Nuus en Aktuele Sake

Brug-bou in ’n diverse land

deur: *Dr. Braam Hanekom

Gepubliseer op 28 Mei 2019 in Netwerk 24

Onlangs ontvang ek `n uitnodiging om `n Iftar-aandete by `n moskee hier in die Kaap by te woon. Dit is die ete wat gehou word tydens die verbreking van die vas in die maand Ramadan. Dit is dan die gebruik om gaste en veral ook nie-Moslems na die geleentheid te nooi. Ons is baie vriendelik ontvang en kon na die gebruiklike skoene-uittrek, agter in die moskee plaasneem. Die murabbi het uit die Koran gepreek oor hoekom Moslems wel met Christene kan vriende wees. Tydens die gebede, toe mans, waarvan sommige pa’s met seuns, in rye kniel, was daar telkens gewyde stiltes, wat nie anders kon as om te ontroer nie. Na die tyd is die vas eers gebreek met dadels en water, waarna ons na die saal langsaan beweeg het vir die heerlikste en geurigste breyani. Dit het my mond laat water net by die reuk daarvan en ek het darem toe al `n middagete gehad!

Daar is veral twee redes hoekom ek die geleentheid bygewoon het. Die eerste was die besonderse ontmoetings met Moslems van diverse afkoms deur die jare. Vir iemand soos Maulana Haider, saam met wie ons pas in die verkiesing as monitor opgetree het, het jy net die hoogste respek. Dieselfde geld natuurlik ook vir mense soos Mickey Glass in die Joodse gemeenskap.

Verder is ek oortuig dat, gegewe ons konteks, ons `n verpligting het om brûe oor grense te bou, grense wat vir ons eens onoorbrugbaar gelyk het. Die gebeure in Bosnië, Noord-Ierland, Sri-Lanka, Nieu Zeeland en Nigerië is maar net enkele illustrasies van wat sou kon gebeur as geloofskonflik ons tref. Die geskiedenis wys ons dat daar dinge is wat erger is as rassekonflik. Dit is etniesekonflik en geloofskonflik. Praat jy met kollegas in bruin kerke, dan vertel hulle jou egter van jare lange geïntegreerde verhoudinge met die Moslemgemeenskap. Hulle kinders is immers met mekaar getroud en hulle moes leer om huwelikke en begrafnisse saam by te woon. Tydens die afgelope DAK-konferensie oor versoening in Afrikaans, is daarop gewys dat van die heel eerste stukkies geskrewe “Afrikaans” aan die Kaap `n stukkie vertaling uit die Koran was.

Is bogenoemde `n bedreiging vir my geloof in Jesus Christus? Glad nie. Dit laat my opnuut in verwondering staan voor die ondeurgrondelikheid van God.  En saam met Paulus (Gal. 3:10), groei die versugting om Christus al inniger te leer ken…

Suid-Afrika is in alle opsigte seker een van die mees diverse lande op die planeet. Ons vind dit in ons natuurskoon en kulturele diversiteit. `n Deel van dié ontsaglike rykdom kon ek verlede week by `n uitvoering van die Drakensberg Seunskoor in die Drakensberge beleef!  Ons het nie gekies om hier te wees en saam met wie ons hier sal wees nie. Ons kan wel kies hoe ons teenoor mekaar gaan optree.

*Dr Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis

Sinodenuus 2019

Kliek op die skakel hier onder daagliks die sinodenuus te lees:

Sinodenuus Vrydag 17 Mei 2019

Sinodenuus Donderdag 16 Mei 2019

Sinodenuus Woensdag 15 Mei 2019

Sinodenuus Dinsdag 14 Mei 2019

Sinodenuus Maandag 13 Mei 2019

Mei 2019: Godsdiensvryheid en ander menseregte

deur: Dirk Brand*

Een van die kenmerke van die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika is die Handves van Menseregte wat in die Grondwet van 1996 vervat is.  Dié handves  was bepalend in die onlangse hofbeslissing teen die NG Kerk se sinodebesluit van 2016 rakende selfdegeslagverhoudinge.

Die Handves van Menseregte sluit onder meer die reg op godsdiensvryheid in.  Hierdie reg beteken onder andere dat elke persoon die reg het om sy, of haar godsdiens te kies en dit as individu, of saam met mense wat dieselfde glo – met ander woorde binne dieselfde kerklike organisasie, of  denominasie – uit te leef. Godsdiens is enersyds ’n persoonlike saak waaroor elke individu kan besluit, maar dit is ook ’n publieke saak omdat mense se geloofsoortuigings ’n morele of waarderaamwerk vir ’n samelewing se strewe na geregtigheid verskaf.  Vir Christene lê die belangrikheid van die beskerming van menseregte daarin dat die mens na die beeld van God geskape is en God elke mens lief het.  Dit is dus ook ons plig om dit uit te leef.

Die Grondwet bepaal dat die Staat verplig is om die reg op godsdiensvryheid, net soos ander menseregte, te erken, te beskerm en bevorder en te waak teen inmenging in die uitoefening van hierdie reg.  Die Staat moet dus die ruimte skep waarbinne mense hul godsdiens vryelik kan beoefen, en dit beteken ook erkenning van die relatiewe outonomie van kerke.  Die Staat mag niemand dwing om aan bepaalde kerke te behoort of nie te behoort nie – identifisering met bepaalde geloofsoortuigings en kerke moet vrywillig wees.  Die reg op godsdiensvryheid word uitgeoefen in samehang met ander individuele regte soos vryheid van assosiasie, die reg op menswaardigheid en die reg op gelykheid.  Hierdie konsepte vorm ’n wesenlike deel van die Christelike geloof.

Howe moet waak oor die toepassing van die Handves van Menseregte, insluitende die reg op godsdiensvryheid, en moet dus ook erkenning gee aan die diversiteit van geloofsoortuigings en die bestaan van kerke waarbinne geloof uitgeleef word.  In die onderlinge verhoudings tussen ’n kerk en lidmate word godsdiensvryheid beoefen, maar alle ander menseregte bly ook van toepassing.  Dit beteken onder andere dat ’n kerk nie teen lidmate mag diskrimineer op grond van byvoorbeeld ras of geslag nie.

Kerke het ook ’n verantwoordelikheid om oor die beoefening van godsdiensvryheid en terselfdertyd ook die beskerming van die ander menseregte te waak.  Kerke moenie skroom om in die openbaar standpunt hieroor in te neem nie, veral nie waar ’n owerheid of ander instellings in die gemeenskap mense se regte misken nie.  Kerke het ook ’n profetiese rol en moet standpunt oor aktuele sake inneem en dit ook in die openbaar kan verdedig, net soos wat hulle ook hul bepaalde wêreldbeskouing vreesloos mag verkondig.

*Dirk Brand is leierouderling van Stellenberg-gemeente en verbonde aan die skool vir Publieke Leierskap by die Universiteit van Stellenbosch.

Bomaanvalle in Sri Lanka

Deur: Ds. Nelis Janse van Rensburg, Moderator van die Algemene Sinode

Skrywe op 22 April op Facebook

Die geweldadige dood van honderde mense in Siri Lanka agv fundamentalisme en haat is oneindig sleg. Ons bid vir die naasbestaandes van almal wat oorlede is. Ons bid ook vir dié wat gewond is en vir hulle geliefdes, dat die Heilige Gees self sal troos en hoop bly gee.
Die NG Kerk het ‘n lang verbintenis met die mense van Siri Lanka. Tydens die Vryheidsoorlog aan die begin van die 20ste eeu is talle boerekrygers daar in konsentrasiekampe aangehou. Ons voortgesette verhouding met die Reformed Church in Siri Lanka is ‘n lewende getuienis van ons omgee en verbintenis aan die mense van dié eiland.
Oor die laaste jare het Suid-Afrikaners veral die Siri Lankane op die krieketveld leer ken en moes ons toetsspan vroeër vanjaar teen hulle op ons eie bodem die knie buig. Vandag is vir ons en almal in ons land wat omgee vir die mense van Siri Lanka, ‘n hartseer dag.
Die wêreld is steeds ‘n onveilige plek waarin wrede fanatieke mense die grootste bedreiging is vir veiligheid en vrede. Ook fanatieke Christene neem deel aan geweld. Dit terwyl Christus die vors van vrede is, die Een wat mense liefhet, die Een wat ‘n nuwe koninkryk van vrede en geregtigheid kom vestig het, die Een wat aan ons die bediening van versoening met Hom en mekaar toevertrou het. Laat ons daarom op geen manier deelneem aan die polarisering van die wêreld en in besonder, die mense van ons land, nie. Laat ons altyd bou aan ruimtes waar mense binne hoorafstand van mekaar kan verkeer en mekaar in die oë kan kyk en mekaar as God se geliefde mense kan bly sien- ongeag die persoon se godsdienstige oortuigings of politieke drome en affiliasies of geslag of ras of seksualiteit. Die alternatief is altyd te erg om aan te dink.

 

Ander gelowe – wat verstaan ons van mekaar?

deur: ds. Marius Breytenbach

Die onlangse skokkende aanval op Moslemgelowiges in Christchurch, Nieu-Seeland, waarin 50 moskeegangers tydens hulle Vrydagaandgebede afgemaai is, het die kollig opnuut op die broeiende spanning in skynbaar veilige omgewings laat val.

’n Artikel in Maroela Media beskryf die situasie raak:  “Die finale oomblik waartydens die skieter die sneller trek, is in der waarheid maar net die laaste skakel in ’n lang ketting van negatiwiteit, agterdog, vrees en haat”.   Dit is juis hier waar ons as gelowiges ’n belangrike rol kan speel om die sogenaamde skakels, wat op rampe kan afstuur, te verbreek.  Ons houdings, asook ons gedagtes, is volgens Jakobus 3:17 veronderstel om die volgende te weerspieël:  wysheid wat van Bo ontvang word, vredeliewendheid, inskiklikheid, bedagsaamheid, medelye, onpartydigheid, opregtheid en goeie vrugte.

Die rolprent The Sultan and the Saint is gebaseer op die lang vergete verhaal van St. Franciscus van Assisi en die Moslemvors, die sultan van Egipte en hoe hulle ontmoeting in die 13de eeu, tydens die bloedige Kruistogte, ’n verrassende uitkoms tot gevolg gehad het.

Ons gaan die rolprent op Dinsdag 23 April om 19:00 in die kleinsaal vertoon en sal die vertoning in die daaropvolgende week op 30 April opvolg met ’n oop gesprek oor hoe ons ons getuienis in ’n diverse samelewing kan uitleef.

’n Volledige opsomming van die film kan ook HIER afgelaai word.

Besoek aan Beiere, Duitsland

Volg gerus die besoek van ‘n groep jongmense van die gemeente aan Beiere in Duitsland.  Hulle is vanaf 20 Maart tot 6 April 2019 in Beiere.   Nadat ons verlede jaar besoek van ’n groep Beierse jongmense ontvang het, hoop ons om deur dié besoek bande met ons Beierse-vennote te versterk.

Die rede vir die besoek is kortliks:

  • Om die tema armoede en opvoeding in Duitsland in diepte te verken, met die doel om saam te werk aan ’n holistiese benadering om armoede te verlig;
  • Om die idees vir armoede verligting in praktiese projekte om te skakel en as vennote saam daaraan te werk.

Kliek HIER om ‘n onlangse artikel oor dié rede vir die besoek in die Stellenberger te lees en volg gerus die  groep se wedervaringe in Beiere via hulle blog.  Hier is die skakel na die blog:  germanytrip2019stellenberg.wordpress.com

Besluit oor selfdegeslagverhoudings

Skrywe aan lidmate uitgegee op 15 Maart 2019 deur die kerkraad 

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het onlangs uitspraak gelewer aangaande die appèl van ’n groep lidmate in die NG Kerk oor die sinodebesluit van 2016 rakende selfdegeslagverhoudinge.  Lidmate van Stellenberg-gemeente mag wonder hoe hierdie besluit ons eie gemeente en ons standpunt oor die aangeleentheid raak.  In November 2015 het Stellenberg se kerkraad die volgende besluit,  wat ooreenstem met die Algemene Sinode se besluit van 2015, geneem en goedgekeur:

  1. Stellenberg-gemeente herbevestig die besluite van die kerkraad in 2002 en erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind hom tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.
  2. Stellenberg-gemeente verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
  3. Stellenberg herbevestig die Algemene Sinode se besluit van 2004, 2007 en 2013 oor die huwelik dat slegs verbintenisse tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.
  4. Stellenberg-gemeente gee erkenning aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening daarvoor dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
  5. Met hierdie besluit wil die kerkraad nie lidmate uitsluit wat van hierdie standpunt verskil nie. Die kerkaad is oortuig dat ons te midde van verskille steeds as gemeenskap van gelowiges, vanuit die bron van God se liefde, getrou aan mekaar en God verbind kan bly.

Tydens ’n buitengewone sitting van die Algemene Sinode in November 2016 is die 2015- standpunt rakende selfdegeslagverhoudings vervang, waarna ’n groep lidmate in die kerk daarteen appelleer het.  Die saak is na die hooggeregshof verwys.  Op 8 Maart 2019 is  uitspraak gelewer ten gunste van die appellante, wat beteken dat die 2015-besluit van die Algemene Sinode gehandhaaf word.

Tydens ’n onlangse kerkraadsvergadering is Stellenberg se standpunt van 2015 herbevestig. Ons ervaring sedert die besluit in 2015 geneem is, was dat ons te midde van verskille steeds in een gemeente in toewyding aan die Here en mekaar kan leef.  Terugskouend is dit dus enersyds vir ons verrykend om te beleef hoe mense in selfdegeslagverhoudinge in ons gemeente kon tuiskom, maar andersyds ook hoe lidmate wat onseker oor dié kwessie is en van standpunt verskil, binne die ruimte van die Here se genade deel van die gemeente gebly het.

Hoe lyk die pad vorentoe in Stellenberg-gemeente? Ons strewe is om ’n ruimte te help skep waarbinne enige persoon kan deel in al die voorregte wat ’n geloofsgemeenskap bied. Ons is bewus daarvan dat dit steeds vir diegene wat diskriminasie beleef, moeilik is en wil toenemend ’n omgewing skep waar mense met ’n alternatiewe lewensbeskouiing veilig kan voel om hulle gevoelens daaroor met ons te deel.  Die kerkraad glo dat simpatieke gesprekke – eerder as debatte – ons in die toekoms beter op ons gesamentlike geloofsonderskeidende pad kan help.

Leraars en Kerkraad

Stellenberg-gemeente

 

’n Kerk wat foute maak

deur: ds. Nelis Janse van Rensburg

Gepubliseer in Rapport 24 Maart 2019

Die verhaal van die NG Kerk met die selfdegslagkwessie kan uit verskillende hoeke vertel word. Ek stel my baie hoeke voor, maar wil vir ’n oomblik in hierdie een staan en vertel wat ek sien.

Die NG Kerk was oor die afgelope dekades op reis met die kwessie van selfdegeslagverhoudings. Ons het lidmate gehad wat getuig het dat hulle gay is en graag ten volle wil deel wees van die kerk.  Die gesprek wat gevolg het, is gevoer teen die agtergrond van eeue se aannames oor die redes waarom mense gay is, die seksuele gewoontes van gay mense, wat die Bybel oor gay gedrag sê, die verhouding van gay mense met God, die gewoontes van gay mense, die psigologie van gay mense en alle perspektiewe op gaywees. Dit was van die begin af duidelik dat die gesprek nie sommer oornag afgehandel sal word nie.

Aanvanklik was die aard van die gesprek in die kerk baie emosioneel. Mense het vertel hoe hulle vir hulle kinders wat “uitgekom” het, gesê het dat hulle tot die hel verdoem is.  Dit het hewige reaksie ontlok van mense wat God se genade anders verstaan. Tydens die NG Kerk se sinode in 2004 is ’n aantal verhale aangehoor van persone wat getref is deur die emosionele- en geloofsimplikasies van die uitsluiting van gay mense uit families en geloofsgemeenskappe. Verhale is vertel van die impak wat ’n ervaring van minderwaardigheid in die kerk op die lewe van gay persone het.

Hierna het die debat in die kerk baie sterk begin fokus op die verstaan van die Bybeltekste wat handel oor homoseksuele gedrag. Handel hierdie tekste net oor slegte seksuele gedrag van heteroseksuele- en gay mense, of gaan dit ook oor die verskynsel as sodanig? Wat was die betekenis van hierdie tekste vir die oorspronklike gemeenskappe wat dit gehoor het? Moet die Skrif nie in sy breër konteks gelees word en die insluitende genade van God verreken word nie? Deelnemers het dikwels mekaar met name soos fundamentaliste, of liefdeloses, of  mense wat nie die gesag van die Skrif aanvaar nie, benoem. AL hierdie benamings het ontstelde reaksie uit die oorde van die onderskeie sienings ontlok. Daar is in hierdie tyd deeglik besef dat gelowiges die Bybel verskillend lees. Daar was immers in die vroegste tye verskillende benaderings oor die lees van die Bybel en hierdie gesprek het dit weer op die spits gedryf. Die voorstanders van die onderskeie soorte lees van die Skrif het mekaar met alles probeer oortuig dat hulle reg is.

Tydens die 2007-sinode het sinodegangers twee interpretasies van die Skrif voor hulle gehad. Die kerk het besluit om alle gay mense welkom te laat voel in die kerk,  maar dominees is nie toegelaat om in gay verhoudings te wees nie. Die huwelik tussen een man en een vrou is gesien as die enigste plek waarbinne mense hulle seksualiteit mag uitleef. Gay lidmate het heftig hierop reageer. Hulle het getuig dat hulle nie hulle seksualiteit kan opskort nie.  Dit is ’n integrerende deel van hulle menswees. Daar was ander wat oortuig was dat gay mense hulle kan bekeer en hulle seksuele oriëntasie kan verander.

Stadig maar seker het deelnemers aan hierdie gesprekke begin agterkom dat hulle mekaar nie gaan oortuig nie. Die vraag het ontstaan of dit moontlik is om binne een kerk ruimte te maak vir verskillende standpunte oor hierdie kwessie. Die Bybel is ook hiéroor geraadpleeg. Voorbeelde uit die tyd van die Nuwe Testament soos die debat oor die eet van offervleis wat aan gode geoffer is, het ’n benadering ondersteun van ruimte maak vir meer as een standpunt. Die 2015-sinode het besluit om hierdie weg  te slaan. Die verantwoordelikheid is verskuif na gemeentes om in die lig van hulle kennis van die integriteit van gelowiges se lewens, te besluit wie in die ampte van ’n gemeente kan dien. Die huwelik as ruimte vir hetroseksuele seks is gehandhaaf, maar daar is ook ruimte gemaak vir vaste verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Hierdie besluit het groot reaksie ontlok. ’n Spesiale sinodesitting is in 2016 gehou waartydens die sinode besluit het om min of meer dieselfde standpunt in te neem as tydens die 2007-sinode. Die onderskeidingsproses van die kerk is hierna onderbreek deur ’n aansoek van 12 lidmate wat ’n hoë hof genader het met ’n aansoek om die 2016-besluit ter syde te stel. Die hof het oor die prosedures wat die kerk gevolg het op pad na die 2016-besluit, in die aansoekers se guns beslis. Die hof het egter ook reageer op die aansoekers se konstitusionele aanspraak op gelykheid en geregtigheid. Die hof het aangedui dat kerke nie in die lig van die Grondwet van die land en hulle reg op godsdiensvryheid, die reg het om na willekeur mense se menswaardigheid en gelykheid te skend nie. Die werklikheid dat die NG Kerk diep verdeeld is oor die selfdegeslagkwessie, het die hof laat dink dat die oortuiging van die kerk nie so sterk is oor hierdie kwessie dat dit die skending van mense se gelykheid en menswaardigheid regverdig nie. Ons het besluit om nie teen die hofuitspraak te appelleer nie. Die 2015-besluit van die Algemene Sinode is dus nou van krag. Die feit dat hierdie besluit nou geld, beteken dat ons op ’n nuwe ongekarteerde reis gaan waarin ons leerbaar sal bly sodat ons die beste belange van die Koninkryk sal dien. Ons het immers oor die afgelope paar jaar op besondere maniere geleer om mekaar vas te hou en mekaar se laste te dra. Ons sal dit bly doen.

Die NG Kerk se dapperheid om grondig met hierdie onderwerp te handel, moet verstaan word.  Brené Brown skryf in haar boek, Dare to Lead, oor die fisika van kwesbaarheid. If we are brave enough, often enough, we will fail. Daring is not saying I’m willing to risk failure. Daring is saying I know I will eventually fail and I’m still all in. I’ve never met a brave person who hasn’t known disappointment, failure, even heartbreak. Om ’n posisie in te neem van kwesbaarheid is nie ’n teken van swakheid nie. Brown sê ook ’n mens kan nie vertroue bou sonder om ooit kwesbaar te wees nie. Kwesbaarheid ontstaan uit ons gevoelens vir mense wat uitgesluit word en teenoor ons getuig van die seer wat dit in hulle veroorsaak. Ons het baie mense seergemaak, soms ook mekaar. Ons het foute gemaak. Sommige meen dit was in 2007 en ander dink dit was in 2015. Maar ons het nie weggekruip en die impulse van ons gevoelens en oortuigings geïgnoreer nie. Ons het die Skrif geraadpleeg. Ons het gedink en geredeneer. Ons het geluister na mekaar. Ons het geluister na die verhale van gay mense. Ons het die hoogte en diepte van die geheimenisse van God se Woord verken. Ons het hierdie gesprek gevoer, wetende dat ons onsself oneindig blootstel. Ons het geleer uit die verlede om nie met mag, en oënskynlik sonder kwesbaarheid, reëls en finale uitsprake te maak nie. Ons het in die proses vertroue ingeboet, maar ek is seker dat mense ons op die lang duur sal vertrou as ’n kerk wat voel én dink, dapper én bang is, waag én verloor, waag én wen, verleë én opgewonde is, soek én vind, soek en níé altyd vind wat ons gesoek het nie, juig én treur, feesvier én rou, weet én nie weet nie, maar bo alles vertrou op God en nie op mensgemaakte sekerhede nie. Deur alles het ons ernstig gebly oor God se Woord. Ons het opnuut ontdek dat Christus ’n nuwe mensheid van mense wat aan Hom behoort, tot stand gebring het. In hierdie mensheid word almal deur sy genade gelyk gebreek en al die ou onderskeidings verval.

Ons het nie hierdie storielyn van die kerk se reis met gay mense uitgedink of bestuur nie. Ons is nie so goed nie. Ons het net geleer dat wat met ons gebeur, gestalte gee aan ’n nuwe soort kerk wat outentiek is in sy afhanklikheid van God. Die NG Kerk is ’n baie deursigtige kerk. Almal weet hoe ons getalle beweeg, almal weet hoe ons verskil, almal weet waaroor ons praat. Ons skryf daaroor in ons eie koerant. Ons gee nie voor wat ons nie is nie. In hierdie dae, na ’n hof se beslissing teen ons, verstaan ons ons broosheid beter en plaas ons ons vertroue opnuut in God.

Ons gaan nou voort om ons gehoorsaamheid te kalibreer volgens die lewe van Christus. Ons sal voortgaan om die Woord te bedink. Ons sal voortgaan om verhoudings met alle soort mense te bou. Ons sal voortgaan om diensbaar te wees. Ons gaan voort om op grond van God se genade te probeer om nog meer insluitend te wees. Ons wil voortgaan om so in Christus te leef dat ons kan bekostig om broos te wees, te waag en foute te maak. Ons gaan in Christus se vrywillige kwesbaarheid inspirasie bly vind.  Mag die lig van Christus dan deur die krake van ons beste pogings skyn. Mag dit vir almal wat broos is, en seer en swaar het, ’n aanloklike uitnodiging word om saam met ons op reis te bly met ons intense ervarings van God se begrip, nabyheid en sorg.