Ons eie Bagdad . . .

Deur:  Anène Nortier*

Die stofstraat deur Bagdad,  ’n woonbuurt in Beaufort-Wes, wemel van haastige lyfies wat agter en langs die Stellenberg-bussies draf . . . tussen honger honde en vernielde kinderogies is daar tog ’n sprankie hoop – hoop op ietsie om te eet, hoop op ’n warm serpie, of mus wat die snerpende oggendkoue kan verdryf en hoop op iemand wat kan liefhê.

Agter ’n streep in die stof versamel die groep, 530 stuks, in afwagting op liefde en omgee. Na vier dae ken ons die gesiggies voor ons  en elke gesiggie onthou trots wie sy/haar leier is en in watter kleurgroep hy/sy hoort – om iewers te behoort en belangrik te voel, is nie sommerso nie, dis belangrik, al is dit net jou plekkie in ’n kleurgroep.

Ons leer van die barmhartige Samaritaan wat omgegee het en dat Jesus vir ons omgee.  Van Josef wat sy broers kon vergewe en dat Jesus ons vergewe en dat ons nuut kan begin.  Noag het geluister en ons moet luister, maar ook weet dat ons enige tyd met Jesus kan praat, want Hy sál luister.  Ons eet lekker warm pap, gesels saam, luister en deel Jesus se liefde. Jesus het immers gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom”.

Terwyl tannie Soekie se liedjies  in die somber Bagdadstrate weerklink, stap ek deur die skare kinders en soek die koue voetjies wat ek met iemand anders se genadeskoene kan help en die knop in my keel trek ’n gat in my hart vir dié kinders  – vir Jesus só belangrik en tog moet hulle so swaar kry.

Met nat oë en swaar harte groet ons die stofstrate van Bagdad.  Ons weet dat ons Jesus se liefde vir hulle los en dalk so ’n tikkie hoop.

*Anène Nortier is ’n lidmaat van Stellenberg-gemeente en die koördineerder van die Beaufort-Wes-uitreik.