Ontmoet vir ds. Philipp Dietmann

Philipp Dietmann is reeds etlike jare by Stellenberg-gemeente betrokke.  Aanvanklik het hy as proponent prediking by die aanddienste behartig en die afgelope drie jaar was hy verantwoordelik vir die meditatiewe diens.

Philipp is op 14 Julie as tentmakerleraar in Stellenberg bevestig.  Die benaming tentmaker verwys na  Paulus se bediening in die Bybel toe hy regtig tente gemaak en verkoop het, terwyl hy ook gemeentes bedien het .  ’n Tentmakerleraar dui dus op ’n leraar wat ’n ander beroep of loopbaan beoefen, onderwyl hy/sy ook ’n gemeente bedien.

Stellenberger het na sy bevestiging by Philipp ingeloer om hom van naderby  te leer ken.

Waar het jy grootgeword en gematrikuleer?  Ek is hier gebore en in Stellenberg-gemeente gedoop.  Ons het later na Johannesburg verhuis. Ek het in Randburg skoolgegaan en ook daar gematrikuleer.

Was teologie maar altyd in jou bloed, of wanneer het jy finaal besluit om dit te gaan studeer?  Ek het nog altyd ‘n liefde gehad vir die kerk, so ek het van vroeg reeds ’n belangstelling gehad in teologie.  Tydens my matriekjaar het ek finaal besluit om teologie aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer.

Jy is as ’n tentmakerleraar aangestel, wat beteken jy het van Maandag tot Vrydag ’n ander werk.  Wat doen jy en waar werk jy?  Ek is ‘n finansiële beplanner by Old Mutual.

Watter deel van die bediening as leraar geniet jy die meeste?  Om te sien hoe die evangelie ’n mens kan vry maak om dié mens te wees wat God bedoel het jy eintlik moet wees.

Wat is jou gunstelingplek in die wêreld?  Daar is ‘n klein hotel in Rannoch Moor in die Skotse Hoogland met ’n reuse-whisky-versameling. Daar bly net vyf mense op die dorp en saans kan jy sien hoe die takbokke by ‘n afgetrede oom aandete gaan eet.  Dit is my gunstelingplek.

Jou gunstelingkos?  Die gewone staatmakers soos lamskenkel, pasta en braaivleis.

Het jy ’n tydverdryf wat jy baie geniet? Wat is dit en wanneer kom jy daarby uit?  Ek het onlangs na jare se aftyd, weer begin draf. Dis vir my geweldig terapeuties, maar ongelukkig is dit nie altyd moontlik om in die winter daarby uit te kom nie.

Het jy broers en susters hier naby, of is julle ook oor die aardbol versprei?  My suster is net ‘n jaar jonger as ek. Sy en haar man bly in Sonstraalhoogte en het ‘n seuntjie, Daniel, wat nou drie jaar oud geword het. Hy is my en my man se peetkind, en ek mag dalk partydig klink, maar hy is letterlik die oulikste en slimste kind op die planeet. Daniel kan tot 20 tel, alhoewel dit nie altyd in die regte volgorde is nie en hy ken al die karakters in die Lion King-film se name.

Kan jy aan iemand spesifieks dink wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het?  Wie is dit en wat het jy by die persoon geleer?  Nico Simpson, wat detyds ‘n kollega by Kruisgenerasie was en deesdae by Bybelmedia werk, het my geleer dat stories mense se lewens verander, dat ons met sagte oë na ander en onsself moet kyk en dat jy nie ’n enkele oomblik in jou lewe te vinnig moet omwens nie. Bremer Gericke het my geleer om nie vir stilte bang te wees nie en dat belangrike of ingewikkelde kwessies nie maklike antwoorde het nie.

Wat lees jy graag in jou persoonlike stiltetyd?  Ek lees huidig baie van Richard Rohr en Brian McLaren se werke in my stiltetyd.

Na wie se musiek luister jy? Ek geniet eintlik alle musiek, maar Spoegwolf is op die oomblik my gunsteling.