Klein Bollie van Peperlaan

deur: Anene Nortier*

Klein Bollie van Peperlaan met die seertraanogies en jou skaam glimlaggie, hoekom sou jy my hart so styf aangegryp het met jou onseker, sagte aanraking?  Ek wonder oor jou storie? Hoekom het die Vader jou, tussen 300 ander kindertjies in Beaufort-Wes, na my laat loer?  Hoekom klop my mammahart so sterk as ek in jou sagte ogies kyk en die onsekerheid en skaamheid soos ’n mussie oor jou gesiggie sien sak?

Die liewe Vader het jou as deel van ’n tweeling geskape – is dit nie juis sodat jou boetie jou kan beskerm teen hierdie harde wêreld waarvoor jy duidelik te broos is nie?  Jou boetie hardloop met uitbundigheid en vreugde in die stofstrate van Toekomsrus, terwyl jy bly terugtrek en alleen teen die mure bly staan?

Ek wonder so baie oor jou . . . hoe lyk die huisie waarin jy saans jou kop neerlê en jou seer ogies laat rus na ‘n lang, alleen dag?  Ek wonder oor jou mamma en of sy nie ook soms na jou kyk en so ’n rou behoefte kry om jou in haar arms toe te vou en te beskerm nie?  Ek wonder of sy opmerk hoe trots jy ‘n prentjie teken en jou naam bo-aan skryf? Sien sy die lig wat in  jou opwel as ’n mens jou sag aanspreek en ‘Liefkind’ noem, of is sy dalk so moeg na ’n lang dag op haar voete by die BP-garage dat sy saans net haar oë wil toemaak en haar siel wil laat rus?

Bollie, jy wat daagliks liefde uitstraal, het my weer met hoop gevul.  Hoop dat die reënboogland tog eendag sal verstaan dat die een ding wat ’n verskil in ons wêreld kan maak, die liefde is.

Bollie, jy laat my glo, want watter ander keuse het ek as om jou aan ons Hemelse Vader op te dra en te vra dat Hy die wêreld vir jou tog net ’n bietjie makliker en sagter sal maak.  Met die wegry moes ek glo ek het jou in sy goeie hande agtergelaat. Met jou foto op my foon en die prentjie wat jy vir my geteken het in my Bybel, verstaan ek nou hoekom ek en jy mekaar moes ontmoet.  Onthou Bollie, onthou altyd: Liefde wen!

*Anene Nortier, lidmaat van Stellenberg-gemeente, was in die Julieskoolvakansie deel van die span wat na Beaufort-Wes uitgereik het.