Die jeugdiens en kleingroepe is behoorlik afgestof

Die jeugdiens en kleingroepe is behoorlik afgestof

 deur: ds. Peter Kotze

 Op 23 April het die jeugbediening op ’n Sondagaand ’n splinternuwe era betree:  nuwe tye, nuwe benamings, ’n nuwe aanslag en nuwe sosiale geleenthede vir ons tienergroep.

Sondae se verrigtinge skop nou reeds om 17:00 af met ’n sosiale geleentheid waar alle tieners welkom is om koffie te kom drink, pool te speel, of sommer net die tyd saam met vriende te verwyl.  Daar is geen georganiseerde program nie – bloot ’n gesellige saamwees en geniet.   Die amptelike deel van die aand begin dan om 18:00 met die jeugdiens en direk daarna vergader die kleingroepe tot om 20:00.  Die kleingroepformaat word ook aangepas  om ruimte te skep vir gesprekke en vrae rondom aktuele temas in plaas van gesprekke waar inligting slegs deurgegee word.   En na afloop van die kleingroepe is daar wéér geleentheid vir saamkuier!

Die afgelope week se wegspring in die nuwe tydgleuf was baie geslaag.  Die kerkgedeelte onder die galery was vol gepak met jongmense en ook ander lidmate wat die erediens bygewoon het.  Die vloei van tieners en studente vanuit die kerk na hul kleingroepe daarna was, vir my ’n wonderlike gesig om te aanskou. Dit het my herinner aan ’n sterk stroom helder water wat vloei, en vloei . . .

Die jeugdiens en kleingroepe vorm ‘n eenheid, maar enig een is welkom om die erediens by te woon.

Ons nuwe benaminge lyk soos volg:

  • Nie meer “Kategese” nie, maar nou “Jeugkleingroepe”
  • Nie meer “Kategete” nie, maar nou “Kleingroepleiers”
  • Nie meer “Lesse” nie, maar nou “Aanbiedings en Gespreksmateriaal”