Die kosprojek is in die knyp

In vele tafelgebede voor etes word daagliks vir diegene wat minderbevoorreg is gebid, maar besef ons regtig dat daar mense in en om ons eie gemeenskap is waar die koskas en die yskas dolleeg is?  Verstaan ons die angs van ‘n ma wat nie weet wát sy vanaand vir haar gesin vir aandete gaan voorsit nie?

Die gemeente se kosprojek probeer om in sulke situasies praktiese voedselhulp te verleen.  Volgens Milda Brits, betrokke by die projek, voorsien hulle tans maandeliks voedselhulp aan 14 huisgesinne (59 persone), wat deur gemeenteleraars na die projek vir hulp verwys word. Dit kos gemiddeld R390 per persoon, per maand.  Vier sopkombuise word ook met sopbestanddele vanuit die kosprojek ondersteun.

In samewerking met die kosprojek berei die omgeekombuis se helpers ook weekliks 50 maaltye voor wat na onder meer die JAM-span, Magdalenahuis, Omgeehuis en persone wat deur predikante geïdentifiseer is, versprei word.

Soos sake nou staan, is die kosprojek se rakke egter ook dolleeg en helpers is bekommerd oor waar hulle voorraad vir die volgende besending gaan vind.  Ons doen ‘n beroep op lidmate om die projek te ondersteun met bydraes van niebederfbare kosprodukte – enige items wat jy in jou eie huis gebruik soos suiker, olie, meel, langlewemelk, pasta en rys is baie welkom. Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word, of plaas dit op die wit kas onder die trap in die voorportaal van die kerk.

Indien dit vir jou makliker is om ‘n kontantbydrae te maak waarmee die kosprojekhelpers dan self aankope sal behartig, betaal jou bydrae oor aan ABSA, tjekrekening, 145 058 0011, takkode 632005.  Gebruik “kosprojek” as verwysing. Vir verdere navrae, kontak Milda Brits by [email protected]