GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Donderdag 18 Februarie 2021

Openbaring 5:9.   “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”

Die lyding en sterwe van Jesus Christus is nie sommer net deur iemand uitgedink en neergeskryf nie.  Van die begin af was dit die plan van God vir die wêreld wat Hy geskep het.  Sy enigste Seun sou na hierdie wêreld toe kom, om diep spore te trap, deur lyding, die kruis, en uiteindelik die opstanding.

In ons teksgedeelte van vandag, sien ons die dramatiese gebeure van ’n aanbiddingsdiens van hemelwesens.  Ek kan my net indink hoe die dag verloop het voor die troon van God, waar duisende hemelwesens in volle toewyding aanbid.  Nie ’n sterk leeu nie, maar  ’n Lam.  Die teksvers kwalifiseer dit baie duidelik.  Dit gaan oor die Lam wat waardig is om die seëls, die kennis van God oop te maak, en dan baie spesifiek, omdat Hy geslag is.  Ook omdat Hy met sy bloed, die mense vir God losgekoop het.

Rondom die troon was daar ouderlinge en ’n groot menigte engele.  Almal het die heeltyd uitgeroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag, rykdom, en waarde en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.  Die lyding en sterwe van Jesus Christus was pyn, bloed en wonde.  Maar bo-oor die tragiese lyding, word daar heeltyd geskryf: “die Lof van God”!  Ja, in die lyding en sterwe van Jesus Christus word die plan, die mag en heerlikheid van God geopenbaar.

Die engele en hemelwesens het dit besef, en daarom aanbid hulle juis vir Jesus as die Lam, wat geslag is.  Want, uit sy dood, het die heerlikheid van God, op ’n baie besondere manier sigbaar geword.

Weereens, haal ek vir John Piper aan wat ook hieroor skryf: “Therefore we can conclude that the centre piece of worship in heaven for all eternity will be the display of the glory of the grace of God in the slaughtered Lamb.  Angels and all the redeemed will sing of the suffering of the Lamb forever and ever. The suffering of the Son of God will never be forgotten. The greatest suffering that ever was will be at the centre of our worship and our wonder forever and ever. This is not an afterthought of God. This is the plan from before the foundation of the world.”

Gebed

“Verlate van die vriende, verlate worstelaar, verlate van die Vader, verlate  Middelaar! Net pyn, en dors en duister, is by U in nood: Ontdaan van aardse luister, oorwin U tog die dood.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Februarie 2021

Lukas 24:25.  Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!  Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?  Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

Ons is tans in die opwindendste tyd in ons kerklike jaar, naamlik Lydenstyd.  Elke jaar,  so na ons seisoen van Epifanie, gaan ons as gemeente en kerk hierdie unieke tyd binne terwyl ons spesifiek dink aan Jesus se uitdagende reis na sy kruis op Golgota.

Dis ook ’n baie goeie tyd om te besin oor die lyding van ons Verlosser, Jesus Christus.  Dit kan dikwels gebeur dat ’n mens so outomaties deur hierdie tyd in die kerkjaar gaan sonder om jouself die vraag eerlik af te vra: “Maar hoekom?  Waarom moes Jesus juis hierdie bittere pad loop?”

Ek het as kind ook baie gewonder of dit nou regtig nodig was?  Kon die Vader nie ’n ander plan gemaak het nie?  ’n Makliker, beter plan met sy seun, Jesus Christus nie?  Hoekom dan lyding, bloed en ’n kruis?

Ons wil in hierdie volgende paar dae stilstaan by die  betekenis van hierdie grootse gebeure in ons kerklike jaar, naamlik die herdenking van die lyding van Jesus Christus.  Ons wil ook die sogenaamde “so-what?”-vraag vra. Hoe raak dit ons?  Watter betekenis hou dit vandag vir ons in? Hoe kan ons dit vandag in ons eie tyd toepas?

In die teks wat ons vanoggend gelees het, sien ons Jesus in gesprek met die Emmausgangers.  Hulle het baie vrae gehad oor die gebeure rondom die lyding en sterwe van die Here Jesus, wat hulle self waargeneem het.  Dan vra Jesus hulle die vraag: “Moes die Christus nie al hierdie dinge ly, om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Ja, die pad was pynlik, en het bestaan uit bloed en wonde, kruishout, haat en hoon.  Dit het hulle, die Emmausgangers gesien.

Maar die uitkoms daarvan was uiteindelik veel groter.  Dit het gegaan oor heerlikheid.  Die lyding van Jesus was sy roete en die pad wat Hy moes loop om die heerlikheid binne te gaan, maar ook om die heerlikheid van God ten toon te stel aan ’n wêreld wat verlossing so broodnodig het.

Ek haal aan uit ’n artikel van John Piper, wat dit pragtig stel, aan: “This coming to suffer and die is the supreme manifestation of the greatness of the glory of the grace of God.  Or to say it a little differently, the death of Christ in supreme suffering is the highest, clearest, surest display of the glory of the grace of God.  If that is true, then a stunning truth is revealed, namely, suffering is an essential part of the created universe in which the greatness of the glory of the grace of God can be most fully revealed.

Gebed

“O Heer, uit bloed en wonde, kruishout, haat en hoon, blyk dit hoe die sonde die liefde ru beloon.  U liefde bring genesing.  Al is daar met U gespot, U liefde skenk vergewing en wil versoen met God. “ Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Februarie 2021

Paulus skryf  in Filippense 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Ek kan nie glo die helfte van Februarie is al verby nie! Ons gaan juis vanoggend meer oor tyd gesels.

Gejaagde grootmense en kommerlose kleuters verloor soms tred met die tyd.  Soos klein Pieter wie se pa die afgelope skoolvakansie eers ’n week na die gesin se aankoms by die see, by hulle aangesluit het.  ’n Dag voor sy pa se koms het die mannetjie aanhoudend gevra: “Wanneer kom pappa?” Sy ma het hom elke keer verseker: “Hy kom môre.”  So het dit aangegaan en hy was elke keer verseker dat hy sy pa die volgende dag sou sien.  Toe sy pa die volgende oggend reeds teen dagbreuk daar opdaag,  terwyl klein Pieter nog geslaap het, kon hy toe hy later wakker word en sy pa sien, nie sy oë glo nie!  Sy vraag was toe aan sy pa: “Is vandag dan al môre?”

Is vandag regtig al môre?  Mense vra so baie: “Is ons al in Februarie? Wat het van 2020 geword?  Nou is ons al in 2021? Is vandag dan al môre?”   Vir Paulus was môre beslis voor die deur, soos hy in ons teksvers sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Eintlik sê hy dat hy in Christus, reeds self gesterf en opgestaan het, en nou saam met Hom lewe.  Soos klein Pieter, kan ons baie keer nie glo dat môre alreeds by ons is nie.  Daarom jaag ons deur die lewe, asof die beste dinge nog voor ons lê en ver buite ons bereik is.  So word geluk soos ’n pragtige voël wat ons agtervolg en probeer vang, maar instussen sit dit reeds op ons skouer.  Ons  moet net vir ’n oomblik dwars kyk en stil staan.

So mis ons die lewensvreugde, en ander noodsaaklike gehalte dinge en kosbaarhede wat elke dag tot ons beskikking is.  As ons maar net die gevleuelde woorde van Horatius onthou: “Carpe diem, quam minimum credula postero.”  Dit beteken: “Gryp vandag, en plaas so min as moontlik vertroue in môre.”

Daarom moet ons niks uitstel vir môre as dit nie vandag gedoen kan word nie.  Ons het in dié tyd gesien en beleef hoe maklik dinge van ons weggeneem kan word.  Hoe maklik mense siek word en van ons weggeneem word.

Dit laat my dink aan die woorde wat op ’n ou klok in Chester in Engeland geskryf staan: “When as a child I laughed and wept, time crept.  When as a youth I dreamed and talked, time walked.  When I became a full grown man, time ran.  And later as I older grew, time flew.  Soon I shall find while travelling on, time gone.  Will Christ have saved my soul by then?”

Gebed:

Here die tyd hardloop onder ons uit.  Dankie dat U ons red, nie net om in die hemel te kom nie, maar om te leef, en om ten volle te leef.  Dankie dat vandag al môre is, gee dat ons die dag sal aangryp, die dag wat U vir ons gegee het.  Dankie vir die voorreg om te lewe, vir die voorreg om mens te kan wees.  Vir die voorreg om al is dit net in een mens se lewe,  ’n verskil te kan maak, of om hom/haar net te kan aanraak.   Dankie dat U ons, in Jesus Christus aangeraak het.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 15 Februarie 2021

Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Matteus 19: 14: Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

Ek probeer nogals gereeld by die Kunstefees uitkom, maar dit is nou vir eers iets van die verlede.  Verlede jaar kon ons nie gaan nie, maar ek het gedink aan ons eie sagmoedige Neelsie – CJ Langenhoven, sy teenwoordigheid is mos baie sterk op Oudtshoorn.

Op ’n stadium het hy blykbaar gekla omdat hy nie tyd gekry het om al die briewe wat mense aan hom skryf te beantwoord nie.  Hy was mos ook ’n parlementslid.  In daardie tyd kon ’n mens nie “copy and paste” om vir almal dieselfde gesê te kry nie.  Hy  het oorweeg om net 10 uit elkeen van die 100 briewe wat hy ontvang het, te beantwoord, en dan eerder op sy ander noodsaaklike werk, te fokus.  Hy het sy dilemma met iemand bespreek en die persoon het hom soos volg geantwoord: “Maar elkeen verwag dan ’n antwoord? Wat van die ander 90 uit die 100 mense wat nie geantwoord word nie?” Langenhoven het toe skielik onthou van die mossie.  God het tyd vir elke mossie – beeldspraak in Matteus 10:29.  In werklikheid is dit so.  Ons vergeet so maklik die waarde van een mens, want elke mens wil raakgesien word.  Of jy nou oud of jonk, arm of ryk, belangrik of onbelangrik is.

Dit kom ’n mens ook nogals agter wanneer jy ’n dominee is.  Hoe kosbaar is dit nie wanneer jy mense bedien nie.  Soms doen ’n mens nie veel nie,  soms besoek jy net iemand,  of jy bid vir die persoon en dan sien ’n mens hoe hulle reageer, veral wanneer mense swaarkry, of  eensaam en alleen voel.  Maar ons kan so maklik bo oor mense kyk en net die skare om ons raaksien, en so verdwyn die enkeling.

Elke mens met ’n hart, wat seergemaak of bly gemaak kan word, het behoeftes wat gevul of geïgnoreer kan word. Luister hoe slaan Langenhoven die spyker verder op sy kop: “juis die ywerigstes, diensvaardiges onder ons, wat besig is met die groot werk in die kerk, in die staat of in die maatskappy is geneig om te vergeet dat die klein alledaagse diens oneindig meer werd is as die groot algemene diens.”

Wat beteken dit vir my en jou? Dit beteken dat ons moet belangstel in elke mens wat oor ons pad kom.  Groet gerus maar eerste, glimlag meer en leer om te luister.  Leer om te luister as die Here iemand deur Sy Heilige Gees op jou pad neerlê, of as die gedagte opkom.  Stuur maar ’n boodskap, reik uit, gee die ekstra tree.

Dit is wat Jesus se lewe besonders gemaak het. Jesus het elke mens raakgesien.  Goeie mense, maar ook minder goeie mense.  Die humeurige Petrus,  ’n Samaritaanse vrou, die skelm Saggeus, selfs die moordenaar aan die kruis, en so kan ek aangaan.  Ook ander enkelinge, armes, siekes, eensames, ja selfs die kleinstes onder hulle.  Daarom het hy gesê in Matteus 19: “Laat staan die kindertjies, en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel, is juis vir mense soos hulle.”

Gebed

Here dankie dat U met u lewe vir ons gewys het dat elke mens belangrik is. Ons belei dat ons nalaat om juis goed te doen en uit te reik.  Dankie dat U elke dag mense op ons pad plaas.  Maak ons sensitief vir u stem, wat op verskillende maniere na ons toe kom.   Dankie vir diegene wat aan ons aandag gee,  na ons toe uitreik en ons waardevol en kosbaar laat voel.

Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 14 Februarie 2021

Lydensweek begin eerskomende Woensdag, met Aswoensdag en ek lees uit Romeine 8:28. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Daar word vertel dat tydens die slag van Ardenne in Desember 1944 het die Amerikaanse Generaal Patton een aand soos volg gebid: “Sir, this is Patton speaking, (Ek skakel na Afrikaans oor) die laaste 14 dae was vir ons soos dae wat uit die hel gekom het met reën, sneeu, nog reën en nog sneeu.  En ek begin myself afvra wat in u hoofkwartuur verkeerd geloop het?  Aan wie se kant is U nou eintlik?” het hy vir die Here gevra.  Hy het verder in sy gebed vir die Here vertel hoe hy die gevoel kry dat God aan von Rundstedt en die Duitsers al die kanse gegee het om die Amerikaners te oorwin.

Hy sluit sy gebed af met: “Sonder u hulp is dit vir my onmoontlik om agter te kom watter taktiek die vyand toe pas, maar ek belowe om in ruil vir vier dae se goeie weer, soveel van die vyand by U af te lewer, dat u boekhouding maande agterstallig sal wees.”

Na drie dae het hy weer gebid: “Here, ek kry die indruk dat U tog baie beter op hoogte van die situasie is as ek, want dit was die slegte weer waaroor ek so luidrigtig gekla het, wat tot die vyand se ondergang gelei het.  Dit, o Here, dit was ’n troefkaart van suiwer militêre genialiteit. En ek buig my hoof nederig voor u meerderige kruisvernuf.”

Ons kan miskien nou daaroor glimlag, en dink dit was ’n vreemde versoek,  maar ons weet ook hoe mense om die Here se hulp vra en nie net tydens ’n oorlogsituasie.   Ek wil ook noem dat die tipe versoeke  dikwels ten koste van iemand anders is, of ten koste van ’n politieke of strategiese situasie en soms nie net ten koste van iemand anders nie, maar ook ten koste van ’n mens self.

Een van die aangrypendste beweringe wat Paulus ooit gemaak het, lees ons dan in Romeine.  Dis maklik om dit te lees, maar so moeilik om dit te aanvaar en daarby te berus.  “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir almal wat Hom liefhet.”  “Die wat volgens sy besluit geroep is”, in hoofstuk 8:28.  Dit is moeilik om te aanvaar en maklik om vir ander voor te sê, maar wanneer jy self in die situasie is, is dit bitter moeilik om die groter prentjie te sien.

Ons vergeet so dikwels die X-faktor om die dinge te verklaar wat met ons gebeur.  Volgens ons menslike logika sê ons 2×2= 4, en dan is dit so, sonder enige ander uitkoms.  En ons weet eintlik ten diepste dat God nie so met mense werk , soos wat ’n mens met syfers werk nie.  Daarom kan God se hand in ons lewens soms totaal anders werk.

Hy loop ’n pad saam met ons, en ek kan in my eie lewe daarvan getuig.   Elkeen van ons wat luister, kan miskien hieroor saampraat.  Oor hoe ’n mens se lewe ’n draai geloop het, en hoe dit nie uitwerk soos wat jy beplan het nie.  ’n Mens kan dit nie altyd verstaan nie.  In jou agterkop weet jy dat God alles sal uitwerk, maar eintlik stem jy nie saam met Hom oor hoe jou lewe, of hoe ’n situasie uitspeel nie.

Die Here kan jou en my en Generaal Patton se waarom-gebed in ’n oogwink na ’n dankgebed verander.   Indien daar van julle is wat in ’n situasie is waar die wiel besig is om in die verkeerde rigting te draai, bid ek dat die Here vir jou die genade sal gee om deur te druk te midde van die onverstaanbare.  Die gebeure aan die kruis was onverstaanbaar, maar vandag  kyk ons anders daarna.  Mag ons die voorreg hê om eendag te kan terugkyk na die onverstaanbare en dan te kan dankie sê oor dinge wat ons gedink het nooit sal uitwerk nie.

Gebed

Here, help ons om te berus, al verstaan ons dit nie. Om vas te hou aan die pad wat U saam met ons loop ten spyte van die feit dat ons dit nie altyd sal verstaan nie.  Juis omdat ons somme, en u somme, of ons berekeninge en u berekeninge nie altyd klop nie.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 13 Februarie 2021

Matteus 25: 11-12: “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

Matteus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

Dis die gedeelte van die verstandige en onverstandige meisies.

Herman Charles Bosman skryf  in een van sy lekker stories,  dat toe Andries Wessels op sy sterfbed gelê het, hy aanhou vertel het van die onbesproke en wonderlike lewe wat hy tot aan die einde van sy lewenswandel, gelei het.   Daarom kon hy  in vrede sy laste neerlê en sterwe met hemelwesens en klanke van onsigbare, wonderlike engelkore om hom.  Bosman skryf dat net  voordat Andries gesterf het, het hy gesê dat ook die engele nou vir hom sigbaar geword het.  Hy het hulle as engele van gemiddelte grote beskryf,  so duidelik het hy hulle gesien.  Hy sê verder dat hulle gesplete hoewe gehad het, en vurke gedra het.

Bosman het in die verhaal  die spot gedryf met mense wat so in hulle skik met hulle eie wonderlike lewensvroomheid en goeie lewens geraak het.  Mense wat as’t ware klaar vir hulleself plek in die hemel bespreek het.  Dan die skok, as hulle nie deur die engele nie, maar deur die duiwels tegemoet gekom word.  Lank voor Bosman, het Jesus ook gewaarsku teen dié moontlike “misverstand.”  Dink na oor die gelykenis van die vyf onverstandige meisies wat aan die deur van die bruidegom geklop het en geroep het: “Meneer meneer, maak vir ons oop!” En die bruidegom se antwoord: “Ek ken julle nie, ek weet nie wie julle is nie.”

Dan ook in Matteus 7 waar Jesus sê: “Nie elkeen wat vir my sê Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is.”  Aan die een kant word ons deur die geloof en genade van Jesus Christus gered, maar aan die ander kant is die Bybel ook baie duidelik om te sê dat dit ook gaan oor hoe ons moet lewe.  Dit gaan oor die vorm wat my  dade, elke dag aanneem en of ek so lewe dat hierdie geloof in my lewe gestalte kry.

Ek het die afgelope week weer aan Andries Wessels gedink toe ek hoor en lees hoe sommige mense aanspraak maak op die feit dat God aan hulle kant is, en dan vreemde dinge doen.  Hulle verklaar Jesus as hulle leier, maar hulle dade spreek die teendeel daarvan.  Eintlik dien dit net ’n politieke doel in terme van hul eie kulturele situasie of omstandighede.

Natuurlik kan elkeen van ons na God om hulp roep en vra dat die Here ons in ’n bepaalde situasie moet help.  Maar om God net vir jouself en jou saak op te eis, maak van Hom ’n stamgod.  En wie dit doen, kan homself eendag in Andries Wessels se geselskap bevind.  Kom ons bid eerder vir meer liefde in ons harte, vir meer omgee, meer uitreik, meer oop hande teenoor ander mense en om in liefde te leef, veral as ons in Jesus se voetspore wil volg.

Elkeen van ons se konteks verskil van mekaar.  Dit lyk ook anders waar ons nou met inperkings moet saamleef.  Ons het darem nog altyd selfone om met mekaar te kommunikeer en nuwe maniere  ontwikkel om in Jesus se voetspore te volg.

Wanneer ons stil word, laat ons die Here toe om  dit vir ons duidelik te maak wat ons spesifiek kan doen, om die wil van God ons Vader wat in die hemel is, uit te leef.  Die besef dat alles van God se genade afhang, kan ons juis in die geselskap van engele bring, omdat ons weet hoe sy genade ons lewens verander.

Gebed

Here dankie vir U gestalte van in ons lewens.  Dankie dat  ons bevoorreg is om die Lydingstyd saam met u in te gaan.  Gee dat dit wat U vir ons gedoen het in ons lewens weerspieël sal word.  Maak ons bewus van ons eie selfgerigtheid, ons eie gemak en ons eie ek.  Help ons om met toewyding, in U voetspore te volg.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Februarie 2021

Filippense 3:14.  “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

In my jonger dae en toe ek nog so ’n paar kilogram ligter was, was ek ’n ywerige hardloper en het  ’n hele paar wedlope afgelê.  Ek het op Wellington gebly, en ek onthou die eerste wedloop waaraan ek deelgeneem het was in Durbanville.  ’n Mens het ingehardloop en uitgehardloop, en dan weer terug gehardloop.  Die manne saam met wie ek gehardloop het, het gesê jy moet altyd jou pas reg kry, jy kan nie te vinnig begin nie anders kan jy nie tot aan die einde volhou nie.  Maar ek het by myself gedink dit kan nie so moeilik wees nie  en ek gaan die pas sommer vinnig insit!  So ’n kilometer van die wegspring lyn af het ek hulle agter gelaat  en sommer lekker sterk spoed aangesit. Toe hulle my by die draaiplek kry, toe stap ek al, en ek het driekwart van die laaste gedeelte van die wedloop ook gestap omdat ek te vinnig begin het en die wedloop te oorywerig aangepak het.

Om ’n Christen te wees, beteken nie om net te begin hardloop nie, maar ’n mens moet uiteindelik by die wenpaal uitkom.  Dit beteken dat soos in enige ander wedloop moet ’n mens jou pas vind, en jou pas hou.  ’n Mens moet verantwoordelik en met goeie oordeel lewe.

Daarom verwys Paulus ook na die Christelike lewe as ’n wedloop.  In 1 Timotius 4 en in vers 15 praat hy  van waar almal jou vordering kan sien.  Lewe jy onoordeelkundig, kortsugtig of, soos ek wat met ’n gebrek aan oordeel nie na ander geluister het nie.  God is spreekwoordelik die afsitter wat ons die eerste tree in hierdie wedloop gee.  Hoe sit God ons in beweging?  Hy verduidelik dit so mooi  in Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”.  Hy roep ons nie net sommer in die bondel nie, maar let wel vir elkeen op ons naam.

“Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne,  Ek ken jou.  Jy is nie maar net ’n nommer nie.  Nee!  Ek ken jou doopname, nie net jou doopname nie, Ek ken ook jou noemnaam.  Ek ken ook jou troetelnaam.  Ek ken jou geskiedenis, jou adres, jou lewe, jou pyn, hartseer en jou frustasie.   Dit wat jou bly maak, dit wat jou laat wakker lê in die nag.  Ek ken jou geskiedenis, ek ken jou deur en deur.  Ek weet van jou suksesse en jou mislukkings.  Maar ook jou sondes, elkeen van hulle.  Vir jou sê ek: Ek roep jou op jou naam, jy is Myne. Jy behoort aan My, al die dae van jou lewe.  Ook as jy ver van my af voel, ook as jy voel Ek is nie daar nie.  Daar wil ek vandag en ook in die toekoms na jou omsien, en vir jou sorg.  Al lyk dit of ek nie altyd daar is nie, by jou werk, of by jou huis, of waar jy ookal beweeg.  Maar dit beteken ook dat jy jou moet gedra soos iemand wat aan My behoort.  Ook die tye wanneer dit vir jou voel asof ek vêr weg is en nie teenwoordig is nie.”

So roep God elkeen van ons, en as jy antwoord: “Ja Here, ek hoor U” moet jy hierdie groot tree in die regte rigting en met groot versigtigheid en verantwoordelikheid gee. So word ek en jy ’n Christen in beweging oppad met God.  Gee hierdie gewillige tree vandag weer, dis die enigste manier waarop jy die wenpaal kan bereik.  As jy doelgerig, voluit en met oorgawe hierdie wedloop hardloop. Soos Paulus dan sê: “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het.”

Gebed

Here dankie dat U in elke tree, van ons lewenswedloop daar is.  Ons besef Here, dat ons so maklik oordeelsfoute maak en dat ons dikwels nie goed voorbereid is nie.  Dat ons nie die regte skoene aan het nie en nie na ander se raad luister nie.  Dat ons wegdraai van die wenpaal, of die einddoel mis.  Dankie dat U ons elke keer weer kan terugbring, en gee vir ons die genade om tot die einde van die wedloop te hardloop.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 11 Februarie 2021

Psalm 22:4. “U is tog die Heilige God. Israel se lofsange is vol van U koningskap.”

Psalm 150.  “Laat alles wat asemhaal, die Here prys. Prys die Here!”

Daar is ’n Joodse legende wat oor die oorsprong van lof, handel.  Die verhaal word vertel dat na God die mens geskape het, het Hy die engele gevra wat hulle van die wêreld wat Hy gemaak het, dink. “Daar is iets wat skort,” het die engele volgens die legende verklaar. “Klanke wat die Skepper sou kon loof, ontbreek.” het hulle gesê.  En die legende lui dat God daarna, musiek gemaak het en Hy het musiek in die stemme van die voëls, in die fluistering van die wind en die dreuning van die see geplaas.

Hy het toe melodie in die oor van die mens geplaas, sodat hy lofliedere tot die eer van die Skepper kan sing en ook net musiek kon maak.  Musiek wat die Here se eer betoon, maar wat ook ons gemoedere streel, ons gemoedstemmings kan verander, ons voete kan laat klop en  ons laat dans en sing.

Gelowiges mag nooit so hardhorend word dat hulle doof word vir die wonderdade van God nie.  Nie net deur die musiek wat mense maak nie, maar dat God se musiek in die stemme van dit is, wat rondom ons gebeur.  Daar is soveel dinge, veral in hierdie tyd, wat ’n demper plaas op alles wat in die Skepping God se lof besing en vir die gawes wat ons elke dag uit sy hand ontvang.  Sy liefde, sorg en lyding en die musiek wat vanuit mense se vaardighede geskep word.  Ook die vaardighede van wetenskaplikes, wat hard werk, regoor die wêreld om ’n entstof te vervaardig.  Die vaardighede van mense wat veral in die gesondheidsorgsisteem hulle werk met groot toewyding doen.  Die musiek is ook daarin.

Dit moet alles soos musiek van God in ons ore wees, ondanks die klinkende klank van geld en die harde woorde wat mense soms vir mekaar sê .  Ook die harde skote en houe van misdaad en korrupsie waarvan ons so gereeld in ons koerante lees en waarvan ons in die media, TV en radio hoor.

Dit is nie net toevallig dat ’n hele boek uit lofliedere bestaan nie, dis die diepste betekenis van ware godsdiens. Om te loof!  Dis waaroor die Psalms gaan, met musiek kan soms meer gesê word as met woorde.  “Musiek van Mozart kan ’n ongelowige half laat glo,” het Jesse O’Neill by geleentheid gesê.

Die bekende Oscar Wilde het verklaar, “nadat ek Chopin gespeel het, voel ek of ek wil huil oor sondes wat ek nooit gepleeg het nie. En om te treur oor tragedies waarby ek nooit betrokke was nie”. Nooit, mag teleurstelling en beproewinge, siekte en dood, droogte en mislukkings, haat en geweld, of wat ookal, ons verhinder om God se lof te besing nie, of raak te sien waarmee Hy op ander plekke besig is nie.  Geen wonder dat die lofpsalms in die Bybel eindig met die oproep: “laat alles wat asemhaal, die Here prys.  Prys die Here,” sê  Psalm 150.

John Wolfgang van Gutte het blykbaar gesê: “Ons moet minstens elke dag een lied hoor, gedigte te lees en na mooi skilderye kyk en indien moontlik, het hy gesê ’n paar verstandige woorde praat – dit, is musiek”.

Gebed

Here, laat ons u musiek en u stem hoor en raaksien in die wêreld rondom ons.

Amen.

Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Februarie 2021

1 Petrus 4:10. God het vir elkeen van julle besondere bekwaamhede gegee. Julle moet dit gebruik om mekaar te help, want dan werk julle reg met die verskeie soorte vermoëns wat God julle gegee het.

1 Korintiërs 1:1-2.  Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die naam van ons Here Jesus Christus om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?

Wanneer ek in dié tyd met mense gesels besef ek dat baie mense afgesonder is tot kontak met  ’n klein familiekring, dikwels beweeg hulle ook net binne hulle  eie gesinskringe.   Bloot oor die vlak van die pandemie waarbinne ons nou moet leef. Mense wil nie te veel blootgestel word aan verskillende mense nie.

’n Tyd gelede het ek die verhaal van ’n koning wat op sy sterfbed gelê het, gelees. Hy was die pa van die eerste koning van die latere Hongarye. Rondom sy bed het sy vyf seuns gestaan.  Hulle was van plan om na hul pa se afsterwe te vertrek en dan elkeen sy eie “koninkryk” te begin.  Die ou koning het gesê: “Ek weet nie wie my moet opvolg as koning nie, daarom het ek besluit om te kyk wie van julle die sterkste is.  Hy het ’n bondel stokke aan sy oudste seun gegee en gevra dat hy dit in die middel moet deurbreek. Hy kon dit egter nie regkry nie en daarna kon nie een van die ander vier ook daarin slaag nie.

Hierna het die koning weer die bondel stokke by hulle geneem, dit van mekaar losgemaak en daarna die dun stokkies een vir een middeldeur gebreek. Toe het hy gesê: “Onthou altyd my seuns, saam kan niemand julle breek nie, maar as julle verdeeld is, beteken dit julle almal se einde.”

Miskien is dit ’n legende, maar die boodskap is duidelik vir alle mense van alle tye. Die koshuis waarin ek op Stellenbosch was, se naam was Eendrag, en die leuse: Eendrag maak mag.

Eensgesindheid is deurslagewend vir die toekoms van elke huisgesin/familie, of selfs werkomgewing, maar ook dan spesifiek ook in ’n land, waar daar verdeeldheid is. Waar onmin gesaai word in ’n nasie of volk, gesin of werksomgewing word ’n vinnige einde verseker. Soms kry ek die indruk dat mense baie  negatief oor ons land en kerkomgewing praat. Paulus moes reeds in die vroeë kerk die Korinitiërs aanspreek, “ek doen ’n beroep op julle almal broers, namens ons Here Jesus Christus om eengesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?”

Ons as gelowiges in hierdie land, ook in die besonder in ons kerkomgewing, het mekaar bitter nodig.  Veral wanneer ons kyk na hoe mense in die openbaar van mekaar verskil en teenoor mekaar optree.

Iemand het op ’n keer aan pastoor Wurmbrand gevra hoe hy die Protestante en Katolieke in die konsentrasiekampe van Duitsland met mekaar laat saamwerk het.  Wurmbrand se antwoord was kort en op die man af: “In so ’n krisistyd, vra jy nie vir iemand oor hul kerkverband uit nie, maar dank jy die Here vir elkeen wat sê dat hy wel ’n gelowige is en dat hy ’n Christen is.”

Kom ons kyk eerder waaroor ons met mekaar kan saamstem, as om mekaar die hare in te vlieg, of mekaar sleg te sê wanneer ons diep van mekaar verskil. Dit wat ons met mekaar in gemeen het, is baie meer as dit waaroor ons van mekaar verskil.

Mag eengesindheid ’n karaktertrek, van elkeen wees. Want 1 Petrus 4 sê: “God het ons verskeie soorte vermoëns gegee.”

Gebed

Here gee ons die genade om eerder ooreenkomste te soek in plaas van om verskille op die spits te dryf.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 9 Februarie 2021

KOLOSSENSE 3:9-10.  Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.

Ons trek elke dag skoon klere aan. Die vuil klere word in die aand uitgetrek en in die soggens met skoon klere vervang. Dit is ’n ritueel wat ons amper outomaties uitvoer en dink nie ernstig daaroor na nie. Dié eenvoudige alledaagse beginsel gebruik Paulus in die gedeelte wat ons gelees het en pas dit toe op ons geestelike lewe. Paulus meen soos ons die ou vuil klere in die aand uittrek, so moet ons ook die ou sondige gewoontes aflê en net soos ons weer skoon klere aantrek moet ons die nuwe Christelike leefwyse aanleer.

Iemand wat sy lewe aan die Here toevertrou het se lewe het verander en hy/sy ontvang ’n nuwe identiteit.  ’n Nuwe identiteit moet met ’n sigbare verandering in sy/haar lewe gepaardgaan. Die ou sondige mens moet uitgetrek word soos ou vuil klere uitgetrek word. Wanneer ons die vuil klere uittrek moet ons ook die nuwe klere van Christenwees aantrek.

En so moet Jesus ons ou identiteit en menswees afstroop en dan vir ons ’n nuwe identiteit gee. En onthou hierdie is nie ’n eenmalige ding nie. Elke dag moet ek weer myself aan die Here se mag en krag oorgee.

GEBED

O Here kom maak my nuut kom gee asseblief vir my ‘n nuwe identiteit. In Jesus Naam.

Amen

1 2 3 17