Bremer – oor 36 jaar en meer

Stellenberger kuier by Bremer en gesels oor die dinge wat hy na ’n loopbaan van 41 jaar as ’n gemeenteleraar onthou en sal koester.   Ons vra ’n paar vrae en hy antwoord kripties, soos ons hom ken.

Dis eintlik ’n onbegonne taak om 41 jaar diens op te som of saam te vat, maar indien jy ’n paar dinge moet noem wat jou altyd van die 36 jaar in Stellenberg sal bybly – wat sal dit wees?  Nuwe insigte, verandering  – geleenthede.  Sterwensoomblikke, verlies  –  geleenthede.  Samewerking, buigsaamheid  –  geleenthede.

Jy is al as ’n eksentrieke persoonlikheid beskryf.  Hoe dink jy het jy die reputasie in die gemeente bekom? Dis ’n mite.  Mense wat my goed ken, weet ek is buitengewoon gewoon.

Watter periode in die kerkjaar was vir jou die lekkerste en waarna jy met heimwee sal terugdink? Lydens- en Paastyd.

Predikante leef saam met lidmate en raak op ’n baie intieme vlak by mense se lewens betrokke.  Watter aspek van dié gedeelte van jou werk was vir jou positief en sal jy altyd onthou? Lyding saam met mense wat ly.  Daar is weinig, of dalk moet ek eerder sê géén verandering sonder lyding nie.  Ook: humor in alle omstandighede, lag laat ’n mens weer asemhaal.

Jy en Erna het vier dogters wat almal nou volwassenes is.  Dink jy dit was by tye vir hulle moeilik om as pastoriekinders groot te word? Ja, die afwesige pa.  Ek is regtig jammer daaroor.  Ook teenoor Erna.

Spiritualiteit is ’n leefwyse en dikwels ook ’n lewensreis.  Wie/wat het die grootste invloed op jou spirituele vorming gehad?  Die Bybel, bron vir nadenke en leefwyse, die interpretasie daarvan in die lig van die geskiedenis, filosofie, wetenskap, sielkunde.  En in hierdie proses die groot drie:  Taal (die woorde, gedigte, boeke),  Musiek (die ritme, tekstuur, skoonheid), Stilte (die niks, die nie, die nou).

Wat sou jy graag vir jou kleinkinders oor die kerk en ’n lewe as ’n gelowige wou leer?  Om lief te hê soos Christus dit vir ons geleer het.

Jy het ’n besondere aanleg vir syfers – het jy ooit ’n loopbaan in syfers oorweeg en wat het jou destyds gemotiveer om teologie te studeer? Ja, beslis, enige beroep met syfers, somme, stelsels.  Ek het nooit oorweeg om ’n predikant te word nie.  Aan die ander kant, taal het my nog altyd gefassineer, later wou ek advokaat word, was ingeskryf by die Universiteit Stellenbosch in die regte.  Ek dink dit was ’n meisie wat my van besluit laat verander het.

In dieselfde trant as die vorige vraag – indien jy weer kon kies, sou jy weer ’n loopbaan as gemeenteleraar kies? Mens kan nie weer kies nie, dis nie ’n legitieme vraag nie.  (Miskien, dalk, moontlik, wie sal weet . . . ek dink nie so nie.)

Jy is ’n groot liefhebber van musiek.  Jy was ook lank by die Tygerberg Kinderkoor betrokke en by die meditatiewe dienste het lidmate kennis gemaak met jou breë kennis en versameling van musiek.  Wie is jou gunstelingkomponis en hoekom?  Klassiek/Barok:  Johann Sebastian Bach, sy werk is onopgesmuk, maar intellektueel en stimulerend.  Kontemporêr religieus:  Arvo Pärt, sy werk is minimalisties en tegelyk mistiek van (toon)aard.

Lidmate weet dalk nie dat jy ’n kranige verwer, tuinmaker en nutsman is nie.  Beplan jy heelwat projekte vir jou aftrede by julle nuwe tuiste in Barrydale? Ja, dis ’n historiese huisie en die restourasie sal my lank besig hou.  Ek droom oor ’n groentetuin en hoenders.

Waarna sien jy uit – gaan jy tyd maak vir jou stokperdjies soos voëls kyk?  Dit voel nou of ons nie genoeg tyd gaan hê vir niksdoen nie – dís een van my gunstelingtydverdrywe!  Ja, ek gaan kyk en kyk en dink en dink . . . boeke, sterre, klippe, mense, voëls en blomme ook (Matteus 6: 25-34).

Voel jy soms effe beangs oor die aftrede, of is dit net ’n positiewe vooruitsig?  Dis ’n nuwe lewe.  Ek hoop om as mens nog baie te verander . . . dit kan tog net positief wees?