Reformasie se invloed op die gemeenskap

deur: Dirk Brand

Binne die Protestantse kerke wêreldwyd word die Reformasie as ’n belangrike hervorming van die Christelike kerk gesien en gevier en dit is ook reg so.  Die Reformasie wat in 1517 amptelik begin het (alhoewel daar al vroeër ook hervormingsinisiatiewe was),  het ’n baie breër trefkrag gehad as net binne die kerk.  Dit het ’n era van hervorming ook in ander gemeenskappe en ook op ander gebiede meegebring.

Martin Luther se twis met die Rooms-Katolieke kerk het in die eerste plek oor die Christelike geloof en kerklike praktyke (eintlik wanpraktyke) gegaan, maar die kerk het ook ’n direkte invloed op die owerhede van daardie tyd gehad en dus het die dispuut tussen Luther en die kerk ook die breë gemeenskap beduidend beïnvloed.  So is Pous Leo X se aanklag teen Luther by die Reichstag in Worms deur keiser Karel V, keiser van die Heilige Romeinse Ryk, aangehoor.  Alhoewel die pous Luther uit die kerk verban het, moes die keiser oor Luther se toekoms beslis.  Luther het heelwat steun in die gemeenskap gehad, ook van prinse en heersers van daardie tyd.  Een van hulle, kroonprins Friedrich die Wyse van Sakse, het Luther gehuisves in die Wartburgkasteel waar hy van sy belangrikste werk gedoen het, o.a. om die Bybel in Duits te vertaal sodat gewone mense dit ook kon lees en verstaan.

In Wittenberg, waar Luther onder andere professor in teologie was, het hy oor die jare talle gaste aan huis ontvang en tydens etes is daar baie gesels oor die Christelike geloof, maar ook oor alledaagse kwessies.  Familielede, studente, reisigers en van sy geleerde vriende, soos Philip Melanchton en Lucas Cranach, was sy gespreksgenote.  Luther het mettertyd sy vriende aangemoedig om belangrike gedagtes neer te skryf.  Een van Luther se gespreksgenote, die priester, Konrad Cordatus, het die gesprekke stelselmatig begin opteken en so ’n belangrike verwysingsbron ontwikkel wat jare na Luther se dood as Martin Luther Tischreden (tafelgesprekke) gepubliseer is.

Onderwerpe soos die familie, opvoeding en die owerheidsgesag is heel dikwels om die tafel bespreek.  Een van die wyshede wat uit dié tafelgesprekke oor die politiek en die opvoedkunde vorendag gekom het, was:  “Sonder burgermeesters, prinse en adellikes kan ons klaarkom, maar nie sonder skole nie – hulle moet die wêreld regeer.”  Luther het ook gesê dat owerheidsgesag nodig is en dat vir die owerheid gebid moet word.  Oor die sterrekunde en wiskunde was hy positief omdat dit met feite bewys kon word.

Om die tafel, soos op die foto,  is ook bier gedrink en een van Luther se gesegdes was dat wie geen bier het nie, het niks om te drink nie!  Op ’n meer ernstige noot het hy ook Christene aangemoedig om te praat oor en betrokke te raak by belangrike kwessies in die gemeenskap. Hy het gesê: “Ons lewens begin om te eindig op die dag wanneer ons stil word oor die dinge wat regtig saak maak.”