Die herlewing en verdieping wat Pinkster bring

deur: ds. Marius Breytenbach

Ons het tydens die afgelope Pinksterdienste die seën van ’n verskeidenheid geleenthede beleef. In die saalkompleks het voorskoolse, laerskool- en hoërskoolkinders onder leiding van Sunet Opperman, Brenda Visser en ds. Peter Kotze  bymekaargekom. In die kerk is dienste saans deur ds. Callie Visagie en soggens deur Mike van Deventer gelei. Saans, na al die geleenthede, het oud en jonk in die markplein ’n koppie sop en koffie geniet.

Die gebruik om tussen Christus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkstersondag vir dienste bymekaar te kom, is uniek aan ons kerktradisie. Dit het in 1860 met die herlewing in ’n Kaapse kerk begin en het gou na die res van die land versprei. Na 158 jaar word die tradisie van Pinksterdienste steeds regdeur die land voortgesit.

Wat is die herlewing en verdieping wat die Gees van God vandag by ons wil tuisbring? Handelinge 2 vertel dat die dissipels ter viering van die Joodse Pinksterfees, wat 50 dae na die Paasfees gehou is, in die bovertrek bymekaargekom het. Tydens daardie geleentheid is die Heilige Gees uitgestort en het gelowiges in die tale van al die “nasies onder die son” (destydse antieke wêreld) begin praat. Waaroor het hulle  gepraat? Volgens Handelinge 2:11 het hulle tot in die uithoeke van die destydse antieke wêreld getuig oor die groot dinge wat God gedoen het. Pinkster was die geboorte van die kerk  – dié kerk wat God se genade en liefde die wêreld ingedra het!

Die Joodse Pinksterfees waarvoor die dissipels bymekaargekom het, was ’n oesfees, maar het ook die Jode herinner aan Moses wat die volk, 50 dae nadat hulle in Egipte bevry is, by die berg Horeb uitgebring het. Daar het Moses die Wet (Jode verwys daarna as die Tora) van God ontvang. Pinkster was dus nie net vir Jode die begin van hulle vryheid na slawerny nie, maar juis ook die bevestiging dat God in hierdie vryheid hulle tot betekenisvolle lewens oproep. Die Wet (Tora), wat 613 bepalings gehad het, het elke aspek van die lewe aangespreek. Dit was hulle riglyn  om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam voor God te lewe (Miga 6). Die Pinkstergebeure waarna Handelinge verwys, was ’n voortsetting van hierdie Ou-Testamentiese aanwyser. Die kerk, ’n gemeenskap van uiteenlopende mense, gedryf deur die Gees van Christus, verkondig daarom steeds God se sorg en seën oor alle grense heen.

Ons gemeentebelydenis wat al vir dekades deel is van ons gemeentekultuur, verwoord dit soos volg: Ons strewe om met die liefde van Christus inklusief oor alle grense uit te reik. Na mekaar in ons geloofsgemeenskap, na mense in ons werkplek, buurt en breër gemeenskap, na mense in ons land en daarbuite, na moederaarde en alle vorms van lewe. Ons glo dat die Gees van Christus ons hierdeur verdiep en ons dring om die gees van Pinkster te laat herleef in die wêreld waarin ons ons bevind. Ons rig daarom ’n werkroep aan ons lidmate om nou na Pinkster aan dié opdrag gehoor te gee.