Damvlakke daal tot onder 40%

deur: Low Bothma

27 Januarie 2017

Na bykans drie maande van vlak 3-waterbeperkings, bly die daaglikse waterverbruik deur inwoners van Stad Kaapstad onrusbarend hoog.

Sedert die instelling van vlak 3-waterbeperkings aan die begin van November, beloop waterverbruik sowat 870 miljoen liter per dag. Die doelwit is 800 miljoen liter. Indien die hoë waterverbruik voortduur, en dit sou nie vanaf Mei vanjaar goed reën nie, loop ons gevaar dat daar vroeg in die tweede helfte van die jaar nie meer water in die krane gaan wees nie.

Stad Kaapstad se vooruitskatting is dat damvlakke tot so laag as 20% gaan daal. As in gedagte gehou word dat die laaste 10% van ’n dam se water moeilik onttrek kan word, laat dit Kapenaars met ’n kommerwekkende klein veiligheidsbuffer.

In die lig van die ernstige situasie het Stad Kaapstad verlede week besluit om vlak 3b-waterbeperkings vanaf 1 Februarie in te stel. Hiervolgens mag tuine slegs Dinsdae en Saterdae vóór 09:00 en ná 18:00 vir ’n maksimum van een uur per dag met ’n gieter/emmer natgemaak word. Die was van voertuie met munisipale drinkwater word verbied. Voertuie mag voortaan slegs met nie-drinkbare water, of by kommersiële karwasserye gewas word.

Stellenberg-gemeente doen ’n beroep op alle lidmate om hul streng by die nuwe vlak 3b-waterbeperkings te hou. Lidmate word ook versoek om die boodskap te versprei en bewusmaking te verskerp wanneer hul om die braaivleisvuur of etenstafel kuier, of met kollegas by die werk gesels. Daar lê ’n paar warm maande vir ons voor. Ons sal elke dag soveel water as moontlik moet bespaar om die dreigende krisis af te weer.