’n Vonkie hoop in Vosburg

Ek besoek Vosburg al elf jaar, maar met my besoek die afgelope naweek moet ek erken dat ek die landskap nog nooit só sien lyk het nie. Alles is dood. Daar is werklik niks nie! Wanneer jy tussen die plase ry, tref jy dooie diere langs die paaie aan. Die veld, omgewing en algemene situasie daar, is hartverskeurend.
My hart bloei werklik vir dié gemeenskap, maar te midde van die mees hooplose omstandighede wat ek in ’n lang tyd beleef het, het ek wel op ’n vonkie hoop afgekom.

Een van die plaaslike inwoners van Vosburg, Rentia, het ongeveer vyf jaar gelede toerusting van die staat ontvang, met die opdrag om ’n bakkery op die dorp te vestig. Daar is glad nie vars brood op die dorp te koop nie. Inwoners ontvang een keer per week brood van De Aar, wat gewoonlik gemuf op die dorp arriveer.

Rentia het tydens ’n vorige uitreik met my kom gesels oor die toerusting wat sy tot haar beskikking het. Sy was op daardie stadium moedeloos, want sy kon nie ’n perseel vind van waaruit die beoogde bakkery bedryf kon word nie en wou weet of ons haar nie met die vestiging van die projek kon bystaan nie. Ek het dadelik ingespring en begin soek na ’n perseel, maar daar was min moontlikhede.

Uiteindelik kom ek darem op die ou drankwinkel in die dorp af. Die gebou was vervalle, maar ek verneem toe dat die kaptein van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Vosburg, Christelle en haar man, Lieb, besig is om die gebou te koop.

Na gesprekke met die egpaar was hulle baie opgewonde oor die bakkeryprojek en het besluit om volstoom daarby betrokke te raak. Hulle het die gebou opgeknap en verhuur dit nou aan die bakkery. Lieb is ’n elektrisiën en hy het eiehandig die oonde en ander toerusting verskuif en die bedrading daarvan behartig.

Die projek funksioneer tans onder Christelle en Lieb se vlerk en Stellenberg-gemeente ondersteun hulle waar ons kan. Lidmate van NG Kerk Onrusrivier het ook gehelp deur ’n heining om die bakkery op te sit.

Die bakkery sal aan drie vrouens werk kan voorsien en brood aan ’n hele gemeenskap.