Dalk was sy tog geseënd

*Deur: dr. Christo Benade

Ek het vanoggend vir Yolanda (28/12/1977-21/09/2019) begrawe. Dit was moeiliker as gewoonlik. Want sien, Yolanda was een van die onsigbares in ons wêreld. Een van mense wat op die rand van ons samelewing geleef het, min het haar, haar behoeftes en haar drome geken.

Yolanda is gebore uit die liefde van ’n pa en ma wat haar sekerlik met groot opgewondenheid in die lewe ontvang het. Op twee was sy ’n pragtige klein dogtertjie met ’n vonkel in die oog. Gou het haar lewe ’n ander pad begin loop. Sy val eers in ’n swembad en doen breinskade op. Die breinskade was van ’n ligte graad, maar vertraag haar intellektuele ontwikkeling en veroorsaak dat haar gesigvorm ook verander.

Haar ouers kon later nie meer vir haar sorg nie en sy woon vir jare tussen ander familielede. Veel meer weet ek nie. Ek leer haar sewe jaar gelede ken as een van ons gemeente se lidmate. Sondag na Sondag sien ek haar daar op die galery van ons kerkgebou – alleen. Na die diens kom drink sy tee – alleen.

In die week sien ek haar stap op straat – alleen, altyd doelgerig. Soms stoot sy ’n waentjie met kinders wat sy oppas. Op ’n ander keer vertel sy vir my sy pas nou vir “Oupatjie” op. Ek kon nooit uitvind wie “Oupatjie” is nie.  Na “Oupatjie” se dood doen sy “carwatch”.  Dit betaal nie goed nie, maar dis darem iets, sy kla nie.

Sien, sy het nooit gekla nie, sy het nooit iets gevra nie. As jy haar help met iets en sy het twee, dan bring sy een terug.  Die gevolge van die “carwatch” kon ’n mens op haar gesig sien, blootgestel aan die son en die elemente.

So ’n jaar of wat gelede vertel sy dat sy kanker het, ’n gewas aan haar nek. Eers na Helderberg Hospitaal, later Tygerberg. Sy moet chemoterapie (kiemo soos sy gesê het) kry.  Later sal ek hoor dat sy elke keer as sy “kiemo” moet kry, sy  die trein om 05:00 vanaf Strandstasie geneem het tot by Bellvillestasie. Vandaar het sy 5 km tot by Tygerberg Hospitaal gestap, chemoterapie ontvang, teruggestap, en weer die trein gehaal. Môre, staan sy weer “carwatch”.

Na die chemo het dit goed gegaan vir ’n ruk, sy het ’n vriend gehad, sy het blyplek in ’n kamer in Gordonsbaai gekry. Sondag na Sondag het sy ’n geleentheid gereël om kerk toe te kom.  Alleen.

Toe kom die kanker terug, meer aggressief, meer vernietigend.  Weer het die chemoterapie begin. Weer het sy die trein gehaal.

Gestremdheid, om wees te wees, armoede – niks kon haar baasraak nie, maar nou het haar eie liggaam haar begin baasraak. Nooit het sy opgegee nie, tot op die laaste het sy steeds behandeling ondergaan.

Vrydagnag 21 September is sy finaal huis toe. Hemel toe. Waar daar ʼn feesmaal is, waar daar ʼn Vader is, waar daar vreugde is.

Vir baie van ons is hierdie lewe alreeds hemel, met baie pret en baie plesier. Daarom stel ons nie veel belang in wat wag nie, want dit kan mos nie regtig beter wees nie.  Yolanda moes 42 jaar wag vir haar hemel.

Ek sien hierdie week ’n blink voertuig verby ry met die nommerplaat blessed. Ek wonder wat het sy gedink as sy die blessed motor moes oppas totdat die kreunende kruidenierswa met meer blessings terugkom van die supermark. Yolanda was dan seker nie meer blessed nie.

Tog het sy vasgehou aan die hoop wat sy nie kon sien nie.  Uitkoms was daar min in haar lewe, maar sy het vasgehou aan haar Vader. Ja, Yolanda was geseënd, geseënd met ’n geloof wat alle verstand te bowe gaan.

*Dr. Christo Benade is ’n leraar by die NG Kerk Suider-Strand.  Hy deel dié artikel oor sy verhouding met Yolanda goedgunstiglik met ons lesers.  ’n Mens kan net wonder by hoeveel Yolandas ons daagliks verby leef en tog kan ons so baie by hulle leer.