Ontmoet vir ds. Hanno Ackerman

Ons nuwe jeugleraar, ds. Hanno Ackerman, is reeds vanaf Aprilmaand volstoom aan die werk in die gemeente en veral by die jeugbediening.  Stellenberger het by hom gaan inloer om hom beter te leer ken.

  1. Jy is gebore en getoë in Pretoria – daar skoolgegaan en gestudeer en eers, nadat jy jou studies voltooi het, jou in die Kaap gevestig. Hoeveel jaar woon jy nou in die Kaap en wat is vir jou anders in die Kaap as in Pretoria?

Ek woon nou vier jaar in die Kaap.  Ek het begin met ’n woonstelletjie in Vredekloof en woon nou in ’n huis in Durbanville.   Ek het die Kaap geken omdat my ouma en ander familie in die Kaap woon en ons gereeld by hulle gekuier het.  Juis daarom was die skuif vir my so interessant,  omdat ek gedink het ek ken die Kaap, en toe ontdek het dat ’n mens nooit werklik  ’n plek ken alvorens jy self daar woon nie.   Die lewe is nogal anders in die Kaap, want hier is meer om te doen en om te sien in die natuur en daarom leef ’n mens meer in die buitelug.

  1. Wat mis jy die meeste van Pretoria?

Ek mis die mense – baie van my vriende en my familie woon steeds daar en ek het jarelange vriendskappe en verhoudings in Pretoria gebou.  Dit is die deel wat die terugkeer Kaap toe, na ’n besoek, of vakansie in Pretoria, vir my sleg maak.  Dit voel elke keer vir my asof ek ’n deel van my hart daar by my vriende en familie agterlaat.   Ek mis ook die “denkers”, die teoloë, wat saam met my gestudeer het.  Hulle manier van dink en kerkbou bly vir my fassinerend.

  1. Jy is baie betrokke by sport, veral atletiek en rugby en maak dan nog musiek ook. Watter een van dié twee is jou eerste liefde?

My eerste liefde is atletiek.  Ek het op skool en as student verbonde aan die Universiteit van Pretoria altyd as ’n naelloper aan atletiek deelgeneem en daarom sal hardloop en oefen altyd vir my ’n passie bly.  Die belangstelling in musiek het later my lewenspad gekruis, maar dit is ’n groeiende liefde.

  1. Na watter tipe musiek luister jy graag en luister jy na gospelmusiek?

As dit by musiek kom, luister ek na ’n hele mengelmoes.  Ek luister, soos ’n tipiese millenniër, na Sum 41* om die ou dae te herleef, maar ek geniet ook die ongelooflike musiektalent van iemand soos Ed Sheeran.  Wanneer ek oefen, luister ek na ’n groot verskeidenheid snaakse musiek om my op te beur en aan te spoor vir ’n wedloop.  Ek luister wel na gospelmusiek en veral na die musiek van Bethel en Passion wie se lirieke my deesdae nogal raak.

  1. Wat het jou laat besluit om teologie te gaan studeer?

My begrip van my roeping was dat die Here my geroep het om met mense te werk.  Ek het nooit ’n stem gehoor wat vir my gesê het ek moet teologie gaan studeer nie, maar my liefde vir mense en God het my gemotiveer om die rigting  te kies.  My roeping beteken vir my dat ek enige iets kan doen waar ek my liefde vir God en mense kan uitleef.  Ek voel dat die keuse van waar ek my beroep beoefen, by my berus, maar die essensie van wie ek is, is my roeping.

  1. Jy het jou pa as tienerseun verloor. Watter impak het die groot verlies op so ’n brose ouderdom op jou lewe gemaak en wat het jou gehelp om dit te verwerk?

Ek het vir lank met al die emosie verbonde aan my pa se dood geworstel en dit dalk ook nog nooit regtig verwerk en deurgewerk nie.  By elke rugbywedstryd en atletiekbyeenkoms wanneer ek na die ander kinders se pa’s gekyk het, het ek my pa intens gemis en gedink hoe my pa die geleentheid sou geniet het.  Mense wat met verloop van tyd oor my lewenspad gekom het, het my gehelp om die verlies te verwerk.  Dit bly ’n moeilike storie, maar ek dink tog dat die dood van my pa my ook baie geleer het oor wie God is.  Al die gebede wat ons tydens sy siekte gebid het, het my pa nie genees nie, maar my tot die besef gebring dat God nie ’n ou oom met ’n wit baard is wat in die hemel sit en kies wie sterf en wie leef nie.   Ek het dus wel ontdek dat God saam met ons treur in ons stukkende wêreld.   My soeke na God in hierdie traumatiese periode van my lewe het my beslis ook teologies gevorm. Die impak van my pa se dood op my as kind het tot gevolg gehad dat ek sagter met mense en hulle gebrokenheid omgaan, omdat ek eerstehands iets van gebrokenheid verstaan.

  1. Jou gunstelingete?

Ek is ’n baie maklike mens, soos my vrou altyd sê: “Gee net vir Hanno ’n hamburger.  Dan is hy dolgelukkig”.

  1. Jou gunstelingkleur?

Blou was maar nog altyd vir my ’n kleur met baie betekenis in my lewe.

9. Wie maak kos, jy of Liaan?

Liaan maak die meeste van die tyd kos, behalwe as sy baie kwaad is vir my – dan maak ek kos.  Sy is wel die bekwaamste een in die kombuis, so die kos smaak effens lekkerder wanneer sy dit maak.

  1. Is jy netjies, of lê jou klere op ’n hoop op die stoel in die slaapkamer?

Ek hou daarvan as mense sê intelligente mense is onnet, maar net omdat dit my laat beter voel.  Ek is baie onnet, my klere lê oral rond en ek krap die huis erg om.  My vrou het gelukkig baie hare op haar tande.**

11. Wat is julle twee se gesamentlike gunstelingtydverdryf?

Ons geniet dit  om Waterfront toe te gaan en net daar te gaan rondloop. Ons koop omtrent nooit iets nie, maar ons hou van kyk.  Ons probeer ook graag nuwe goed, of besoek graag nuwe plekke en hou daarvan om aan nuwe belewenisse mee te doen.

12Dit is duidelik dat jongmense jou passie is. Wat doen jy om by te hou by hulle vinnig veranderde leefwêreld?

Ek beskou myself gelukkig nog self as jonk, so ek is self deel van die vinnig veranderende wêreld. As dit kom by nuwe tegnologie of trends, probeer ek dit eers self en besluit dan hoe ek daaroor voel, of wat ek daarvan dink.

  1. Wat is jou raad aan die ouers van tieners? Hoe kan ouers dié generasie beter verstaan, of wat is die belangrike goed om van hul generasie te weet?

Ek dink ouers moet verstaan in watter brutale wêreld hulle kinders leef.  Die invloed wat skole, vriende en sosiale media in die vorming van ons kinders het, is enorm.   Daarom sou my voorstel wees dat ouers eerder probeer saamgesels, eerder as om alles teen te staan.  Gesels met hulle oor hoe ’n mens ’n verantwoordelike identiteit in dié vinnig veranderde wêreld kan opbou.  Jongmense se konsep van spiritualiteit lyk anders as volwassenes s’n.  Moenie as volwassene net jou eie idees en begrip van moeilike lewenskwessies op tieners afdwing nie.  Gesels eerder met hulle sodat jy kan agterkom hoe hulle ’n saak of knelpunt interpreteer en verstaan.  Dit is hoe ons die generasiegaping met verloop van tyd kan verklein.

  1. Jy is nou splinternuut in die gemeente en het waarskynlik baie drome en ideale geformuleer wat jy graag hier sou wou bereik. Noem een of twee drome wat jy vir Stellenberg se jeugbediening het.

My droom vir die bediening is dat dit ’n tuiste vir jong volwassenes, ouers en tieners sal word en dat  almal iets uit die dienste en die gemeenskap van saamwees sal put.  Ek sou ook graag wou sien dat die bediening ‘‘verantwoordelik vernuwe‘‘.  Ek dink daar is baie geloofsgroepe wat vir jongmense goedkoop antwoorde oor moeilike kwessies gee en dit veroorsaak net groter verwarring in ’n reeds  brose konteks. Om verantwoordelik te vernuwe beteken dat ons in elke faset van ons lewens die koninkryk van God werklik in ons samelewing laat deurbreek.

Ek sal graag ook die kwessie van relevante kerkwees wil byvoeg.  Ons wil dikwels die kerk na die sekulêre wêreld toe neem, maar my visie is dat die sekulêre wêreld eerder in die die kerk moet wees. Ons geloof en ons alledaagse lewe moet nie verwyder van mekaar wees nie. Ons moet kan wyn drink en dans by die kerk, juis omdat ons geloof deel is van ons wese en ons alledaagse begrip van wie ons is en wat ons doen.

*Sum 41: Vir diegene wat nie meer millenniërs is nie.  Sum 41 is ’n rockband van Kanadese afkoms.  Red.

**Sterkte Liaan.  Dit neem gemiddeld so 15 jaar om die manne beter gewoontes aan te leer. Red.