ontwikkel.  Daar word besoekers die geleentheid gebied om die geskenk van stilte te ontdek.

Vandaar het die gedagte aan ’n kwartaallikse wegbreekgeleentheid ontstaan.  Belangstellendes sal die opsie hê om as deel van ’n groep, of alleen en op sy/haar eie tyd, stilte op te soek.  Groepe wat die sentrum besoek, sal op ’n Vrydagaand daar oornag en Saterdaglaatmiddag terugkeer huis toe.

Akkommodasie en etes word voorsien.  Ons sal binnekort die eerste datum vir ’n groepbespreking bekend maak.  Akkommodasie word vir 40 persone aangebied en elke gas het sy/haar eie kamer en badkamer.

Ons beplan ook tans ’n pelgrimstog wat jaarliks onderneem sal word.  Frederick Marais het na sy persoonlike ervaring van die Camino-pelgrimstog in Spanje,  die “pelgrimstog van hoop,” wat deur die hele Boland en verder strek, ontwikkel.  Ons wil ook aan lidmate die geleentheid bied om saam te stap op die “pelgrimstog van hoop”.  Volledige inligting oor dié pelgrimstog sal eersdaags beskikbaar wees.