Google genade

deur: ds. Bremer Gericke

Al gehoor van goedkoop genade?  En genadelose genade?

Dit help nie om die woord genade te google nie.  Daar is meer as 3.4 miljoen trefslae, jy beland tussen ou preke en soetsappige skryfsels.  Gaan lees eerder in die Bybel:  Romeine 3: 21-31 en Efesiërs 2: 1-10.

Sedert die Reformasie in die 16de eeu het die konsep van genade ontwikkel tot een van hoekstene van ons gereformeerde Christelike geloof.  Ons praat in kerktaal van sola gratia, genade alleen – om genade te ontvang is ’n geskenk, ons verdien dit nie.  Dat God ons liefhet, is nie ’n beloning nie, dis die aard van God.

Die Duitse teoloog Bonhoeffer se gedagtes oor goedkoop en duur genade het al baie gelowiges se lewens verander.  Gratis beteken nie daar is nie ’n prys voor te betaal nie.  Dit maak ons bereid om ook te gee, uit vrye wil deel ons self genade uit:  ons vergewe, ons het lief, ons handel inklusief, ons reik uit.

Miskien kan ’n mens praat van genadelose genade wanneer gelowiges hierdie boodskap op ’n veroordelende manier verkondig.  Of genadeloos leef in verhoudings met ander.

Stellenberg fokus in die derde kwartaal op hierdie sola gratia.  Daar is inisiatiewe deur die jeugbediening en twee kort preekreekse.  Meer inligting op Stellenberg se webtuiste en in die weeklikse bulletin.