Junie/Julie 2019-uitreike
Ons uitreikspanne bestaande uit 96 jongmense en volwassenes gaan tydens die komende wintervakansie op die onderstaande dorpe uitreik. Doen asseblief voorbidding vir die spanne sodat hulle veilig sal reis en goeie gesondheid sal behou vir die groot taak wat op hulle wag. Die uitreikspanne bedien minderbevoorregte kinders, tieners en volwassenes in die onderskeie dorpe wat hulle besoek. Hulle bied ook tydens die uitreike, sopkombuise vir veral voorskoolse en laerskoolkinders aan.
Leeu-Gamka
- Datum: 15 – 21 Junie
Beaufort-Wes
- Datum: 22 – 28 Junie
Transkei (Bambisana)
- Datum: 22 Junie – 5 Julie
Calitzdorp
- Datum: 29 Junie – 5 Julie
Mavusa
- Datum: 22 Junie – 5 Julie
Die befondsing van uitreike
Hartverskeurende armoede is ’n werklikheid in dié plattelandse gemeenskappe en alhoewel uitreikspanne daarop fokus om inwoners met die evangelie te bedien, kan hulle nie die skreiende fisiese nood miskyk nie. In die lig daarvan het diensprojekte soos sopkombuise onmisbaar geword.
Die uitreikbegroting is onder druk. Alhoewel uitreikers inskrywingsfooie van R1 100 per uitreik betaal, beloop die werklike koste R1400 per spanlid. Die gemeente subsidieer R300 per uitreiker om die inskrywingsgeld meer beskostigbaar te hou. Ongeveer 15 uitreikers se onkoste word jaarliks ten volle gedek en die verhoging van brandstofpryse plaas ook ekstra druk op koste. Aan elke uitreik word R2 000 vir diensprojekte soos sopkombuise, verfwerk by skole en huise toegeken. Die knellende droogte en toenemende werkloosheid in gemeenskappe verhoog die vraag na diensprojekte. Oorweeg dus asb. om ’n bydrae tot Stellenberg se uitreikbediening te maak indien jy dalk self nie kan help uitreik nie.
Bydraes kan via EFT oorbetaal word na: ABSA tjekrekening, 145 058 0011, takkode 632005, gebruik UITREIKE as verwysing, of kontant inbetalings kan by die kerkkantoor tussen 09:00 en 13:00 in betaal word.
Die breigroep het honderde serpe en musse vir die uitreike gebrei
Stellenberg-gemeente se breigroep het werklik honderde serpe, musse en truie vir die winteruitreike gebrei. Die uitreikspanne sal die kleurvolle handewerk aan minderbevoorregte kinders en bejaardes oorhandig om die winterkoue op sy plek te sit.
Navrae rakende uitreike: Ds. Why Duvenhage 082 570 5931