’n Wenresep word die sleutel tot haar sukses

Christel Brand en haar gesin is sedert 1988 lidmate van Stellenberg-gemeente en sy is al vanaf 2009 jaarliks een van die uitstallers by die feesmark.  Haar gewilde smelt-in-die-mond-botterkoekies wat boonop nog in sjokolade gedoop word, is al sinoniem met gemeentevergaderings en -byeenkomste.  Stellenberger het by Christel gaan inloer om te hoor hoe sy haar suksesvolle tuisonderneming op die been gebring en uitgebrei het.

“Ek het in 1996 vir ’n koffiewinkel, Bon-Bon, wat destyds naby Stellenberg Hoërskool geleë was, begin koekies bak,” vertel Christel. “Ek het my koekieresepte self ontwikkel en dit het my jare geneem en baie eksperimentering voordat ek by wenkombinasies uitgekom het.  In die jaar 2000 het ek toe dan ook vir ’n koekiebakkompetisie in die Sarie-tydskrif ingeskryf en gewen.  Dit het my ’n groot hupstoot gegee.  Die wenkoekie, ’n sjokoladekoekie met ’n G-musieksleutel  bo-op, is beslis steeds ’n groot gunsteling.

“Met verloop van tyd het ander winkels ook my produkte raakgesien en by my begin bestel.  Ek is nie ’n goeie bemarker nie en het nooit self winkels genader nie,  maar hul eienaars het mettertyd van my te hore gekom en my gekontak.  Vandag bak ek vir 22 winkels in die Wes-Kaap, asook  vir baie privaat kliënte.  Die afgelope 23 jaar het ek talle ondernemings sien kom en gaan en dit bly vir my baie sleg as besighede hulle deure moet sluit.

“Wat die feesmark betref, was ek en Dirk, my man,  in die vroeg 1990’s  by die stigting van die feesmark betrokke.  Op daardie stadium is daar nog geen eetgoed by die mark verkoop nie en ek het aanvanklik net Kersversierings vir die mark gemaak.  Nadat ek my koekies op ’n hele klompie kleiner markte verkoop het, het Adri du Randt, feesmarkorganiseerder en Alet Erasmus, my vriendin,  my in 2009 omgepraat om al die kleiner markte te los en my koekies net op op ons gemeente se feesmark te verkoop.  Ek het nog nooit teruggekyk nie.

“Ek verkoop ongeveer 2 000 koekies per dag by die feesmark.  In die feesmarktyd gebruik ons daagliks 20 blokke botter van 500 g elk, 14 kg meel en 4 kg suiker.  Deur die loop van die jaar help twee werkers my voltyds, maar in die laaste drie maande van die jaar het ek drie helpers.  Beurtkrag en verhoogde elektrisiteitstariewe is uiteraard ’n groot kopseer vir my onderneming.  Dit verg baie fyn beplanning om rondom beurtkrag te werk sodat ek steeds bestellings betyds kan aflewer.”

Christel se raad vir ander entrepreneurs wat ook graag ’n soortgelyke onderneming op die been wil bring, is die volgende: “Wees oorspronklik.  Moenie ander entrepreneurs probeer namaak nie.  Gebruik net die beste produkte, bv. goeie botter.  Daar is gewis ’n groot aanvraag na  gehalteprodukte.  Onthou, daar is geen maklike manier om geld te maak nie.  Die beste deel van entrepreneur wees, is dat jy self kies watter 16 ure van die dag jy wil werk!”