Liewe vrou, jy is spesiaal

Deur: Ds. René Potgieter

Op 9 Augustus het ons Nasionale Vrouedag gevier. Die eerste Nasionale Vrouedag is op 9 Augustus 1994 gevier. Dié dag gedenk die nasionale optog van vroue in 1956 om beswaar te maak teen wetgewing wat swart mense verplig het om ’n pas te dra. Die pas was ’n dokument wat die beweging van swart mense gedurende die apartheidsera beperk het, met die doel om woongebiede te beveilig.  Sowat 20 000 vroue het na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ’n petisie met meer as 100 000 handtekeninge by die kantoor van die eerste minister, J.G. Strijdom, te oorhandig. Die vroue het vir 30 minute in stilte buite die gebou gestaan.

Die groep van 20 000 vroue se optrede het ’n groot impak op ons land se geskiedenis gehad en laat ’n mens opnuut besef dat jy nooit die invloed en krag van enige vrou, of mens, moet onderskat nie. Miskien twyfel jy vandag oor jou waarde, of wonder jy of jy werklik ’n sinvolle bydrae kan maak? Dan wil ek graag hierdie boodskap met jou deel.

Vroue weet waarvoor ’n rasper, strykyster, handklitser en ’n besem gebruik word. Jy weet tog ’n besem is om vloere mee te vee en nie om klere te stryk nie, of jy weet dat ’n rasper nie daar is om eiers te klits nie. Elke kombuisartikel het ’n spesifieke doel.  Waarom dink ons as vroue dan nie ook so oor ons nie? Ons is tog so geneig om onsself met andere te vergelyk en onsself dan terselfdertyd te kritiseer.  In ’n wêreld vol glansblaaie waar die sogenaamde perfekte vrou voor ons neuse gehou word, raak dit ’n uitdaging om aan onsself as waardevol te dink.

Ek wil egter opnuut bevestig dat jy met ’n sekere doel deur God op aarde geplaas is. Jy is nie maar sommer net hier om ’n toevallige rede nie.  God het ’n unieke en wonderlike plan met jou. Ons vergeet dit so maklik, of ons besluit dat dit waarvoor ons geroep is, klein en onbenullig is.

Onthou dat God gewone sondaars vir sy werk gebruik. Nie volmaakte mense nie! In die Bybel is daar soveel voorbeelde. Die Samaritaanse vrou by die put, Rut, Maria, Martha, Sara, en so kan ons opnoem.  Jy is geskape na God se beeld, met unieke gawes en kenmerke en daarmee raak jy onbewustelik ander mense se lewens aan.

Ds. Cassie Carstens het die storie vertel van ’n polisieman wat een oggend vroeg van diens af gekom het. Dit was baie koud die oggend en hy besluit toe om by ’n bakkery vir hom koffie en oliebolle te koop. Net toe hy by die bakkery instap, sien hy ’n seuntjie wat met groot oë na al die lekkernye in die bakkery staar. Die polisieman koop toe 12 oliebolle. Toe hy uitstap, sien hy uit die hoek van sy oog hoe die seuntjie na hom staar, met die hoop dat hy van die oliebolle met hom sal deel. Die polisieman ignoreer die seuntjie en begin die straat af stap, maar nadat die man so ’n paar treë gestap het, voel hy so sleg dat hy omdraai en al die oliebolle vir die seuntjie gaan gee. Nadat hy weer so ’n paar treë aangestap het, voel hy hoe iemand aan sy baadjie pluk. Toe hy omdraai, is dit die seuntjie. Die seuntjie kyk na hom en vra: Excuse me, sir, but are you God?

Jy het die keuse om God se hart vir hierdie stukkende wêreld te wys. Daar is soveel vroue om ons wat nie 9 Augustus, of enige ander dag, met vreugde tegemoet kan gaan nie. Wees daar vir hulle.  Wees daar vir elkeen wat jou pad kruis. Wees daar om met jou sagtheid en unieke vrouehart God se liefde, waar jy ook al kom, te wys.