GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 30 Oktober 2020

Klaagliedere 3:21-24: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom”.

Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of het my persoonlike slegte ervarings gedurende 2020 asook dié oor die res van die land en wêreld heen, ons so diep getref, dat ons voel soos die negatiewe spreekwoord lui: “Die enigste lig aan die einde van die tonnel, is die lig van ’n aankomende trein!”

Ons het gister stilgestaan by die hartverskeurende Klaagliedere van Jeremia en sy desperate uiting in hoofstuk 3:18 : “Ek het gedink dit is klaar met my, en met my hoop op die Here.”

Ons het toe nagedink oor hoe dit tot ons spreek en veral tot ons eie vlakke van hoop.  Is ‘n mens se persoonlike uitdagings en krisisse nie dalk stelselmatig besig om my hoop in God te elimineer nie!

Jeremia moes ook introspeksie toepas om tot by die antwoord te kom. Hy moes weer die wonderlike waarhede van sy geloof en sy verhouding met God af stof en daarin weer die oplossing vir sy hopeloosheid herontdek! Luister hoe mooi dit in ons teks gedeelte omskryf word. Hy sê: “Hy het alles, m.a.w. dit wat hy glo, weer ter harte geneem en daarom bly hy hoop!“ Die inhoud van sy kennis van God asook sy ervaring van God en hoe God hom bygestaan het, het hom laat bly hoop.

Vriende, verder kon hy dit met groot oortuiging uitroep: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut, U trou is groot. Ek het gesê die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

Ons moet weereens baie eerlik met onsself wees deur te vra: “Is hierdie ook die geloofs-vashouplekke waar ek myself nou bevind? Kan ek ook sê dat ek bly hoop in die Here en dat ek weet dat ek nie sal vergaan nie omdat hy my liefhet. Omdat ek ervaar dat daar geen einde aan sy omgee vir my is nie, dat dit elke oggend nuut is. Ek weet en ek glo, God se trou ook in my eie lewe, is groot. Daarom kan ek vir myself sê: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

Gebed

Here, ek sal alles wat ek glo oor U weer ter harte neem, en daarom sal ek bly hoop. Ek sal bly hoop, omdat U my lewe is. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Oktober 2020

Klaagliedere 3:18: “Ek het gedink dis klaar met my en my hoop op die Here”.

Die woord, klaagliedere, is lank reeds in die volksmond opgeneem as ’n uitdrukking, of verwysing na iemand wat baie kla. As daar iemand is wat baie kla, dan word daar dikwels na hom/haar as ’n regte Klaagliedere van Jeremia, verwys.

Ek het as kind hierdie boek in die Bybel vermy. Dit was vir my altyd so ’n neerdrukkende boek wat te negatief en pessimisties na my smaak was. Tot op ’n dag wat my oorlede pa gesê het dat dit een van sy gunsteling Bybelboeke is omdat dit so baie troosvolle waarhede bevat wat selfs midde in krisisse en neerdrukkende situasies toepaslik is.

Ons ken die agtergrond van Jeremia se klaagliedere, sy hartverskeurende “lament” of weeklaag oor sy volk se situasie. Hy is in diep rou, en berou oor sy volk! Hy ervaar dat God hulle verwerp het, van hulle weg gekeer het en hulle in ballingskap in ’n vreemde land vas gegrendel het.

Dan hoor ons sy desperate uitroep in Hoofstuk 3:18: “Ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”. Sjoe, dis ernstige, seer woorde! Sy krisis en die krisis van sy volk het groter geword as sy hoop op die Here! Moeilikheid en gebrokenheid wat sy hoop op God wou kanselleer.

Vriende, is ons nie soms ook geneig om nou te wees daar waar Jeremia was nie? Miskien veral gedurende dié jaar met sy uitmergelende uitdagings. Met alles wat bloei, en laat bloei  – die ekonomie, Covid-19, rasseverhoudings, fisiese en-geestelike gesondheidskrisisse, familieverhoudings, misdaad en geweld . . . ? Dit alles het ons vanjaar baie persoonlik, diep en seer kom aanraak, meer as ooit tevore.  Roep, of  huil jy dalk ook uit in ’n klaaglied, ’n weeklaag, ’n desperate versugting soos Jeremia wat gedink het hy het aan die einde van sy hoop met die Here gekom.

Word stil met hierdie vraag, oordink dit baie eerlik en deurbid dit vandag na aanleiding van jou eie ervarings. Ervaar jy dalk ook dat jy by die einde van jou hoop in God gekom het? Dat jy nie meer ’n lig in die tonnel sien nie? Praat vandag met God daaroor. Ons kyk môre na die ontknoping van Jeremia se krisis en hoe sy hoopkanaal weer oopgegaan het.

Gebed

Here, U ken my hart, U ken my onsekerheid. U weet ook hoe my omstandighede my soms daartoe bring om te sê: “ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”

Dankie dat U dit, en my, verstaan. Amen.

 

 

 

 

 

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 28 Oktober 2020

Johannes 8:12.  Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Matteus 5:16. “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Ons het die afgelope maand gevra dat mense kerse by die kerk, of die kerkkantoor kom afhaal, as jy nog nie een het nie kom kry gerus een. Ons het ook enkele lidmate gebel en gevra of hulle nie die kerse in hulle onmiddellike woonarea aan ander lidmate sal uitdeel nie.  Ons vertrou dat hierdie kerse sal brand moontlik by ’n spesiale ete, of tydens iemand se stiltetyd en ook as herinnering van die lig van die Here wat in elkeen van ons se lewe skyn en dat hy ook lig in die donker bring.

Dit het my laat dink aan Thomas, wat reeds 8 jaar oud was voor sy ouers hom skool toe gestuur het, hy het maar stadig begin en hulle blykbnaar eers kans  gesien om hom op 8-jarige ouderdom skool toe te stuur. En toe daag hy skaars drie maande later in trane by die huis op. Die onderwyser het die ouers laat weet dat die knapie verward en deurmekaar is, en hy stel toe voor dat hy nog eers ’n bietjie by die huis moet bly.

Dit het afgespeel in die tyd voordat skool verpligtend was vanaf ses-jarige ouderdom en Thomas het gesê: Gelukkig het ek toe uitgevind watter goeie ding ’n ma  is, want sy het my teruggeneem en vir die onderwyser gesê: Die onderwyser weet nie waarvan sy praat nie. Sy was die mees entoesiastiese kampvegter wat ’n seun of ’n kind nog ooit kon gehad het en hy het net daar en dan besluit dat hy waardig sal wees en sal bewys dat sy ma se vertroue in  hom nie ongegrond  was nie.

Omtrent 40 jaar later, het hierdie sogenaamde verwarde Thomas die elektriese gloeilamp ontdek. Thomas Alfa Edison aan wie jy gerus vanaand kan dink wanneer jy jou huis se ligte aanskakel.

Van Leonardo da Vinci en Hans Christian Andersen is in hul jeug gesê dat hulle aan vertraagde ontwikkeling lei. Isaac Newton is uitgekruid as ’n stommerik en Albert Einstein se skoolhoof het blykbaar gewaarsku en gesê dat die seun nooit ’n sukses van enige iets sal maak nie.

God skryf grootmense en kinders nie so maklik af, as wat ons dit dikwels doen nie. Dink maar aan Moses, toe die Here hom geroep het en hy gekla het in Eksodus 4:11: “Ag Here ek praat swaar en my tong sukkel”. Asook Jeremia in Jeremia 1:6  wie se verweer was: “Ag Here ek kan nie goed praat nie, ek is te jonk”. En wat van die voortvarende Petrus wat die Here so skadelik verloon het, of selfs Paulus wat voor sy bekering soos ’n besetene die Christene vervolg het. Tog kon God hul almal gebruik om die boodskap van lig in die donker wêreld te versprei. So kan die Here ook vir ons gebruik om ondanks al ons tekortkominge diensbaar te wees, ‘n woord van bemoediging te spreek, of ’n hand op iemand se skouer te plaas.

In sy sterwens-oomblik het Guten uitgeroep: “meer liegt” dit is wat die mensdom vandag nodig het. Nie net Edison se lig nie, maar Christus se lig. Die lig waarna in Johannes 8 verwys word: “Ek is die lig van die wêreld. Laat julle lig so voor die mense skyn, sodat hulle jul goeie werke kan sien, en die Vader wat in die hemel is verheerlik.”

Kom ons steek die kerse in ons huise aan, om ons te herinner dat God lewe in die wêreld bring. En dat die gestalte van sy lig in elkeen van ons se lewens sigbaar moet wees, sodat ons in die klein kring waarin ons leef ook sy Lig kan wees.

Gebed

Here, dankie dat U die lig vir die wêreld is en dankie dat ons ligte kan wees wat soos ’n stad op die berg laat skyn en nie onder ’n maatbeker weggesteek word nie. Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Oktober 2020

Rigters 16:20.  Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.”

Sy was ’n uitgeslape vrou, dié meisie uit die vreemde volk op wie die kragman, die sterke, halsoorkop verlief geraak het. Sê my tog, waarin lê jou krag het sy geneul.  Gretig om die omkoopgeld van sy vyande te bekom, totdat hy so ongeduldig geraak het dat hy kon sterf. Sy was aantreklik, mooi en verleidelik. En toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Sy hare is nog nooit geskeer nie, omdat hy sedert sy geboorte aan Christus gewy is (Rigters 16) maar as sy hare afgeskeer word, sal sy krag verdwyn en sal hy magteloos soos ’n gewone mens wees.

Kort daarna waai sy sewe lokke ook toe, en dan volg die woorde waarmee ons begin het. “Hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.” (Vers 20)

Totius het jare gelede gewaarsku, en hy het dit in ’n ander konteks geskryf, maar die beginsel bly nog waar. Sy waarskuwing was dat soos Simson sy krag verloor het, met die afsny van sy haarlokke, sal die Christelike Afrikaner se lokke ook afgesny word, en op daardie dag wanneer die vyand sê die Fillistyne is hier, sal die volk met ontnugtering uitvind dat hulle kragteloos is.

In ons konteks praat ons nie meer van die Christelike Afrikaners nie.  Die konteks is anders, maar die beginsel bly vir die hele mensdom dieselfde. Is hierdie  profetiese woorde nie so gevaarlik dat dit in ons lewens ook waar kan word nie.

Die lewensgeheim van Simson se krag, het in nie in sy sewe haarlokke gelê nie, maar in sy gehoorsaamheid rakende wat die Here van hom verwag en gevra het. Sy hare was maar net die simbool daarvan.  Is ons as gelowiges paraat, dinamies, aktueel, prakties en kreatief, of bestaan ons geloofslewe net uit gewoonte godsdiens? Soos die gemeente in Sardis vir wie die Here in Openbaring 3:2 gesê het: “Ek weet dat julle die naam het, en tog is julle dood”.

Of aan die anderkant, het ons ’n oppervlakkige beoefening van ons Godsdiens wat op emosies berus. In die verband skryf iemand: “Rome brand en die Christene is in skuilings vol emosionele bedwelling, so word hul godsdiens ’n verlamende opium”. Wêreldontvlugting, terwyl die land en die dorp en ons samelewing brand. Is ons gesinslewe, die opvoeding van ons kinders en om reg te leef vir ons ’n prioriteit? Ken ons nog ware vreugde in dit wat ons doen, of het ons lui en gemaksigtig geword?

Kan ons nog werklik opoffer vir die Here, ons kruis dra? En wat het van samehorigheid geword, of het eie belange vir ons belangriker as naastediens geword? Om ander se hand te vat. Om uit te reik na hulle wat in die samelewing uitgereik word.

Weet ons nog wat lojaliteit of getrouheid beteken? Of is ons baie beter bekend met opportunisme? Ons moet nooit soos Simson ons vyand onderskat nie. Dit kom in ’n gedaante wat ons nie verwag nie, en nie herken nie. Kom ons bewaar die lewensgeheime van ’n lewende Christendom voor ons soos Simpson swak word, en ons krag verdwyn en ons agterkom dat die Here ons verlaat het soos vers 20 sê.

Gebed

Here ons loof U vir die krag van U Heilige Gees in ons lewe. Gee dat ons elkeen sal uitmaak op watter manier ons in gehoorsaamheid in U moet lewe.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Maandag 26 Oktober 2020

Hebreërs 11:4.  “Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.”

Iemand het onlangs vir my gesê: “As die Vader my vanaand kom haal, sal my eerste woorde aan Hom wees.  Dankie Here vir 53 wonderlike jare wat U aan my gegee het.” Ons kan waarskynlik almal ’n vriend, familielid of ’n onderwyser aanhaal wat dinge gesê het wat ’n mens vir altyd sal by bly.

Ek gaan die ding doen het Ester altyd gesê.   As ek omkom, moet ek maar omkom het ’n kennis van my gereeld kwyt geraak en ’n ander een het weer dikwels gesê dat ’n mens  met net een mes en een vurk op een ’n slag ka eet, op een bed kan slaap en met een motor kan ry – waarom sal ek dan jaag na ’n oorvloed van dinge wat ek tog eendag gaan verloor. Dit gee perspektief.  Iemand in ons gemeente het teenoor my gesê dat omdat hy swaar groot geword het, en ten spyte van die feit dat hy nou geld het, hy weet dat indien die Here alles nou van hom weg neem hy en sy vrou weer met min sal kan klaar kom en ook daardie pad sal kan loop.

‘n Skrywer waarvoor ek baie lief is, Paulo Coelho, het toe hulle vir hom vra wat moet hulle eendag op sy grafsteen moet skryf, gesê: “He died while he was still alive”. Hy het gesterf terwyl hy nog gelewe het.

En so kan mens aangaan met baie “post-mortens”. ’n Groot onderwysman het gesê: “Grootheid  lê in nederigheid”. Mens kan gerus onthou om God te dank vir elke dag. Om onbevrees te staan by jou oortuigings. Om daagliks voluit te lewe, om jou aardse besittings nie te oorskat nie, om nederig te bly en so kan ek aangaan. In Hebreërs 11:4 lees ons dat vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is. Deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

Dit laat mens dink aan Henry Wadsworth Longfellow se woorde: “Lives of great men, all remind us that we cannot make our lives sublime, and departing, leave behind us, footprints on the sands of time”. Ons los spore in die sand van die tyd.

Nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het lees ons in Lukas 23:7: “Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: Hierdie man, was werklik onskuldig”. En Markus het gehoor dat die offisier ook gesê het: “Hierdie man was werklik die Seun van God”, Markus 15:39. As dit maar net een dag van my en jou gesê kan word, dan dink ek was dit genoeg.

Gebed

Here elkeen van ons trap spore in die sand. Gee vir ons die genade om in die regte koers, en in die regte rigting met waardigheid te loop, sodat hierdie spore nageloop kan word. Dankie vir hulle wat voor ons uitgeloop het, in wie se spore ons kan naloop. Amen.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 25 Oktober 2020

2 Korinthiërs 4:16: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”

Alhoewel die Amerikaaanse skrywer Damon Runyon se boeke meestal oor skurke en kriminele in New York gaan, was die gewilde skrywer self ook ’n diep gelowige man. Maar dit het hom nie verhinder om oor die dood met ’n skalkse humor te skryf nie. Soos toe hy geskryf het oor die dood wat hom in 1944 besoek het, maar toe ontdek hy dat dit te gou gekom het en weer moes vertrek.

Ek onthou ook ’n oom, Hannes van Wyk,  wat in die Paarl gewoon het, en kanker gekry het.  Hy besef toe op ’n stadium dat hy op die einde van sy lewe is, en het al sy kinders bymekaar gemaak en al sy besittings aan hulle uitgedeel.  Hy was boonop ’n redelik grapjas . . . en toe sy beplanning nie uitwerk soos wat hy gedink het nie, het hy die kinders weer bymekaar geroep en gevra dat hulle eers weer van die goed moet terug gee, want hy leef nou baie langer as wat hy gedink het!

Runyon skryf onder andere dat hy onwillekeurig aan Koning Agag, die verslaande koning van die Amalakiete gedink het. Volgens die Bybelse verhaal het Samuel, nadat hy die goddelose koning se volgelinge om die lewe gebring het, ook vir Agag laat kom. En dan lees ons daar in 1 Samuel 15:32: “Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”  Die volgende oomblik het Samuel egter ook oor hom die doodsvonnis uitgespreek. Dit het in daardie dae maar dikwels rof gegaan.

So kan die einde vir ons elkeen onverwags kom. En dan word ons tot verantwoording geroep en is dit te laat om soos Agag met ’n opgeruimde gesig ons verlede te probeer weglag. Dit laat my dink aan die storie van oom Swart Adriaan, soos hy bekend gestaan het,  vir wie die predikant in die Suid-Kaap, nooit vir huisbesoek by die huis kon kry nie. Daardie tyd het die dominee mos die mense op die plaas besoek. En toe betrap die predikant hom toe eendag net voor hy by die plaashek wil uit. Die dominees sê toe spottenderwys: “So loop ons mekaar toe uiteindelik raak”.  Maar oom Adriaan het baie bedees geantwoord: “Ja dominee, selfs berge ontmoet mekaar, waarom dan nie ook mense nie?”

Daar sal vir ons almal een of ander tyd ’n oomblik van waarheid aanbreek. Ons dink die berge wat mekaar spreekwoordelik ontmoet, lê nog ver vir ons. Daarom het die profeet Amos ook sy volk gewaarsku in Amos 4:12: “Maak jou klaar om voor God te verskyn.

Maar is ons regtig gereed om die Here te ontmoet? Gelukkig kan daardie ontmoeting vir elkeen wat gereed is ’n vreugdevolle oomblik wees. Nie een van ons wil sommer net nou al doodgaan nie, maar ons hoef nie bang te wees daarvoor nie. ’n Ou vriend herinner my onlangs daaraan dat God anders somme maak as ons, want hy tel nie op nie, hy trek al ons sondes af waarvoor Jesus aan die kruis betaal het.

Gebed

Here, dankie dat ons elke dag uit u genade kan leef. Help ons om so te leef dat ons U enige tyd kan ontmoet. Gee vir ons die vermoë om elke dag aan te gryp en voluit as u kinders te leef en ’n gestalte te wees van liefde en diensbaarheid tot seën vir ander.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Oktober 2020

Spreuke 5:21. “Onthou die Here sien alles wat ’n mens doen en Hy beoordeel elke daad.”

Ek het jare gelede gehoor dat tydens ’n konferensie van Presbiteriaanse predikante (dis die Engelse kerk wat die meeste met ons ooreenstem) in Skotland,  ’n paar van die dominees, ek dink daai tyd was dit meestal mans, besluit het om een middag na hul werksessie ’n ent te gaan stap. Ongelukkig het ’n stortbui reën hulle oorval en hulle moes inderhaas weer na die plaashuis koers kry.  Op die plaaspaadjie was ’n ou voetbrug oor ’n sterk bergstroom en terwyl hule nog wik en weeg of hulle die tog oor die rivier sal aanpak, het ’n ou Skot wat op die plaas gewoon het, na hulle aan gehardloop gekom en sy arms wild rondgeswaai om vir hulle iets te beduie.

Die een predikant het hom probeer gerus stel met die woorde: “Alles is reg, ons is Presbiteriaanse predikante wat die konferensie bywoon. Die ou Skot het hom blykbaar net een kyk gegee en gesê: “Ek gee nie om of julle Presbiteriane, of wat ookal is nie, maar julle as julle oor daai mankoliekige bruggie loop, gaan julle almal vandag Batiste word.

Is dit nie tyd dat gelowiges oor kerkgrense heen in ons land moet begin saamstaan nie?  Nie net noodwendig saam begin bid nie, maar ook mekaar se hande  vat.  Veral wanneer dit oor ons Christelike beginsels en waardes in ’n  land wat letterlik en figuurlik “brand”, gaan.  En dikwels vind ons gelowiges aan die teenoorgestelde kante van die spektrums rakende rassisme en baie ander kwessies.  Ek hoef nie uit te brei oor die sake wat tussen mense staan nie.

Dawid vra tereg in Psalm 11:3 “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” Behalwe om bloot net op God te vertou soos Dawid ons raad gee, is dit nodig dat ons soos Nehemia en sy medewerkers by die stukkende mure van Jerusalem demonstreer hoe ons kan saamwerk/hande kan vat en die verskille wat ons het kan begrawe.

Dat ons soos Nehemia samewerking in die praktyk beoefen. Dit begin by ’n gesindheid. Ek onthou die bekende Duiste predikant Richard Wurmbrand se antwoord aan iemand wat by ’n byeenkoms gevra het of die Rooms Katolieke en die Lutheriane tydens die Tweede Wêreldoorlog darem in die konsentrasiekampe met mekaar oor die weg gekom het?

Wurmbrand was verbaas oor die vraag, en het gesê: “In so ’n krisistyd dink jy nie eers aan iemand se kerkverband nie. Indien die een langs jou ’n gelowige is, beteken dit dat julle dan dieselfde dink en dieselfde taal praat.”  Veral in ons hedendaagse tyd het ons nie baie mense wat die kerk se drumpel noodwendig deurtrap nie.  Ons sukkel om mense in die kerk te kry,  maar ons het mense nodig wat hulself as navolgers van Christus identifiseer in dit in die praktyk leef. Al behoort hulle aan watter kerk ook al.

Gebed

Here, dankie dat die gestalte van U kerk nie is in watter denominasie ons behoort nie maar of ons saam veg in die gestalte, in die werklikheid van U koninkryk wat hier in die land waar ons woon gestalte kry. Help vir ons almal om daaraan te werk en om dit in die praktyk te praat en te leef. Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Oktober 2020

 

Fillippense 1:21. “Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Ek het die afgelope tyd gesien wat Luitenant Kolonel Charl Kinnear,van Bishop Lavis, die polisieman wat onlangs doodgeskiet is, se familie van hom gesê het. Ek onthou lank gelede ook ’n brief wat ’n jong polisieman kort voor sy dood aan sy ouers en sy vrou wat ’n baba verwag het, sy broer en suster en ander familielede geskryf het. Hy is ook dood tydens sy stryd om misdaad te bekamp.

Hy het geskryf: “Aan my ouers, dankie vir die 25 jaar wat pa en ma lief was vir my en dat julle altyd omgegee het en my soveel keer gehelp het. Veral pa vir dit wat pa beteken het, en ma se geloof in God het ma aan ons almal oorgedra.”

Daarna bedank hy sy vriende en familie, en ook die Superintendent van die Polisie, sy kollegas, en ook uiteindelik sy vrou met wie hy getroud was. “Aan my meisiekind”, sê hy, “vir die jare wat jy myne was. Dankie dat jy my so lief gehad het, en my altyd bygestaan het in my werk en in my besluite. Dankie dat jy my vrou geword het – my gelukkigste dag. Ek weet ek was nie altyd die maklikste mens nie, maar ons liefde het altyd geseëvier. Ek moet dankie sê vir my kind, ek weet jy sal mooi na hom kyk. Net altyd die beste vir hom gee. Wanneer jy hom in jou arms vashou die eerste keer, gee vir hom ’n soen van my af, ek sal nie ver wees nie, ek sal heeltyd daar wees.”  En hy sluit af deur te sê: “Ek wil vir God dankie sê vir die tyd op aarde. Dankie vir ouers en familie wat lief is vir my. Dankie vir ’n dierbare vrou en kind. Seën U hulle en bewaar U hulle tot ons eendag weer ontmoet.”

Dit is ’n roerende brief. Gelukkig het baie mense nog tyd voor hulle weg geneem word om die dinge wat op hulle hart is, te sê. Maar wat van ons? Maak tog tyd om dit betyds te sê vir die mense vir wie jy dit wil sê. Ek dank die Here vir gesinne wat ek ken in ons gemeente, en ook elders wat vir mekaar omgee en wat lief is vir mekaar. Dit gee vir ons hoop vir die toekoms.

Ek het op die volgende gebed afgekom van ’n ouer aan sy kinders: “God van wysheid, God van lig, leer ons om ons kinders te verstaan en mag hulle ons verstaan, sodat ons mekaar mag leer. Maak ons sensitief en bedagsaam wees, en terwyl ons saam in liefde groei, laat ons groei in bewustheid van U dat ons saam met U seën oor ons kinders mag ondervind.”

Ek het gedink aan wat Ebba Bowley gesê het: Die mens sterf nie, ‘n mens dink so maar dit is nie so nie. Wat ons “lewe” noem, is soms soos ’n wandeling, ons loop en loop. Somtyds het ons iemand hier langs ons, maar baie kere loop ons alleen. Somtyds loop ons gemaklik, en ander kere moeilik. Dan kom daar ’n dag wanneer alles verander en iets heeltemal nuuts begin en dan het ’n mens nie meer dieselfde behoeftes as voorheen nie. ’n Mens leef dit af en laat dit agter bly  en ons gaan verder.  Dit noem ’n mens “sterf”. Mag elkeen van ons terwyl ons die lewe het, voluit en met dankbaarheid leef en met goeie verhoudings met die naby aan ons.

Gebed

Here, dankie vir U genade vir mense wat U vir ons gee. Gee dat ons in liefde leef. Gee dat ons verhoudings sal regstel.

Amen

 

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Oktober 2020

Númeri 17:8.  “Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.  9Moses het toe al die kieries wat in die heiligdom was, na Israel toe uitgebring, en hulle het dit gesien, en elke leier het sy eie kierie gevat.”

Daar is nie so baie verwysings na bloeisels en blomme in die Bybel nie en ons is nou in ’n tyd van die jaar waar die bloeisels mooi uitloop.  Vanuit my kamervenster is daar so vyf Krismisrose wat begin uitloop het.  Ek verwonder my elke jaar aan hierdie tyd van die jaar wanneer die bloeisels uitstoot en dan in besonder die krismisrose.  Ek het ’n rukkie gelede met ’n Engelse persoon gesels oor krismisrose en o my aarde, daar kon die naam vir ’n krismisroos in Engels my nie byval nie.  Intussen het ek uitgevind dis Hydrangeas.

Dis nogals opvallend hoe baie struike- en boomname met mense en karaktertrekke ooreenkom. Ek weet nie of die Krismisrose se naam te doen het met die mooi blomme wat veral in die Kerstyd hier by ons sigbaar raak nie, maar Afrikaanse boom-en struikname soos die Kanniedood, Haak-en-steek, Treurwilger, Raasblaar, Deurmekaarbos en Wag-’n-bietjie en dan kry mens nog die seldsame Boom-sonder-naam, amper soos band-sonder-naam, is almal beskrywend van die plantsoort en karaktertrekke in mense.  Kom ons begin maar by onsself. Hoe sien ander mense ons? Om nie eers van ons Almagtige Skepper te praat nie.

Is ek ’n Haak-en-steek – altyd besig om ander mense met my optrede en woorde seer te maak en terselftertyd sommer soos die Raasblaar ook te klink. En tog sê die Bybel duidelik in Romeine 12:18: “As dit moontlik is sovêr dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense”, of dalk is ek soos die Deurmekaarbos, ’n ongedissiplineerde mens wat alles half doen, terwyl ek soos die Bybel sê: “Alles moet doen asof ek dit vir die Here doen”. Of net so erg, is ek soos die Wag-’n-bietjie en Treurwilger, die uitstellers en die swartgalliges wat vergeet dat Jesus na ons gekom het om blydskap en vreugde te bring en so word ek as ware ’n Boom-sonder-naam en ’n mens wat niemand besiel nie, omdat ek nie gewillig is om ’n Kannie-dood te wees wat in die moeilikste omstandighede kan oorleef nie.

Mense en bome – die moeilikheid het by ’n boom begin waar die eerste mense tot ongehoorsaamheid verlei is. Gelukkig het ons verlossing ook plaasgevind by ’n boom in die vorm van ’n houtkruis op ’n heuwel waar Jesus met sy lewe vir al ons tekortkominge betaal het.  Wie by die kruis kniel, se oë gaan heeltemal oop.

Ons lees hier in Numberi 17 van die wonderwerk van die bloeisels aan die kierie van Aaron.  Daar staan trouens dat daar nie net botsels aan die kierie was nie, maar dat daar ook bloeisels was. Dit het selfs ryp Amandels gedra. Net soos ons, ons in hierdie tyd aan die blomme en die bloeisels wat na die winter uitstoot, verwonder moet ons daarna streef dat simboliese blomme en vrugte, na die inperkingstyd,  in elkeen van ons se lewens sigbaar sal wees.  Laat ons ook op dieselfde unieke wyse waarop die Krismisrose kleur aan tuine en huise gee, kleur aan ander mense se lewens bring. Eers dan word ons Kannie-dood Christene in God se diens.

Gebed

Here, gee ons die genade om bloeisels navore te bring. Dankie, dat U die oorsprong van ons vreugde, groei en die sonskyn wat ons in mense se lewens kan wees, is. Dankie, dat ons so genadig kan word deur die krag van die gees, in ons lewens. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Oktober 2020

Psalm 37:5: “Laat jou hele lewe aan die Here oor, want as jy op Hom vertrou, sal Hy vir jou sorg”.

In die verre Ooste is daar ’n Chinese bamboesplant wat ’n seldsame saad dra.  Wanneer ’n mens die saadjie plant, gereeld natgooi en versorg dan is daar na ’n jaar nog geen teken van ontkieming nie. Ook nie na die tweede, die derde of  die vierde jaar nadat die saad geplant is nie.  Dan in die vyfde jaar na die saadjie geplant is, steek die bamboesplant sy kop bo die grond uit en groei binne ’n tydperk van  vyf weke tot ’n hoogte van 30m. Vyf jaar klink na ’n baie lang tyd vir ons haastige Wersterlinge, want dis juis ons gejaagdheid wat van ons sulke deurmekaar, verwarde mense maak.

Ek dink die inperkingstyd het vir my persoonlik ook ’n ander perspektief op die lewe gegee en my genoodsaak om ’n ander ritme,  of pas te ontwikkel, maar die gevaar is so groot dat ons weer sommer maklik in ons ou patrone sal verval.

Solank as wat ons deur die lewe jaag, soos mense wat op vlug is, sal geluk beslis buite ons bereik bly.  Geluk is nie soos ’n pragtige voël wat jy moet volg en in die hande moet kry nie. Nee, geluk sit op jou skouer as ek en jy dit maar net wil raaksien.

So jaag die mens maklik van sy kinderdae agter geluk aan en sê telkens vir homself: “As ek eers op skool is, of as ek eendag werk, of as ek getroud is, of as ek eendag kinders het, as ek hierdie of daardie plek het, of as ek maar net daardie vakansie bestemming kan bereik of dit of dat kan doen . . . en dan later, as ek eendag afgetree is . . . en so vlieg die jare verby, terwyl ons geluk na jaag.  Intussen bereik die ouderdom ons en bring pyne en skete mee tot op ’n dag wat ’n mens eensklaps besef – my lewe is verby!

In Psalm 37 het Dawid sy vinger op die antwoord gelê toe hy geskryf het: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. En dan die gedeelte waarmee ons begin het: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom. Hy sal sorg” in vers 3 tot 5.

Vertroue en geduld loop hand aan hand. Die saad wat ’n ouer saai in die opvoeding van sy kind, sluimer soms vir jare onder die grond en mens kyk rond en jy wonder, en raak ongeduldig want die saadjie wil nie ontkiem nie, jy het natgegooi en aangedra en jy het ingebou en mooi na die saadjie gekyk. En dan eendag, sonder dat jy dit verwag, of voorsien, of dink dit kan nie meer gebeur nie (jy het al moed opgegee) dan skiet dit op en dra vrug.

En die liefde is geduldig sê 1 Korintiërs 13, daarom moet ons ophou om kitsresultate en  kitsoplossings en ook kitsgeluk te soek.  Dit kom met die tyd, dit word opgebou.  Kom ons hou op met jaag en gee die Here ’n kans om Sy doel met elkeen van ons lewens te bereik, al neem dit soms vyf jaar en langer om te ontkiem soos die vreemde bamboessaad uit die Ooste.

Gebed

Here, laat ons onthou dat u tyd, nie ons tyd is nie. Dat U ’n plan en ’n doel met elkeen van ons se lewens het. Met onsself, met die van die kinders, met hulle wat vir ons lief is en aan ons gebind is. Wil U, U doel met elkeen van ons bereik en gee ons ’n perspektief van geduld en van lankmoedigheid. Help ons om die groter prentjie, U prentjie te sien. Amen.

 

1 2 5