’n Kerk wat foute maak

deur: ds. Nelis Janse van Rensburg

Gepubliseer in Rapport 24 Maart 2019

Die verhaal van die NG Kerk met die selfdegslagkwessie kan uit verskillende hoeke vertel word. Ek stel my baie hoeke voor, maar wil vir ’n oomblik in hierdie een staan en vertel wat ek sien.

Die NG Kerk was oor die afgelope dekades op reis met die kwessie van selfdegeslagverhoudings. Ons het lidmate gehad wat getuig het dat hulle gay is en graag ten volle wil deel wees van die kerk.  Die gesprek wat gevolg het, is gevoer teen die agtergrond van eeue se aannames oor die redes waarom mense gay is, die seksuele gewoontes van gay mense, wat die Bybel oor gay gedrag sê, die verhouding van gay mense met God, die gewoontes van gay mense, die psigologie van gay mense en alle perspektiewe op gaywees. Dit was van die begin af duidelik dat die gesprek nie sommer oornag afgehandel sal word nie.

Aanvanklik was die aard van die gesprek in die kerk baie emosioneel. Mense het vertel hoe hulle vir hulle kinders wat “uitgekom” het, gesê het dat hulle tot die hel verdoem is.  Dit het hewige reaksie ontlok van mense wat God se genade anders verstaan. Tydens die NG Kerk se sinode in 2004 is ’n aantal verhale aangehoor van persone wat getref is deur die emosionele- en geloofsimplikasies van die uitsluiting van gay mense uit families en geloofsgemeenskappe. Verhale is vertel van die impak wat ’n ervaring van minderwaardigheid in die kerk op die lewe van gay persone het.

Hierna het die debat in die kerk baie sterk begin fokus op die verstaan van die Bybeltekste wat handel oor homoseksuele gedrag. Handel hierdie tekste net oor slegte seksuele gedrag van heteroseksuele- en gay mense, of gaan dit ook oor die verskynsel as sodanig? Wat was die betekenis van hierdie tekste vir die oorspronklike gemeenskappe wat dit gehoor het? Moet die Skrif nie in sy breër konteks gelees word en die insluitende genade van God verreken word nie? Deelnemers het dikwels mekaar met name soos fundamentaliste, of liefdeloses, of  mense wat nie die gesag van die Skrif aanvaar nie, benoem. AL hierdie benamings het ontstelde reaksie uit die oorde van die onderskeie sienings ontlok. Daar is in hierdie tyd deeglik besef dat gelowiges die Bybel verskillend lees. Daar was immers in die vroegste tye verskillende benaderings oor die lees van die Bybel en hierdie gesprek het dit weer op die spits gedryf. Die voorstanders van die onderskeie soorte lees van die Skrif het mekaar met alles probeer oortuig dat hulle reg is.

Tydens die 2007-sinode het sinodegangers twee interpretasies van die Skrif voor hulle gehad. Die kerk het besluit om alle gay mense welkom te laat voel in die kerk,  maar dominees is nie toegelaat om in gay verhoudings te wees nie. Die huwelik tussen een man en een vrou is gesien as die enigste plek waarbinne mense hulle seksualiteit mag uitleef. Gay lidmate het heftig hierop reageer. Hulle het getuig dat hulle nie hulle seksualiteit kan opskort nie.  Dit is ’n integrerende deel van hulle menswees. Daar was ander wat oortuig was dat gay mense hulle kan bekeer en hulle seksuele oriëntasie kan verander.

Stadig maar seker het deelnemers aan hierdie gesprekke begin agterkom dat hulle mekaar nie gaan oortuig nie. Die vraag het ontstaan of dit moontlik is om binne een kerk ruimte te maak vir verskillende standpunte oor hierdie kwessie. Die Bybel is ook hiéroor geraadpleeg. Voorbeelde uit die tyd van die Nuwe Testament soos die debat oor die eet van offervleis wat aan gode geoffer is, het ’n benadering ondersteun van ruimte maak vir meer as een standpunt. Die 2015-sinode het besluit om hierdie weg  te slaan. Die verantwoordelikheid is verskuif na gemeentes om in die lig van hulle kennis van die integriteit van gelowiges se lewens, te besluit wie in die ampte van ’n gemeente kan dien. Die huwelik as ruimte vir hetroseksuele seks is gehandhaaf, maar daar is ook ruimte gemaak vir vaste verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Hierdie besluit het groot reaksie ontlok. ’n Spesiale sinodesitting is in 2016 gehou waartydens die sinode besluit het om min of meer dieselfde standpunt in te neem as tydens die 2007-sinode. Die onderskeidingsproses van die kerk is hierna onderbreek deur ’n aansoek van 12 lidmate wat ’n hoë hof genader het met ’n aansoek om die 2016-besluit ter syde te stel. Die hof het oor die prosedures wat die kerk gevolg het op pad na die 2016-besluit, in die aansoekers se guns beslis. Die hof het egter ook reageer op die aansoekers se konstitusionele aanspraak op gelykheid en geregtigheid. Die hof het aangedui dat kerke nie in die lig van die Grondwet van die land en hulle reg op godsdiensvryheid, die reg het om na willekeur mense se menswaardigheid en gelykheid te skend nie. Die werklikheid dat die NG Kerk diep verdeeld is oor die selfdegeslagkwessie, het die hof laat dink dat die oortuiging van die kerk nie so sterk is oor hierdie kwessie dat dit die skending van mense se gelykheid en menswaardigheid regverdig nie. Ons het besluit om nie teen die hofuitspraak te appelleer nie. Die 2015-besluit van die Algemene Sinode is dus nou van krag. Die feit dat hierdie besluit nou geld, beteken dat ons op ’n nuwe ongekarteerde reis gaan waarin ons leerbaar sal bly sodat ons die beste belange van die Koninkryk sal dien. Ons het immers oor die afgelope paar jaar op besondere maniere geleer om mekaar vas te hou en mekaar se laste te dra. Ons sal dit bly doen.

Die NG Kerk se dapperheid om grondig met hierdie onderwerp te handel, moet verstaan word.  Brené Brown skryf in haar boek, Dare to Lead, oor die fisika van kwesbaarheid. If we are brave enough, often enough, we will fail. Daring is not saying I’m willing to risk failure. Daring is saying I know I will eventually fail and I’m still all in. I’ve never met a brave person who hasn’t known disappointment, failure, even heartbreak. Om ’n posisie in te neem van kwesbaarheid is nie ’n teken van swakheid nie. Brown sê ook ’n mens kan nie vertroue bou sonder om ooit kwesbaar te wees nie. Kwesbaarheid ontstaan uit ons gevoelens vir mense wat uitgesluit word en teenoor ons getuig van die seer wat dit in hulle veroorsaak. Ons het baie mense seergemaak, soms ook mekaar. Ons het foute gemaak. Sommige meen dit was in 2007 en ander dink dit was in 2015. Maar ons het nie weggekruip en die impulse van ons gevoelens en oortuigings geïgnoreer nie. Ons het die Skrif geraadpleeg. Ons het gedink en geredeneer. Ons het geluister na mekaar. Ons het geluister na die verhale van gay mense. Ons het die hoogte en diepte van die geheimenisse van God se Woord verken. Ons het hierdie gesprek gevoer, wetende dat ons onsself oneindig blootstel. Ons het geleer uit die verlede om nie met mag, en oënskynlik sonder kwesbaarheid, reëls en finale uitsprake te maak nie. Ons het in die proses vertroue ingeboet, maar ek is seker dat mense ons op die lang duur sal vertrou as ’n kerk wat voel én dink, dapper én bang is, waag én verloor, waag én wen, verleë én opgewonde is, soek én vind, soek en níé altyd vind wat ons gesoek het nie, juig én treur, feesvier én rou, weet én nie weet nie, maar bo alles vertrou op God en nie op mensgemaakte sekerhede nie. Deur alles het ons ernstig gebly oor God se Woord. Ons het opnuut ontdek dat Christus ’n nuwe mensheid van mense wat aan Hom behoort, tot stand gebring het. In hierdie mensheid word almal deur sy genade gelyk gebreek en al die ou onderskeidings verval.

Ons het nie hierdie storielyn van die kerk se reis met gay mense uitgedink of bestuur nie. Ons is nie so goed nie. Ons het net geleer dat wat met ons gebeur, gestalte gee aan ’n nuwe soort kerk wat outentiek is in sy afhanklikheid van God. Die NG Kerk is ’n baie deursigtige kerk. Almal weet hoe ons getalle beweeg, almal weet hoe ons verskil, almal weet waaroor ons praat. Ons skryf daaroor in ons eie koerant. Ons gee nie voor wat ons nie is nie. In hierdie dae, na ’n hof se beslissing teen ons, verstaan ons ons broosheid beter en plaas ons ons vertroue opnuut in God.

Ons gaan nou voort om ons gehoorsaamheid te kalibreer volgens die lewe van Christus. Ons sal voortgaan om die Woord te bedink. Ons sal voortgaan om verhoudings met alle soort mense te bou. Ons sal voortgaan om diensbaar te wees. Ons gaan voort om op grond van God se genade te probeer om nog meer insluitend te wees. Ons wil voortgaan om so in Christus te leef dat ons kan bekostig om broos te wees, te waag en foute te maak. Ons gaan in Christus se vrywillige kwesbaarheid inspirasie bly vind.  Mag die lig van Christus dan deur die krake van ons beste pogings skyn. Mag dit vir almal wat broos is, en seer en swaar het, ’n aanloklike uitnodiging word om saam met ons op reis te bly met ons intense ervarings van God se begrip, nabyheid en sorg.