Ons het veel meer groen gelowiges nodig

Deur: *Dr. Braam Hanekom

Die afgelope paar weke het Suid-Afrikaners in die euforie van ’n wêreldbeker-oorwinning gebaai. Goue oomblikke soos hierdie is kosbare gawes in die geskiedenis van ’n jong demokrasie. Soos die dae verbygaan, word ons egter telkens teruggeruk tot die rou werklikheid waarin ons ons tans bevind.

So het die beleidskonferensie van SAFCEI (Southern African Faith Communities Environment Institute) begin November in Benoni, Gauteng, plaasgevind. Daar is duidelik uitgewys dat ons krisis veel groter is as die debat oor CO2-vrystelling, temperatuurverhoging en klimaatsverandering. Terwyl 11 000 wetenskaplikes, na die evaluering van 40 jaar se data, waarsku dat ons op ’n klimaatsnoodtoestand afstuur, is daar veel meer wat ons aandag verg. Die berge plastiek wat ons oseane en riviere besoedel, die chemikalieë wat ons water en grond vergiftig, die giftige gasse wat ons lug besoedel, die mishandeling van diere en skrikwekkende vernietiging van biodiversiteit, kan nie langer geïgnoreer word nie.

Die moderne mens het steeds drie basiese behoeftes: Ons moet êrens bly, ons het vervoer nodig en ons moet eet.  Die wyse waarop ons hierdie behoeftes bevredig, sal radikaal herdink moet word. Ek het genoeg vertroue in die wetenskap dat ons ’n plan sal kan maak. Tog is daar drie menslike neigings wat besig is om  ’n stok in die wiel te steek: selfsug, hebsug en gemaksug. Dit voel vir my of president Trump met sy onttrekking aan die Parys-klimaatsooreenkoms nie net sy rug op die ooreenkoms gedraai het nie, maar ook op die wêreld en die planeet.

Die vraag is dus of die bykans ag miljard mense op aarde en veral die rykes, gereed is om ’n nuwe lewenstyl te aanvaar? Hieroor is ek diep onseker.  Ons moet onthou dat ons nie verhewe is bo die ekologiese sisteem nie, maar deel is daarvan. As gelowiges glo ons dat ons deur God geskep is – uit die aarde en sal terugkeer na die aarde. Die ekosisteem het ’n manier om homself te korrigeer en wanbalanse te herstel. Die uitwissing van ’n groot deel van die menslike bevolking is beslis nie meer ’n onmoontlikheid nie. Onthou egter, dat jy en van jou geliefdes of nageslag deel daarvan kan wees. (Google: 6de massa- of Holoseen-uitwissing).

Die mensdom sukkel verder met twee probleme. Eerstens ontken ons te maklik verantwoordelikheid en wanneer die spreekwoordelike tsunami dan wel oor ons breek, gee ons te maklik boedel oor. Die tyd en geleentheid vir die mens om daadwerklik op te tree raak al hoe minder en kleiner. Dit is hier waar geloofsgemeenskappe ’n groot bydrae kan lewer. Dit sal moet kom deur profetiese en selfs aktivistiese optrede, maar veral ook deur konkrete voorbeelde. Ons sal die weg moet wys na ’n eenvoudiger, groener en meer sober lewenstyl. Ek sukkel soms erg daarmee, maar hoop dat ek in die toekoms al meer as ’n “groen Christen” beskou sal kan word.

*Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis