Beroep

Ds.  René Potgieter, tans leraar van die NG Kerk Gamkavallei in Beaufort-Wes is op 23 Mei na die gemeente beroep.  René is getroud met Dries en hulle het twee seuns, Jaden en Joshua.  Sy het die beroep aanvaar en ons hoop om haar op 29 Julie in die gemeente te bevesting.

Artikel in Stellenberger Junie 2018

’n Nuwe leraar is beroep

Ds. René Potgieter is na Stellenberg beroep en het die beroep op 7 Junie aanvaar.  Ons is opgewonde om haar by die gemeente te verwelkom en Stellenberger het solank voorbrand gemaak deur haar van nader te leer ken.

René is tans leraar by die NG Kerk Gamkavallei, Beaufort-Wes.  Sy vertel dat sy gebore is in Beaufort-Wes en dus ’n baie lang verbintenis met die dorp het.  “Na matriek is ek Bloemfontein toe om te studeer en in 2006 is ons as ’n gesin weer terug na Beaufort-Wes, sodat ek my gemeentejaar as deel van my teologiese opleiding kon voltooi. Daarna is ek na die NG Kerk Gamkavallei in Beaufort-Wes beroep, waar ons die afgelope 12 jaar gewoon het.

Die NG Kerk Gamkavallei is maar ’n klein gemeente met  omtrent 200 lidmate. Daar is drie NG gemeentes in Beaufort-Wes en my gemeente is geseënd met ’n baie aktiewe jeuggroep, ’n groot kinderkransgroep (KIX) en sy eie skooltjie. Die gemeente streef daarna om ’n verskil in mense se lewens te maak.  Heelwat van ons lidmate kry veral finansieel baie swaar.”

Van Beaufort-Wes sê René, gaan sy die plaas tussen die pragtige Karookoppe en die voorreg om tussen die bossies te kan stap, die meeste mis.  “En sekerlik my plaasdiere wat varke, donkies, ponies, kwakereende en perde insluit.”

Volgens René is haar gesin baie opgewonde oor die verhuising na die Kaap.  Hulle wou nog altyd graag in die Kaap woon, veral omdat die kinders in hulle hoërskooljare na ’n skool, ver van die huis af, sou moes gaan.  Die verhuising beteken minstens dat hulle as gesin nader aan mekaar gaan wees.

“My twee seuns is 13 en 11 jaar oud en verskil soos dag en nag van mekaar.  Die oudste, Jaden, speel rugby en krieket en hou daarvan om enige toestel uitmekaar te haal en weer inmekaar te sit.  Hy beoog om volgende jaar sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Drostdy in Worcester te begin,” sê René.

Joshua, die jongste, is lief vir ballroom-dans, musiek en drama. Hy is van jongs af die akteur in die gesin en tokkel graag op die klavier.

 “My man, Dries, het ’n wonderlike gawe van die Here ontvang om met mense te werk. Hy sal waar moontlik altyd mense help, al is dit dikwels ten koste van homself.  Hy is opgelei in rekeningkunde, maar was al ’n onderwyser, rekenmeester en is nou ’n gasteplaasbestuurder.  Dries sal tot die einde van die jaar voortgaan om die gasteplaas te bestuur en ons bid en vertrou dat hy weer ’n soortgelyke geleentheid in die Kaap sal ontvang.  Intussen is ek baie dankbaar dat hy bereid is om te gaan waarheen die Here my roep.”

René het al wye draaie in haar loopbaan gemaak.  Sy was voorheen dosent by die Vista Universiteit in Welkom, asook werksaam by die Kaapland se moderatuur.

Sy sê dat ten spyte van alles wat sy al in haar beroepslewe gedoen het, lê  haar passie steeds by die bediening van ’n gemeente.  “Om mense op hulle geestelike reis saam met die Here te begelei, maak my die gelukkigste.”  Binne die bediening beskryf sy haar spesifieke passie en gawes as: Woordbediening, lofprysing en pastoraat.  “Ek geniet dit om God se Woord saam met mense te bestudeer.  Daarby lê lofprysing en aanbidding deur musiek my na aan die hart, asook om mense deur seer en swaarkry na heelwording te begelei.”

Vir ’n ma met twee tienerseuns is persoonlike stiltetyd waarskynlik ’n uitdaging, maar René verduidelik dat sy soggens vroeg opstaan en wanneer die hele huis nog slaap, die tyd gebruik om stil te word by die Here. “Dit voel vir my dan is my gedagtes nog rustig en kan ek my saam met die Here voorberei vir die dag wat voorlê,” sê sy.   “In my vryetyd is ek lief vir lees, stap in die natuur en speel graag klavier.”  As gesin is die Potgieters groot kampeer-entoesiaste.  “Ons boswa word gereeld gelaai en dan word die ooppad sonder selfone, skootrekenaars en TV’s aangepak.”

Stellenberg-gemeente se uitreikspanne het René die afgelope twee jaar as iemand leer ken wat graag ’n verskil in die gemeenskap waar sy bedien, wil maak. René verduidelik dat sy van mening is dat die kerk ’n beduidende rol moet speel in die opheffing van arm gemeenskappe in Suid-Afrika.

“Ek sien die kerk se rol beslis nie net na binne sodat ons gemaklik geestelik kan groei en in daardie ruimte tevrede kan wees nie.  Ons groot taak is juis daar op die stofpad – ons sien dit tog duidelik in Jesus se bediening. As kerk moet ons uitgaan na mense, vir hulle gaan lief wees, gaan omgee en gaan ophelp, maar om dit te doen moet ons mekaar as die kerkfamilie van Christus versterk en in die geloof ondersteun,” sê René.