Diversiteit – ‘n seën of ‘n vloek

Oor die afgelope 2 000 jaar het verskille tussen Christene al tot baie konflik en spanning in die kerk gelei. In die laaste paar jaar het verskille oor die doop, selfdegeslagverhoudings en kerkeenheid op die voorgrond gestaan en die sensasiesoekende beeld wat deur die media geskets is, was dikwels die van ’n hartelose kerk wat irrelevant in die moderne samelewing geword. As ’n mens egter mooi daaroor nadink, besef jy dat hierdie sogenaamde kerklike kwessies direk verband hou met algemene daaglikse uitdagings in die samelewing.  Gelowiges glo egter dié kwessies moet nie net oppervlakkig beoordeel word nie.

Paulus verwys in Efesiërs 4 en Kolossense 3 na die seën van diversiteit onder gelowiges, en in Romeine 11:33-12:8 oor God se groot wysheid, waarin gelowiges opgeroep word om hulleself as lewende offers aan te bied. Die tekste illustreer dat waar gelowiges oor die alledaagse in hul samelewing worstel, God se koninkryk op ’n ondenkbare en verrassende wyse deurbreek en Hy Hom aan die  wêreld vertoon.  Al Paulus se briewe aan die vroeë gemeentes was die uitvloeisel van probleme waardeur gelowiges moes worstel. Of ons dus verskille sien as ’n vloek, of ’n seën, gaan van ons eie ingesteldheid afhang. Die Bybelboek, Handelinge, wat vir die volgende kwartaal die fokus van ons eredienste is, bied ’n besondere insig hierin.

Met die lees van Handelinge maak ons dikwels die fout om te dink dat die gemeente in Jerusalem waarvan gepraat word, die eerste en enigste outentieke kerk van daardie tyd was. Paulus vertel byvoorbeeld hoe hy tydens sy sendingreise groepe gelowiges teëkom wat skynbaar nie enige verbintenis met die moedergemeente in Jerusalem gehad het nie. Die krag van die uitstorting van die Heilige Gees was nie beperk tot Jerusalem nie en dit word vandag aanvaar dat Jesus se bediening in Galilea byvoorbeeld ’n dinamika meegebring het wat waarskynlik aanleiding gegee het tot die totstandkoming van ’n hele aantal vroeë gemeentes, maar waaroor daar vandag geen geskrewe bronne bestaan nie. Die skares (letterlik duisende volgelinge) wat Jesus getrou in Galilea gevolg het, word nie deur die honderd en twintig gelowiges waarvan ons in Handelinge 1:15 lees, verteenwoordig nie.  Argeologiese opgrawings in Israel en Turkye bewys nou dat daar ’n baie groter verskeidenheid mense teenwoordig was as die tradisionele prentjie wat in Handelinge beskryf word.

Kort na die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 het spanning onder die gelowiges in die gemeente van Jerusalem,  wat Hebreeus- of Griekssprekend was,    uitgebreek (Hand.6:1). Die kwessie was nie soseer taal nie, maar die verskillende beskouinge rakende die betekenis van Jesus se opstanding. Hebreeussprekende gelowiges, waaronder die apostels, het hulle steeds as lede van die Joodse kultuur  beskou.  Hulle het met die oortuiging geleef dat Jesus spoedig as Messias sou terugkeer om die Joodse nasie te bevry.

Die Griekssprekende gelowiges het daarteenoor die genade van Jesus se opstanding wyer beleef. Stefanus se toespraak in Handelinge 7:1-53, waarin hy hierdie perspektief verwoord, is gesien as ’n aanval op die heiligheid van die tempel en Joodse godsdienstige tradisies (Hand.7:48). Stefanus word gestenig en die Griekssprekende gelowiges vlug uit Jerusalem en vestig hulle buite die grense van Israel in Antiogië, waar die gemengde groep gelowiges dan ook vir die eerste keer Christene genoem word (Hand.11:19-26).

Die “andersheid” van gelowiges in Antiogië het die gemeente in Jerusalem bekommer en Paulus en Barnabas moes hulleself voor die Hebreeussprekendes in die moederkerk in Jerusalem gaan verantwoord (Hand.15:1-35). Hulle is daarvan beskuldig dat hulle mense van buite die Jodedom (heidene), sonder om hulle te laat besny,  in die kerk ingebring het.  Dit het volgens hulle die heiligheid van hulle geloofstradisie bedreig. In Handelinge 15 lees ons dat dié kwessie toe tydens ’n vergadering, wat lank geduur het (Hand.15:7) en waartydens emosies opgevlam het, (Hand. 15:2), bespreek is.

Paulus en Barnabas het van Antiogië na Jerusalem gereis om te pleit vir ’n meer inklusiewe benadering. Die leierskap van die moedergemeente in Jerusalem het besef dat God met iets groters besig was en dat alhoewel hulle nie daarmee saamgestem het nie, daar in die kerk ruimte gemaak moes word daarvoor.

Na ’n “lang bespreking” (Hand.15:7) waarin debat gevoer is, is ooreengekom om op grond van die getuienisse van Barnabas en Paulus (Hand. 15:12) eerder die weg van die liefde te kies, sodat ook gelowiges uit die heidendom deel van die kerk kan wees.  Dit was beslis nie vir almal maklik om met dié nuwe reëling, wat die akkommodering van nie-Jode binne die kerk behels het, saam te leef nie.

In elke daaropvolgende eeu moes die Christendom met verskille worstel. In die derde en vierde eeu na Christus was dit die stryd oor die natuur van Jesus. Was Hy meer mens of meer God? Die uitkoms van die verskille was verdrukking. Iewers is daar altyd ’n wenner of ’n verloorder. Die spanning en bloedvergieting tussen Katolieke en Protestantse Christene in Europa in die 16de tot vroeë 18de eeu, is ’n goeie voorbeeld.

Dit is ’n mite dat die Christendom as ’n eenvormige beweging begin het en met verloop van tyd gefragmenteer het. Vanaf Jesus se eerste openbare optredes het uiteenlopende groepe gevorm  en oortuigings bestaan. Miskien is die probleem dat ons die konsep van “geloof” en “oortuigings” met mekaar verwar. Ons oortuigings vertel van onsself – dit wat in ons eie koppe aan die gang is en dít verander gedurig. Geloof is gerig op God; dus buite onsself en ons menslike beperkinge. Dit dui op die onsienlike en help ons om die grens van ons eie oortuiginge oor te steek.

Wat kan ons vandag hieruit leer? Uit die vroeë Christene se worsteling het die insig gegroei dat die probleem van diversiteit nie noodwendig ’n vloek was nie, maar ’n seën.  Hulle perspektief het verander toe hulle opgehou het om die saak oor wat reg en verkeerd is te debatteer, maar eerder na die getuienisse van mense wat direk deur die kwessie geraak was, te luister.

Om vandag in Stellenberg-gemeente, of in enige ander gemeente van so ’n proses deel te wees, is nie maklik nie.  Met Stellenberg se makro-karakter, wat ’n diversiteit mense verteenwoordig, is die potensiaal vir verskille en konflik altyd groot. Ons glo egter dat God ons juis seën met ’n ryke verskeidenheid menings en mense en is dankbaar vir lidmate wat kies om hulle geloof in ’n “heilige algemene kerk” (Apostoliese geloofsbelydenis) te bely, en toegeeflik en akkommoderend te leef sodat hulle ’n verskil in die lewens van ander kan maak.

ONS GLO

Jesus, ons Verlosser leef

ONS STREEF

om met die liefde van Christus inklusief oor alle grense heen uit te reik

ONS LEEF

as getuies en volgelinge van Christus