Reformasievieringe in Lutherstadt Wittenberg

 deur: Dirk Brand*

Die dorp Wittenberg het bekend geword vanweë Martin Luther se protes in 1517 teen die Rooms-Katolieke Kerk.  Daardeur is die kerk verdeel is en die era van die Reformasie het gestalte gekry.  Lutherstadt Wittenberg, soos dit vandag bekend staan, dra in 2017 ’n nuwe boodskap, naamlik een van versoening, inklusiwiteit en hoop, die wêreld in. Ek het die voorreg gehad om saam met ongeveer 120 000 Christene, meestal uit Duitsland, die Reformasie-feesdiens die afgelope Meimaand op ’n oop stuk veld, bekend as die Elbwiese, aan die rand van Lutherstadt Wittenberg by te woon.

Die boodskap was duidelik dat die Reformasie nie ’n Duitse, of selfs net ’n godsdienstige hervorming was nie, maar dat dit die wêreld verander het.  Die feit dat aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk in Kaapstad die prediking behartig het, getuig hiervan.  Vanuit Wittenberg is na buite gekyk en ’n nuwe ekumeniese boodskap van hervorming die wêreld ingestuur.

Sesduisend koperblasers van verskillende dele van Duitsland was verantwoordelik vir die musikale begeleiding.  Daar was ook ’n simfonieorkes en koor, wat die podium met die sprekers gedeel het.  Die skare het van vroeg af al kilometers ver gestap om hul plek op die feesterrein in die warm son in te neem.  Gelukkig het die Deutsche Bahn genoeg bottelwater uitgedeel om almal se dors te les.

Aartsbiskop Thabo Makgoba het in sy preek sy droom vir ’n wêreld sonder narsistiese en isolasie-politiek uitgespreek, ’n wêreld waarin ons alle mense insluit en mekaar as as mense sal raaksien en ag, soos wat God ons elkeen raaksien en ag.  Volgens hom was die Reformasie ’n waterskeidingsmoment in die geskiedenis van die mens en gee die viering daarvan in 2017 vir die mensdom ’n nuwe GPS-stelsel vir die volgende 500 jaar.  Die voorsitter van die Evangelische Kirche in Duitsland, biskop Heinrich Bedford-Strohm sowel as ander senior kerkleiers, het ook boodskappe van hoop gelewer.

In sy boodskap het die Duitse president, Frank-Walter Steinmeier, wat ook ’n Protestant is, Christene aangemoedig om nog meer inklusief te wees.  Die samewerking tussen kerke lewer ’n positiewe bydrae tot die land, het hy gesê.  Konstruktiewe dialoog is steeds vandag net so nodig as tydens die Reformasie.  Probleme moet deur woorde en nie met wapens nie, opgelos word.  Die Feesdiens is afgesluit met nagmaal waar die feesgangers mekaar met brood en wyk kon bedien.

Die ou middeleeuse dorp het sy vere reggeskud vir die duisende besoekers en die inwoners het ons gasvry ontvang.  Die Duitse Federale Regering sowel as die plaaslike en provinsiale regerings, het baie daarin belê om die geskiedkundige erfenis van Wittenberg, wat deur die DDR-regering verwaarloos is, te herstel.  Luther se werkplek, die teoloog Philip Melanchton se huis en die woon- en werkplek van Lucas Cranach, ’n bekende skilder en boekuitgewer van die 16de eeu – alles geleë in die ou historiese dorpskern – was die fokus van die restourasieprojek.  Die Slotkerk, waar Martin Luther sy 95 stellings vasgespyker het asook die  Stadskerk, waar Luther ook by geleentheid gepreek het, kon deur die feesgangers besoek word.

Die komplekse wêreld van vandag smag na die herlewing van die Reformasie en die boodskap wat van Lutherstadt Wittenberg uitgestuur is, is duidelik – dialoog van aangesig tot aangesig bring hoop.

*Dirk Brand is die leierouderling van Stellenberg-gemeente.