Die hele dagga-kwessie

Deur: ds. Hanno Ackerman

Ons leef in interessante tye –  tussen 2018 en 2019 is oor die kwessie rondom die dekriminalisering van dagga gedebatteer en is ons landswette aangepas sodat dagga wel  vir medisinale doeleindes wettig gebruik mag word.  Nou ontstaan die vraag – wat moet ek as ouer oor die saak dink en wat moet ek vir my kinders aangaande die gebruik van dagga leer?

Daar word geargumenteer dat die dekriminalisering van bepaalde gedrag, gebruike, gewoontes, ens. soms voordelig is omdat dit juis die onwettigheid daaraan verbonde is wat  vir veral jongmense ‘n groot aantrekkingskrag inhou.   As tiener kan ek onthou hoe opwindend dit was om byvoorbeeld hubbly bubbly te rook.   Dit is voorgehou as net gegeurde tabak wat deur water “gesuiwer” word, maar die eintlike aantreklikheid vir my en my maters was die feit dat dit ’n verbode produk was. Ons het eers later van die studies gehoor wat bewys het dat ’n uur se hubbly bubbly  rook netso skadelik soos 200 sigarette is.

Net soos hubbly bubbly is dagga nie ’n nuwigheid nie.   Die Mediese Navorsingsraad  van Suid-Afrika het aangedui dat reeds in 2008 meer as 3,2 miljoen Suid-Afrikaners dagga gebruik het.  Na die verandering van die wetgewing t.o.v. die gebruik van dagga, tref ’n mens nou selfs bier, pizzas en nageregte met dagga in, aan. Die gebruik en kondonering van dié middel neem al hoe meer toe onder Suid-Afrikaners.  Ouers is reeds bekommerd oor die lakse sisteem wat minderjariges toegang tot alkohol verleen en nou word dagga ook deel van die prentjie.

Dit is vir my baie duidelik dat dit elke ouer se verantwoordelikheid is om sy/haar kind van die mediese en psigiese gevolge wat met die gebruik van dagga gepaard gaan,  bewus te maak.  SASOP ( South African Society of Psychiatrists) het in 2018 hulle kommer uitgespreek oor die persepsie dat dagga ’n onskadelike middel is. SASOP se navorsing het bevind dat 9% van mense wat die middel gebruik, wel daaraan verslaaf sal raak en sou jy die middel gedurende adolessensie begin gebruik, vergroot dié risiko tot 17%.   Dagga het ’n aantal psigiese newe-effekte waarvan geheueverlies, angsversteurings en depressie die vernaamste is.  Veranderings in persoonlikheid, algemene traagheid en lusteloosheid kom ook voor.

Studies toon ook dat sekere individue meer vatbaar is vir die newe-effekte as ander en dat daggagebruikers dikwels na ’n periode van gebruik, oorslaan na meer gevaarlike dwelmmiddels.

My raad aan ouers is om gereeld met jou kind oor onderwerpe soos dagga, alkohol, asook seksualiteit te gesels.  Moenie toelaat dat die kwessies verbode onderwerpe raak nie, sodoende raak dit net meer aanloklik en ’n mens se kinders moontlik meer waaghalsig.  Praat openlik met jou kind oor die gevolge van hulle keuses en hoe hulle verantwoordelike besluite kan neem.