Die storie van die kwekers vir die Here

 

deur: Johan Jooste

Elkeen noord van 60 jaar oud, of diegene wat nie meer voltyds werk nie, behoort ’n konstruktiewe tydverdryf te hê.  Indien dit boonop bydra tot die opbou van die gemeenskap of kerk, is dit ’n bonus.

Ses manne, by wie die beskrywing hierbo pas,  het begin om hul passie, die kweek van vetplante, te koördineer en die eindresultaat was die begin van ’n kwekery met die beskrywende naam “Kweek vir die Here” – selfs met ons eie  embleem.  Elke kweker kweek verskeie soorte vetplante in sy agterplaas, maar op bepaalde tye werk ons saam om plantjies, soos “ tarentaaltjies”, voor te berei vir uitreikspanne wat die plantjies na plekke soos Calitzdorp, Prins Albert en selfs die Oos-Kaap en Mpumalanga neem.

Die plantjies word deur uitreikers as ysbrekers gebruik in die kontak wat hulle met minderbevoorregte mense in verskillende gemeenskappe maak.  Dit dien as ’n aanknopingspunt in gesprekke met mense en so word die Woord van die Here indirek ook deur ons vetplante versprei.  Uitreikers vertel dat plantjies gretig ontvang word en selfs in baie huise as ’n kleinood vertroetel word. Dit herinner die ontvangers ook deurgaans dat daar mense in Stellenberg-gemeente is wat vir hulle omgee en bid.

Sewe keer per jaar bring die kwekers ook voorrade kerk toe vir ons gewilde uitstallings op Sondagoggende – alle plante word gratis aangebied, maar donasies in ruil vir die plantjies word verwelkom. Die donasies word gebruik om behoeftige kinders wat graag aan uitreike wil deelneem, maar nie die inskrywingsgeld kan bekostig nie, te borg.  Die Kweek vir die Here-span is trots op die feit dat hulle jaarliks ongeveer 10 tot 14 jongmense borg om aan uitreike deel te neem.

Ons is dankbaar vir lidmate se ondersteuning en wil ook ’n uitnodiging aan almal met ’n hand vir ’n plant rig om by ons span aan te sluit.  Kontak gerus vir Koos Lamont (082 447 2109) of Jan Bester (073 462 4577) vir meer inligting.