’n Ma met ’n naaimasjien en ondernemingsgees

Irma Viljoen is een van die feesmark se bobaas-uitstallers.  Al die artikels wat sy op die feesmark verkoop, word met die hand gemaak.  Stellenberger het by die hardwerkende vrou wat reeds 21 jaar ’n uitstaller by die feesmark is, ingeloer.

“Dit is elke jaar vir my ’n groot genade dat ek vir die feesmark gekeur word.  Toe ek 21 jaar gelede vir die eerste keer by die mark uitgestal het, moes ons ons tafels heeldag self beman en het ons 5% kommissie aan die mark afgestaan.  Ek het op daardie stadium skinkbordlappies en verskillende ander items met masjienborduurwerk op, verkoop.

“My reeks, wat ek onder die naam Sew Blessed bemark, het mettertyd uitgebrei na vatlappe, vadoeke, jammerlappies en teenette.  Ek maak ook kaartjies en boekmerke en nog so ’n mengelmoes van kleiner items.  Die duurste artikel tans op my tafel is ’n tafelnet wat R115 kos en kort op sy hakke is ’n vadoek teen R65.  Ek woon op Velddrif, ’n klein dorpie aan die Weskus, en dit is vir my ’n voorreg om aan ander mense in my gemeenskap ’n geleentheid te bied om ook ’n ekstra inkomste te verdien.  Ses bejaarde vrouens hekel jaarliks vir my 3 000 vatlappe teen vergoeding – sonder hulle hulp sou ek nie kon voorbly nie.  Ek het ’n voltydse werker wat my deur die loop van die jaar met die maak van die artikels bystaan en teen die einde van die jaar kry ek ook ’n bykomende helper om veral met die verpakking van die artikels te help.

“Ek het drie naaimasjiene en twee omkapmasjiene en werk daagliks ag ure om voorraad vir die nege markte waar ek jaarliks uitstal, te maak en maak elke jaar  400 tafelnette, 600 teenette en 3 000 vaddoeke.

“Die inkomste wat ek uit die markte genereer, stel ons in staat om my twee dogters se opleiding te finansier.  My oudste dogter studeer aan die Universiteit Stellenbosch en my jongste is in graad 10 op kosskool in die Paarl.  My dogters en my man ondersteun my geweldig baie en ek glo dat veral my dogters deur hulle betrokkenheid by my onderneming,  leer dat ’n mens altyd ’n plan kan maak om ’n ekstra geldjie te verdien.

“Ek werk nog nou om voorraad vir twee markte dié jaar bymekaar te maak en dan gaan ek en my gesin lekker rus in Stilbaai.  Stellenberg-feesmark sal altyd een van my gunstelingmarkte bly.  Al is dit ’n groot mark, het die personeel en veral Marilize en Adri, die organiseerders,  altyd tyd om te help en verloor hulle nooit hulle menslikheid en tegemoetkomendheid nie.

“My raad aan voornemende uitstallers is om bekostigbare produkte te maak en altyd te sorg dat dit mooi verpak is.  Besoekers aan markte wil myns insiens graag iets koop, maar het nie noodwendig geld om duur items te koop nie.”