Die dominee en die broeder

Deur: Reinhold Swart

Bremer Gericke se verblyf in Stellenberg is soos ’n boeiende verhaal,  maar net beslis interessanter  “leesstof”  as enige poging deur Deon Meyer en Rudie van Rensburg saam.  Ek trek graag die stoute skoene aan en vertel  van een aand uit hierdie kleurryke verbintenis.

Baie jare gelede, in 1987,  het ek as nuwe intrekker met Bremer kennis gemaak.  Ek het hom as effe eksentriek leer ken,  maar beslis ‘n orator van formaat,  ’n besielende prediker,  ’n mens-mens en gewis ’n gemeente-liefling.

Bremer het vir my, pas verkies tot diaken en die ouderling, Herman Bosman, ’n finansiële ghoeroe, ’n wyk wat deels nog leeg en woes was, gegee  om daar “evangelisasiewerk”  te gaan doen.  Naas die kerkwerk het ons gereeld heerlik vleisgebraai,  sopaande gehou, vlugbal gespeel en selfs ’n Chinese roerbraai aangedruf.   ’n Nuwe kerkraadslid uit Gautêng,  Johan van Zyl,  was skepties of die roerbraai gaan werk,  want “waar gaan ons ’n Chinees kry?”  Nou bestaan daar ’n ooraanbod.

Later is ek as hoofdiaken verkies en het besluit om iets unieks en spesiaals aan te pak.  Wat is die lewe tog sonder ’n lekker ou kinkel.  In daardie stadium het Bremer drie stokperdjies gehad:  draf,  soetgoed en huisbesoek.  Hy het elk van sy 600 huishoudings twee keer per jaar besoek.  En sy huisbesoek was nie net ’n versie uit Psalm 23 aanhaal en ’n kort gebed doen nie.  O nee,  daar is na die geestelike welstand verneem,  die harmonie in die huwelik was onder die vergrootglas,  woon die kinders die Sondagskool by,  en nog ’n legio ander ernstige sake.  Die geskeduleerde 45 minute het gou-gou  tot ’n uur en ’n half uitgerek.

Die uwe moes destyds die huisbesoekprogram vir ons wyk uitwerk en besluit toe om ’n verrassingsbraai vir Bremer te hou. Met die grootste geheimhouding word alles met sy duifie, Erna en ons wykslede gereël.  Bremer sou halfag die aand by Tinus en Mariaan Loots besoek bring en om aguur by ons.  Tinus-hulle se  opdrag was om hom besig én van die vensters af weg te hou,  sodat die gaste ongesiens straataf by ons huis kon inglip.

Bremer was weer eens effe agter met sy skedule,  so by ons huis het die kuier,  sonder brieke,  begin spoed optel en die broers het oorkruis die “nagmaalwyn”  aan mekaar bedien. Uiteindelik het ons voordeurklokkie gelui.

Ek het gaan oopmaak,  glas wyn in die hand,  tot dominus Bremer se ontsteltenis.  Hy het met weersin en wroeging na my gekyk,  die kleur het sy gesig verlaat,  en hy het swaar gesluk soos ’n ou met sooibrand wat ’n kafee-pie se laaste stuk probeer afwurg.  Hy het skoorvoetend die huis ingestap met neusvleuels wat tril soos dié van Pi se tier.  En toe . . .

’n See van bekende gesigte!  Bremer het sy kleur teruggekry en toe hy sy bruid en vrou van vele deugde sien,  het hy so ’n prototipe Jacob Zuma-laggie gegee . . . en ek is vergewe . . . sewe-keer-sewe.  Dit was ’n heerlike aand,  maar Bremer is ongelukkig die vleispotte van Egipte belet.  Hy sou die volgende dag ’n halfmaraton op Wellington hardloop en is daarom beperk tot Fransonette, my granaatpitjie, se Kook-en-Geniet-pastatreffer.  Van die poedingtafel kon ons hom egter nie wegkeer nie!

Nou ja.  Ons sal beslis by Bremer en Erna op Barrydale gaan kuier,  met ’n Kaapse soetigheid styf onder die blad.