Feesmark is weer slaggereed

Die feesmarkorganiseerders het met die vloerplan getoor en plek ingeruim vir 20 ekstra stalletjies.  Die mark spog dus vanjaar met 370 stalletjies en volgens Adri du Randt en Marelize Verreynne, die organiseerders, kan klante vanjaar heelwat nuwe items te wagte wees.

Hulle vertel dat daar veral uitsonderlike tafeldekor te koop sal wees.  Indien jy dus iets spesiaals vir jou Kerstafel soek, is die feesmark die plek om te kom rondsnuffel.  Daar sal ook ’n besonderse verskeidenheid leerhandsakke en keramiekware teen billike pryse wees.  Die juwele-uitstalling het ’n splinternuwe voorkoms en die mark se tuinafdeling is baie groter en bied interessante dekorstukke vir jou tuin.   “Ons het ook nie van die mans vergeet nie,” sê Adri en Marilize.  “Daar is baie geskenke vir mans en ook tienerseuns, byvoorbeeld ’n groot verskeidenheid unieke strikdasse en ander mode-items.”

Die restaurant word vanjaar deur die eienaars van die Môreson-padstal in Malmesbury, Benita en Heinrich Nel, bedryf.  Die Nels beoog om ons met ’n paar nuwighede op die spyskaart te verras, maar belowe dat die ou gunstelinge beslis nie sal verdwyn nie.  Benita vertel dat sy reeds besig is om die afval te kook en sê dat liefhebbers van die dis nie teleurgesteld in die eindproduk sal wees nie.   Varsgebakte brood en ander deliprodukte sal ook by die restaurant te koop wees.  Benita en Heinrich beplan ook om heelwat meer buitesitplekke by die restaurantarea in te rig.

’n Wyn-en-mengeldrankietoonbank wat deur Geandré en Petro van Wyk beman sal word, is ook ’n nuwe toevoeging tot die restaurant.  Die wyntoonbank sal ’n verskeidenheid wyne en biere te koop aanbied asook gesonde mengeldrankies wat uit groente gemaak word.  “Klante kan self besluit of hulle die groentedrankie met ’n bietjie jenewer of vodka wil opkikker en of hulle die skoon weergawe verkies,” sê Geandré.

Die feesmark is die gemeente se grootste fondsinsamelingsprojek en soos met die res van die gemeente se begroting, word ’n derde van die feesmarkinkomste vir projekte na buite aangewend. Die oorblywende twee derdes vorm deel van die gemeente se begroting.

“Om ’n mark van dié omvang aan te bied, bring egter ook groot uitgawes mee en daarom bied ons werklik jaarliks die mark in geloof aan,” sê Marilize en Adri.  “Ons gaan groot onkoste aan en moet vertrou dat die inkomste van die mark voldoende sal wees om die uitgawes te dek.   Ons probeer waar moontlik besnoei, maar van die uitgawes is onvermydelik.  Ons moet onder andere voldoen aan baie streng brandweerregulasies en dit bring ekstra koste mee.  Van die groot uitgawes lyk soos volg:

  • Bemarking R116 000
  • Lone R555 000
  • Sekuriteit R190 000
  • Huur van tente R353 000

“Ons kan maar net vertrou dat die mark vanjaar weer suksesvol sal wees.  Ons doen ’n beroep op lidmate om die mark en die restaurant te ondersteun en ook vriende na die feesmark uit te nooi.”