Bederfsakkies vir boervrouens

“Ek was self 30 jaar lank ’n boervrou in die Vosburg-distrik en ek weet uit eerstehandse ervaring hoe ’n droogte jou gees kan verniel.  My seun boer nou op ons familieplaas in Vosburg en as gevolg van my kontak met hom, voel dit vir my asof ek die droogte weer regstreeks beleef,”  vertel Marilize Möller, feesmarkorganiseerder.  “Dit is die langste droogte wat die Vosburgdistrik die afgelope 60 jaar beleef het en ek is diep bekommerd oor die boeregemeenskap en wat hulle deurmaak.

“Ek het ’n opregte begeerte ontwikkel om iets vir die boervrouens te doen.  Ek onthou hoe moeilik dit in sulke tye vir my as boervrou was om positief te probeer bly en ook my oorlede man deurgaans te ondersteun.  Die gedagte van ’n lekker bederfsakkie met ’n mengelmoes geskenkies vir elke boervrou, het by my opgekom.  Ek het van ons feesmarkuitstallers genader en soos ons die vrygewige en diensbare groep mense ken, het heelwat uitstallers van hulle voorraad vir die presentpakkies geskenk.  Sommer gou-gou kon ons ’n heerlike geskenksak, met ’n groot verskeidenheid produkte, saamstel.

“Ek hoop dat die geskenksak vir elke boervrou soos ’n liefderyke en ondersteunende omhelsing sal voel wanneer sy dit ontvang en dat dit hulle opnuut sal herinner aan ons volgehoue ondersteuning en gebede.”