’n Motorwag met ’n roeping

Deur: Ds. Why Duvenhage

“Ons het pastoor Joseph Mutukulu Mvula in 2010, net voor die wêreldbekersokkertoernooi, as ’n motorwag by die Glengarry-winkelsentrum ontmoet,” sê ds. Why Duvenhage. “Hy is oorspronklik afkomstig van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Tydens ons ontmoeting het ons verneem hy is ’n pastoor en dat hy reeds op daardie stadium ’n aktiewe bediening, of ’n kerk, onder ander Franssprekende Afrikane in die omgewing, tot stand gebring het.

“Hy het aanvanklik sy kerk in Parow bedryf, aangesien hy toe daar gewoon het. Ek het self ook al ’n paar keer daar gepreek. Pastoor Joseph se gemeente het sterk gegroei en dit was ’n dinamiese bediening en so besluit die gemeente toe dat hulle ook graag wil uitreik na minderbevoorregte mense in die gemeenskap waar hulle woon en bring toe ’n sopkombuis op die been.”

Pastoor Joseph en sy vrou bedryf sedertdien die sopkombuis vanuit hulle eie huis en Stellenberg-gemeente ondersteun die sopkombuis al etlike jare deur middel van ons kosprojek. Die sopkombuis bedien daagliks sop aan kinders in Bellville-Suid, waar pastoor Joseph nou self woon.

Die afgelope Julieskoolvakansie het pastoor Joseph en van sy lidmate ’n vakansieprogram vir kinders aangebied. Hy vertel dat dit vir hom baie belangrik is om kinders besig en uit die strate te hou. By die vakansieprogramme word inligtingsessies oor geweld, misdaad, dwelms, boeliegedrag, ens. aangebied. Hulle fokus daarop om kinders se karakters te ontwikkel en positiewe gedrag en waardes by kinders te vestig.

Die vakansieprogramme is baie goed bygewoon in die onderskeie gemeenskappe waar pastoor Joseph se gemeente dit aangebied het. In Bellville-Suid het 557 kinders die vyfdagprogram bygewoon. In Wesbank was daar daagliks 565 kinders en in Kraaifontein het 500 kinders by die program ingeskakel.
Pastoor Joseph en sy gemeente beplan om tydens die Desemberskoolvakansie weer soortgelyke vakansieprogramme aan te bied.

Hulle benodig dringend helpers om hulle met die aanbieding van die programme by te staan. Lidmate wat graag by die projek betrokke wil raak, moet asseblief vir ds. Why Duvenhage by [email protected]/ 082 570 5931 kontak.