Godsdiensvryheid en ander menseregte

deur: Dirk Brand*

Een van die kenmerke van die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika is die Handves van Menseregte wat in die Grondwet van 1996 vervat is.  Dié handves  was bepalend in die onlangse hofbeslissing teen die NG Kerk se sinodebesluit van 2016 rakende selfdegeslagverhoudinge.

Die Handves van Menseregte sluit onder meer die reg op godsdiensvryheid in.  Hierdie reg beteken onder andere dat elke persoon die reg het om sy, of haar godsdiens te kies en dit as individu, of saam met mense wat dieselfde glo – met ander woorde binne dieselfde kerklike organisasie, of  denominasie – uit te leef. Godsdiens is enersyds ’n persoonlike saak waaroor elke individu kan besluit, maar dit is ook ’n publieke saak omdat mense se geloofsoortuigings ’n morele of waarderaamwerk vir ’n samelewing se strewe na geregtigheid verskaf.  Vir Christene lê die belangrikheid van die beskerming van menseregte daarin dat die mens na die beeld van God geskape is en God elke mens lief het.  Dit is dus ook ons plig om dit uit te leef.

Die Grondwet bepaal dat die Staat verplig is om die reg op godsdiensvryheid, net soos ander menseregte, te erken, te beskerm en bevorder en te waak teen inmenging in die uitoefening van hierdie reg.  Die Staat moet dus die ruimte skep waarbinne mense hul godsdiens vryelik kan beoefen, en dit beteken ook erkenning van die relatiewe outonomie van kerke.  Die Staat mag niemand dwing om aan bepaalde kerke te behoort of nie te behoort nie – identifisering met bepaalde geloofsoortuigings en kerke moet vrywillig wees.  Die reg op godsdiensvryheid word uitgeoefen in samehang met ander individuele regte soos vryheid van assosiasie, die reg op menswaardigheid en die reg op gelykheid.  Hierdie konsepte vorm ’n wesenlike deel van die Christelike geloof.

Howe moet waak oor die toepassing van die Handves van Menseregte, insluitende die reg op godsdiensvryheid, en moet dus ook erkenning gee aan die diversiteit van geloofsoortuigings en die bestaan van kerke waarbinne geloof uitgeleef word.  In die onderlinge verhoudings tussen ’n kerk en lidmate word godsdiensvryheid beoefen, maar alle ander menseregte bly ook van toepassing.  Dit beteken onder andere dat ’n kerk nie teen lidmate mag diskrimineer op grond van byvoorbeeld ras of geslag nie.

Kerke het ook ’n verantwoordelikheid om oor die beoefening van godsdiensvryheid en terselfdertyd ook die beskerming van die ander menseregte te waak.  Kerke moenie skroom om in die openbaar standpunt hieroor in te neem nie, veral nie waar ’n owerheid of ander instellings in die gemeenskap mense se regte misken nie.  Kerke het ook ’n profetiese rol en moet standpunt oor aktuele sake inneem en dit ook in die openbaar kan verdedig, net soos wat hulle ook hul bepaalde wêreldbeskouing vreesloos mag verkondig.

 

*Dirk Brand is leierouderling van Stellenberg-gemeente en verbonde aan die skool vir Publieke Leierskap by die Universiteit van Stellenbosch.