Kersfees – ’n tyd van hoop . . .

Deur: Ds. René Potgieter

Probeer jou in een van die volgende situasies indink: Jy is op ’n boot wat ankerloos in die stormsee langs ’n rotsagtige kus ronddobber, of jy is ’n bergklimmer wat aan jou vingerpunte, sonder ’n ankertou, oor ’n duiselingwekkende afgrond hang. Kan jy jou die vrees en paniek voorstel wat met die twee situasies gepaardgaan?

Kom ons stel ons weer presies in dieselfde situasies, maar hierdie keer is die boot met ’n stewige anker aan die seebodem vasgemaak en die rotsklimmer het ’n ankertou wat hom sal vashou en beskerm indien hy/sy sou val.

Wat is die verskil tussen die twee scenario’s? Dis tog vanselfsprekend dat die anker en die ankertou die situasie verander.  Indien jy stewig geanker is, kan die storms maar kom en kan jy maar oor ’n duiselingwekkende afgrond hang.  Al slaan die golwe rondom jou en al huil die wind – jy weet jy is geanker.

Hierdie twee beelde is ook simbolies van ons eie lewens. Daar is ’n reuseverskil tussen mense wat ankerloos lewe teenoor diegene wat met vastigheid en sekerheid leef ten spyte van moeilik lewensomstandighede.

Is hoop ’n illusie of ’n werklikheid?

Ons weet dat ons in ’n gekompliseerde wêreld met baie uitdagings en probleme leef. Ons land  het genoeg voorbeelde van ruïnes rondom ons en mense wat uitmekaarval. Daar is meer as genoeg puinhope om ons wanhopig te maak.  Ons ken baie hartseer verhale van mense wie se lewens deurmekaar en stukkend is. Ons word daagliks met slegte nuus van misdaad en korrupsie gebombardeer en daarmee saam is daar die realiteit van kinders wat die verkeerde besluite neem, finansiële bekommernisse, die pyn van siekte wat net nie wil los nie, swak werksomstandighede waaruit jy nie kan kom nie en die droogte wat nie wil breek nie. So kan ons opnoem . . .

Dalk sien jy in jou eie omstandighede gaan sprankie van hoop of uitkoms nie. Vir jou het hoop net ’n illusie geraak en bly hoop op ’n beter situasie bloot iets waaroor ’n mens maar net kan droom. Jy wil uitskree: Here wat moet ek doen, dit word al donkerder om my. Ek kan nie meer so aangaan nie.

Ons staan aan die vooraand van ’n nuwe jaar. As ’n mens terugdink oor die afgelope jaar, moet jy jou afvra – wat het my vanjaar laat aanhou en uithou? Dit wat jou laat aangaan het, word met net vier letters gespel – HOOP. Hoop is vir ons geestelike lewens net so noodsaaklik as wat suurstof vir ons liggame is. Sonder suurstof en hoop versmoor nie net die liggaam nie, maar ook die gees.

Wat is hoop?

Hoop is niks anders as ’n verlengstuk van ons geloof nie. Hoop is as te ware geloof in werking. Martin Luther het geskryf: Alles wat in hierdie wêreld gedoen word, wat die moeite werd is, word in hoop gedoen.  Met ander woorde,  hoop is daardie emosie wat die mens dryf om te beplan en om te doen ten spyte van moeilike omstandighede. Daarom was Benedictus van Nursia se lewensreël: Die belangrikste van alles is om nooit, nooit hoop te verloor nie. Hoop is om die melodie oor die toekoms te hoor. En geloof is om nou reeds op die maat daarvan te dans.

Deur hoop is jy in staat om aan iemand groter as jy, vas te hou. Hoop is daardie anker en ankertou wat jou vashou ten spyte van al die doodloopstrate waarin jy jou nou bevind, of die struikelblokke wat voor jou lê, of die stryd met jou gesondheid, of die werklas wat jou uitput. Dietrich Bonhoeffer wat vanweë sy Christenskap in ’n Nazikamp was, het die volgende geskryf: Hoop groei op die pad van swaarkry wat geduldig geloop word.

Die beloftes wat hoop gee

Dit is Paulus wat in Romeine 5:5 skryf:  . . . en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.  Dit wil amper klink of Paulus wil sê: Hoop laat jou nooit in die steek nie, stel jou nooit teleur nie en bedrieg jou nooit nie.  Maar kan ’n mens Paulus werklik glo? Jy hoop jy slaag ’n toets en dan druip jy die toets. Jy hoop jou onderneming slaag, maar dan misluk dit. Jy hoop jou huwelik is suksesvol en dan ontaard dit in ’n nagmerrie. Jy hoop om gesond te word, maar daar kom geen verandering nie. Hoe kan ons Paulus nog glo?

Wanneer Paulus sê dat die hoop nie beskaam nie, wil hy nie daardeur sê dat ons nooit teenspoed sal beleef nie. Paulus praat van hoop wat na die breër prentjie kyk. Dit is hoop wat kyk na die kindjie in die krip wat vir ons gebore is en wat vir ons hoop kom gee het. Dit is hoop wat sing Immanuel – God is met ons. Dit is hoop wat ons die versekering gee dat ons nie alleen is nie. Dit is hoop wat my laat aangaan ten spyte van die moeilike omstandighede. Dit is hoop wat nie beskaam nie. Want my hoop is nie in my omstandighede nie, my hoop is gevestig in iemand – Jesus Christus.

 

Jesus ons ewige hoop

Elke Kersfees kom bevestig God Sy belofte van hoop aan ons. Ons lees in vers 5 van Jesaja 9: Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Die Seun wat hoop gebring het na hierdie wêreld. As jy die Here Jesus as vennoot saamneem in jou lewe en Hy is jou anker, of  jou ankertou, dan het jy altyd rede tot hoop. As Jesus ons bron van hoop is, kan ons met ’n toekomsverwagting leef.