Geloof is ’n geskenk . . . of nie?

deur: Ds. Bremer Gericke

Die begrip “geloof” het sedert die Reformasie 500 jaar gelede nuwe betekenis gekry in die gereformeerde kerke.  Daar is toe opnuut in die Bybel ontdek dat verlossing deur geloof alleen ontvang word, nie op grond van ons dade (goeie werke) nie.  Dit het gelowiges bevry van ’n wettiese godsdiens met allerlei voorskrifte, reëls en tradisies.

Om te glo kan dus as sodanig nie ’n prestasie wees nie, dan sou dit tog ’n “goeie werk” wees en sigself diskwalifiseer as die enigste onverdienstelike manier waarop ’n mens verlos kan word.  Daarom leer ons dat geloof ’n geskenk van God is.  Tog kan gelowiges soms kras oordeel oor ongelowiges wat “nie die geskenk aanvaar nie”.  Is dit regtig so eenvoudig?  Is die “aanvaarding” van die geskenk ’n besluit wat ’n mens self neem, of nie?  Of gelowiges verklaar met ’n mate van selfvoldaanheid dat iemand nie “reg” glo as hulle nie in alle opsigte soos húlle glo nie.  Hoe hanteer ons dit as ons nie presies dieselfde glo nie?  Hoe tree ’n mens in gesprek met iemand wat sê:  Soms twyfel ek want, daar is baie vrae in my gemoed.  Of ander wat sê:  Hoe kan ek iets glo as dit nie bewys kan word nie?

Wat is jou mening oor hierdie stellings en vrae?  Is daar dalk ander meer belangrike vrae?  Wat van:  Is iemand se geloof eg as dit geen of min verskil maak aan sy oortuigings en lewe?

In die tweede kwartaal is daar twee kort reekse waar oor hierdie soort vrae gepreek word.  Die eerste begin op 7 Mei en handel oor die reformatoriese “sola” oor geloof (sola fide = geloof alleen).  Die tweede reeks fokus op die Stellenberg Gemeentebelydenis, spesifiek ons belydenis oor dit wat “ons glo”.