Omgee vir die skepping is ook aanbidding

As ’n mens ‘n hart het vir wat mooi is, sal jy natuurlik ook jou omgewing mooi wil hê. ‘n Eenvoudiger lewenstyl stel jou in ‘n beter posisie om jou omgewing op te pas.

Ons leef nie óp die aarde nie, maar ín die aarde.  God het die mens as deel van die aarde geskape – totaal afhanklik daarvan. Ons leef nie op die aarde nie, maar in die aarde – ingebed onder die biosfeer met sy verskillende lae rondom die aarde. Die mens se kulturele ontwikkeling behoort dus in wisselwerking en balans met die kosmiese kondisie van die aarde te wees. Ook t.o.v. wat mooi is, is die mens van die aarde afhanklik. Die aarde is God se groot kunswerk en alles daarop is “mooi om na te kyk” (Gen 2:9).

Ons is óf soos senupunte, óf soos kanker. Nie net is die mensdom van die aarde afhanklik nie, maar die aarde is ook van die mensdom afhanklik. Ons het die vermoë om die aarde te vernietig, soos ‘n kanker, of ons kan soos  die senupunte van ‘n organisme funksioneer en alles wat die aarde bedreig, waarneem, sodat ons die gevaar kan afweer.  Die sensitiewe wisselwerking tussen mens en aarde is egter verbreek.  Ons materialistiese en tegnologiese lewensbeskouing laat ons die aarde bloot as die roumateriaal vir materiële gewin sien.  Hoe dit die aarde beïnvloed, maak glad nie meer saak  nie.

Die Bybel het bepaalde voorskrifte.  Die natuur het ’n ereplek as voorwerp van God se besondere sorg en liefde (vgl. Ps. 104). Daarom leer God ook die mens om verantwoordelikheid vir die land/aarde te aanvaar en daarvoor te sorg (vgl. die sabbatsjaar, Lev. 25). Die land behoort nie net aan die mens nie; die mens behoort ook aan die land en het die verantwoordelikheid om as die oppassers daarvan op te tree.

God is in sy handewerk teenwoordig.  God en sy skepping kan nie geskei word nie.  Al is Hy baie meer en groter as sy skepping, is Hy ook teenwoordig in sy handewerk.  Deur sy magtige, allesdeurdringende teenwoordigheid dra Hy alles wat bestaan (vgl. Hand.17:28). Ons moet toelaat dat die wonder en misterie van God se teenwoordigheid in sy skepping ons betower.

Omdat God in die natuur teenwoordig is, is die beskadiging van van die aarde sonde.  Geweldpleging teen die natuur is net so afskuwelik soos ander vorme van geweldpleging.  So ook is nie net diens aan mense nie, maar ook diens aan die res van die skepping, ‘n manier om God te dien.   Nie net genieting van ’n erediens en Bybel is godsdiens nie, maar ook die genieting van die natuur kan ‘n vorm van aanbidding wees.

Eenvoud help die planeet.   Die beoefening van ‘n eenvoudiger lewenstyl stel ons in staat om ons planeet op te pas. Op die pad van eenvoud word die hebsug van die mens getem.  Ons moet nie ons kosbare omgewing vir ekonomiese groei opoffer nie.  Ons ontwikkelingstrategieë moet ook verantwoordelike omgewingsbeleide insluit.

Moenie mens en natuur skei nie.  Die modernisme het mens en natuur geskei – tot nadeel van die natuur. Party radikale omgewingsvoorvegters skei die twee vandag nog, tot nadeel van die mens.  Hulle wil net die nie-menslike natuur oppas. Gevolglik is hulle teen alle menslike ontwikkeling. Die mens is tog ook deel van die natuur. Nie net vinknessies is “natuurlik” nie, maar net so ook menslike bouwerk wat die landskap en natuurlike omgewing respekteer. Dit moet ons ideaal wees om menslike ontwikkeling so te beplan dat dit ook Suid-Afrika mooier sal maak.

In ons persoonlike, alledaagse lewe kan ons baie vir ons natuurlike omgewing doen. ‘n Lewe van eenvoud word gevoed deur die mooiheid van die omgewing waarin ons leef.  Dus moeite doen met die skep van ’n mooi tuin, straat, voorstad. Bereid wees om self rommel op te tel.

Om omgewingsbewaring as deel van ons godsdiens te beskou, sal waterbesparing, energiebesparing, herwinning van onder andere papier en glas – trouens, alle ander soortgelyke aksies, bevorder.

Die noodkreet van ‘n uitgebuite moederaarde kan gehoor word as ‘n stem wat ons motiveer om eenvoudiger te lewe – nie net tot eie of ander mense se voordeel nie, maar ook ter wille van die omgewing.