Jy kan jou dood dink

deur: dr. Braam Hanekom

Dit moet teen hierdie tyd duidelik wees  dat ons deel is van ’n samelewing waar ons gebuk gaan onder al meer chroniese stres en negatiwiteit. Ons mag dink dat dit bloot ’n lastige onplesierigheid is wat ons lewensvreugde steel, maar negatiewe denke het ’n veel groter uitwerking op ons liggame as wat ons ooit sal besef.

Elke dag dink ons nagenoeg  60 000 gedagtes. Elkeen van hierdie gedagtes word deel van ’n proses in die brein waar ons sintuiglike waarnemings (ervarings van buite) verbind word met ons senuweestelsel en emosies. Gelyklopend hiermee skei die “apteek” in die brein dan óf positiewe óf negatiewe chemikalieë en hormone af. Negatiewe gevoelens het onder andere die afskeiding van  kortisol en adrenalien tot gevolg. Oormatige en langdurige blootstelling hieraan het ’n uiters nadelige uitwerking op die liggaam. Positiewe emosies lei onder andere tot DHEA (die anti-aging-hormone) en IGA, wat ’n mens se immuniteit opbou.   Kortliks,  dit wat jy waarneem, het ’n bepaalde reaksie op jou denke tot gevolg. Jy het nie altyd beheer oor wat om jou gebeur nie, maar wel oor wat ín jou gebeur en hoe jy daarop reageer. As dit goed is, gaan jy goed voel en goeie hormone versamel. Slegte emosies soos vrees, bitterheid, afguns, woede en irritasie het slegte gevolge, wat jou op die ou end letterlik siek en selfs dood kan laat.

Romeine 12:2 sê dat ons moet toelaat dat God ons verander deur ons denke te vernuwe! En Filippense 4 stel dit so duidelik dat ons ons gedagtes moet rig op alles wat goed, reg, edel en rein is. Dit is nie sommer ’n ligtelike opdrag nie, maar word met baie goeie redes gegee.

Sommer net nog iets oor stres. Navorsing toon dat chroniese stres tot veral angstigheid en woede in ons lei met weer eens die gepaardgaande negatiewe hormonale gevolge. Wanneer ’n mens onder stres gebuk gaan, en groot dosisse kortisol vrygestel word, verhoog die glukosevlakke in jou liggaam en jou spysvertering word vertraag. Al ooit gewonder hoekom stres jou vet maak en mans met baie stres ’n magie ontwikkel?

Navorsing  bewys verder dat ’n paar dinge met bogenoemde kan help:  Goeie vriende, oefening, matige alkoholgebruik (te veel alkohol kan angstigheid tot gevolg hê, wat weer die spiraal van negatiewe denke bevorder) en die dissipline om met dankbaarheid te lewe en in jou gebedslewe dikwels dankie te sê! Die ritme van rus (sabbat) en werk is uiters belangrik. Minder skinder en ’n getob oor wat om jou aangaan, kan ’n groot verskil maak. Verder help kreatiwiteit en nuwe, positiewe ervaringe baie.  Goed doen aan andere,  dienslewering, rustige musiek, eenvoud, balans en goeie perspektief in jou lewe, dra ook daartoe by om ’n gesonde mens te wees. Pas ook op vir te veel “multi-tasking” Dit knou jou geheue. Te veel TV, rekenaars en selfone kan ewe-eens tot digitale uitputting lei.

Maar op die ou end is daar ’n vrede en ’n kalmte wat net gevind word in die teenwoordigheid van God en wanneer God self deur sy Gees jou denke verander. Lees weer Galasiërs 5:22 en sien wat die vrug van die Gees is. Min dinge troos my só soos die wete dat ek deur Christus kind van God is en dat Hy my oneindig liefhet.

Braam Hanekom

Naskrif

Kom luister op 22 Februrie na dr Etienne van der Walt, internasionaal erkende neuroloog, wanneer hy om 19:00 in die kerkgebou praat oor : Die optimalisering van jou denke in `n wêreld vol chroniese stres en negatiwiteit. Braam gaan met hom gesprek voer.